August 2017
Pietman Botha, SA Graan/Grain medewerker
Die feit dat Roos Boerdery oor jare op produksie bly fokus het, het hulle die 2015/2016-wenners vir die DuPont Pioneer Weeg en Wen-sojaboonbesproeiings-opbrengskompetisie gemaak. Hierdie boerdery word in die Wonderfontein-area in die Belfast-distrik bedryf. Roos Boerdery het al groot en diep spore in die landbousektor getrap. Gerrit Roos is alombekend as daar oor graan – en veral sojaboon- en mielienavorsing – gepraat word.
Verskeie instansies doen al vir jare op die plaas proewe om nuwe middels, kultivars en verbouingspraktyke na te vors en te toets. Die boerdery gebruik hierdie inligting om hul produksie te verhoog, koste te verlaag en uiteindelik winsgewendheid te verhoog. Nie net word die opbrengste verhoog nie, maar die risiko van veral sojaboonverbouing word ook aangespreek.
Om te bly fokus op die gewas se produksie en metodes te implementeer om die produksie te verhoog, het die boerdery beslis gehelp om die hoogste besproeiingsopbrengs van 5,23 t/ha in die DuPont Pioneer Weeg en Wen-opbrengskompetisie vir die 2015/2016 produksiejaar te behaal.
Die prestasie het ‘n redelike lang aanloop. Roos het jare terug al die aspekte wat produksie benadeel geïdentifiseer en wend konstruktiewe planne aan om die probleme aan te spreek. Dit is ‘n voortdurende proses.
Wisselbou
Wisselbou is ‘n integrale deel van hierdie boerdery. Mielies word na twee jaar se produksie met sojabone afgewissel en sodoende word beide die gewasse se opbrengste verhoog. Die produksie van hawer word ook in die wisselbouprogram ingespan om veral sekere grondgedraagde siektes te verminder.
Grondgesondheid, -suurheidsbestuur en -vrugbaarheidsbestuur is van die aspekte wat aangewend word om die droëlandgewasproduksie te verhoog. Oor tyd kon daar met sukses bewys word dat die bestuur van swamsiektes op die plaas ekonomies geregverdig is. Tans word ‘n proaktiewe program ingespan om die effek van swamme op beide die mielies en sojabone te minimaliseer.
Swamsiektes
By die besproeiingsojabone het veral swamsiektes die opbrengste erg benadeel. Dié probleem kon hier met sukses verminder word deur onder andere drupbesproeiing in te span. Druppers word ondergronds geïnstalleer en op dié manier word die water vir die plant op die regte plek geplaas.
Roos sê dat dit vir hom wil blyk asof veral die effek van Sclerotinia met die vermindering van humiditeit verminder is. Die drupbesproeiing bespaar water, maar is bestuursintensief. Die water moet gefiltreer word en die druppers moet gereeld skoongemaak word.
Op die plaas het veral die inspan van ‘n goeie voorkomende swamdoderbestuursprogram die opbrengste met tot ongeveer 15% verhoog. Dit is interessant dat die prys van die swamdoders nie noodwendig in hul werking weerspieël word nie. Elke produsent moet self toets wat op sy plaas die beste resultate lewer.
Bemesting
Presisieboerdery en presisiebemestingaanbevelings het ook ‘n groot bydrae tot hoër opbrengste gelewer. Die langtermyntoediening van kalk op die regte plekke en die regte hoeveelheid en die regte tipe het veroorsaak dat die ondergrondse suurheid van die lande nie ‘n probleem is nie en die plante se wortels hierdie gedeelte van die grond ook kan benut.
Die metode van bemestingtoediening en die tyd van toediening het ook ‘n effek gehad om die plante se produksie te verhoog. Roos sê dit wil voorkom of die sojabone beter vaar waar die bemesting voor die tyd uitgestrooi word.
Sommige bemesting word uitgestrooi, ander word met planters in verskillende dieptes in die grond ver en nader aan die pit geplaas – wat help dat die plantwortels regdeur die sones en regdeur die jaar bemestingstowwe kan bekom. Wees net versigtig om kunsmis te naby aan die pit te plaas – dit is moeilikheid soek.
Bemesting van grond om die produksiepotensiaal van die hulpbron te bereik, dra by om die produksie per hektaar te verhoog, maar ook om die wins per hektaar te verhoog. Gedeeltes in ‘n land wat die opbrengs verlaag omdat die hulpbron van só ‘n aard is, word nou hiervolgens bestuur.
Die gebruik van spoorminerale en blaarvoeding speel ook ‘n rol. Roos noem dat die aanwending van veral koper voor-blom dalk ‘n groter bydrae lewer as wat verwag word. Hierdie bespuiting help klaarblyklik om die blommetjies beter te beskerm en die bestuiwingspersentasie te verhoog.
Die bestuur van veral Sclerotinia wat opbrengste erg benadeel, is ook op die plaas ‘n uiters belangrike fokusarea. Deur navorsing te doen, met kenners te praat en self proewe te doen, is bevind dat dit sin maak om hul langgroeier-sojaboonkultivars vroeër te plant. Die opbrengste wat deur hierdie stap verhoog word, regverdig die inbring van nog ‘n planter om die kultivars vroeër geplant te kry.
Roos het nog ‘n geweldig-interessante waarneming gemaak. Deur vir die sojabone ekstra stikstof tydens blom te verskaf, wil dit voorkom of die opbrengste van die sojabone dramaties verhoog kon word. Die hoeveelheid blommetjies in die blompakkie wat bestuif geraak het en peule geword het, is van ongeveerdrie per pakkie tot vyf per pakkie verhoog.
Hierdie ekstra peule en pitte het die opbrengste dramaties verhoog. Die doelwit behoort te wees om soveel as moontlik van die blommetjies wat blom, bestuif te kry sodat dit in pitte omgesit word.
Stroop
Dit dra geensins by as ekstra pitte geproduseer word en nie in die stropertenk beland nie. Om die stroopbaarheidvan die sojabone te verhoog, rol hy die sojaboonlande na plant. Dit lei daartoe dat die stropers laer kan stroop en sodoende sal meer van die pitte in die stropertenk opeindig.
Dit wil boonop vir hom voorkom of hierdie stap ook slytasie op die stropertafels beduidend verminder. Minder grond kom in die messe en die tafels hou net langer.
Onkruidbeheer
Die selektiewe gebruik van Roundup-onkruiddoder is ook belangrik. “Probeer om die middel se effek op die groeiende plant te minimaliseer. Spuit die onkruid dood voor-plant en beheer die onkruid dan eers weer as die sojaboonplante lekker sterk is,” aldus Roos.
“Pasop om onkruiddoders tydens blom toe te dien. Dit kan die blompakkies benadeel of die jong peule laat afspeen. Tydens blom is die plante op hul gevoeligste en dan moet jy alles in jou vermoë doen om die jong peule te beskerm.”
Besproeiing
Vir besproeiing is dit krities om te sorg dat die plante gedurende blom en daarna genoeg water het. Die pitte in die peule kan deur voldoende vog swaarder gemaak word, maar kan nie na blom meer gemaak word nie. Doen daarom alles in jou vermoë om soveel as moontlik blommetjies op die plant te laat bestuif en te laat oorleef.
Kultivarkeuse
Roos glo ook dat daar altyd ‘n pakket van kultivars op ‘n plaas geplant moet word. Daarom word daar ‘n klompie kultivars van die meeste saadmaatskappye geplant.
Hierdie stap help ook om die plantvenster en veral die stroopvenster van die sojaboonvertakking te verleng.
“Dit help jou niks as jy ‘n klomp sojabone per hektaar kan produseer, maar die stropers is te laat om dit in te samel nie,” sê hy.
Hy skroom ook nie om sy sojabone teen ‘n hoë plantestand te plant nie. Die omgewing se klimaat en reënval maak dit moontlik dat sommige kultivars teen ongeveer 410 000 plante per hektaar geplant kan word. Maak by jou saadmaatskappy seker dat die kultivar teen die regte plantestand geplant word.
Beplanning
Goeie beplanning is van kardinale belang. Die regte mikpunte moet gestel word en daar moet aktief gestreef word om dit te bereik. Die rol van kundiges in die bedryf moet nie onderskat word nie.
Die regte bemestings- en onkruiddoderaanbevelings is van kardinale belang. Die bemarking van die produkte is, net soos produksie, uiters belangrik.
“Of jy die graan opberg, dit vooraf deur voorseisoenkontrakte bemark of die prys verskans, is nie ter sake nie. Vind net ‘n manier om jou graan teen ‘n bogemiddelde prys te bemark. Dit sal verseker jou plaas se winsgewendheid verhoog,” beveel hy aan.
“Fokus op bestuur: Aksies moet tydig, korrek en presies uitgevoer word,” beduie Roos. Hy is gelukkig om goeie plaaswerkers en seuns te hê wat hul kant in die boerdery bring, ‘n pa wat hom ondersteun en van raad voorsien en ‘n wonderlike vrou wat hom in alle opsigte bystaan.
“Sonder hulle en die genade van die Here is alles verlore en ‘n gejaag na wind,” sluit hy af.
Vir meer inligting kan Gerrit Roos gekontak word by Glroos@gmail.com.
Publication: August 2017
Section: Focus on