May 2017
ANCHE SCHEPERS, landbou-ekonoom: NWK
‘n Studie deur die Universiteit van die Vrystaat om die ekonomiese verliese as gevolg van predasie in die wildbedryf te bepaal, is in 2016 voltooi. Die studie is in Limpopo, Noordwes Provinsie en Vrystaat gedoen, maar fokus is geplaas op eersgemelde.
Inligting is ingesamel deur middel van telefoniese onderhoude. 201, 61 en 64 vraelyste is onderskeidelik in Limpopo, die Noordwes Provinsie en die Vrystaat voltooi.
Die resultate van die studie weerspieël die bepaling van wildgetalle, predasieverliese, betekenis vir die wildprodusent en die faktore wat die verskillende spesies beïnvloed.
Dit is alombekend dat daar groot variasie tussen wildspesies is, daarom is wild in drie groepe verdeel, te wete grootwildspesies, kleinwildspesies en skaars/kleurvariant-wildspesies. Die vyf spesies wat die meeste verliese getoon het as gevolg van predasie in elke groep, is gebruik om die ekonomiese verliese te bereken.
Bepaling van wildgetalle
Wildprodusente kon een van vier metodes kies van hoe wild op hul wildplaas getel word, naamlik fisies tel, randwaarde (verandering in waarde van verkope), oogskattings en die hoeveelheid wild beskikbaar om te jag.
Oogskatting is deur die meerderheid produsente in al drie provinsies gekies. Fisies tel van wild is deur bykans ‘n derde van wild produsente in Limpopo gekies, terwyl die hoeveelheid wildprodusente in die Noordwes Provinsie en die Vrystaat wat fisies tel, weglaatbaar klein is.
Dit is moeilik om die direkte koste van verliese te bereken, aangesien die pryse van wild baie tussen spesies varieer, asook tussen telers van dieselfde spesies. Hierdie variasies kan lei tot oor- of onderberamings.
Tabel 1 verskaf ‘n kort opsomming van vyf spesies in die drie provinsies. Inligting oor die persentasie wildprodusente wat die spesifieke spesie besit, die gemiddelde getal diere per jaar wat ʼn wildprodusent verloor as gevolg van predasie en die gemiddelde verliese per hektaar, word verskaf.
Beraming van predasieverliese
Soos uit Tabel 1 afgelei kan word, varieer die gemiddelde hoeveelheid wild verloor per hektaar tussen die provinsies.
Die direkte koste kan aan hoofsaaklik luiperd, rooikat en rooijakkals toegeskryf word. Die indirekte koste wat geassosieer word met die bestuur van predasie, is ook per hektaar bereken. Indirekte koste van predasiebestuur is bereken deur die totale koste te deel deur die hoeveelheid hektaar van produsente wat predasie bestuur.
Die bedrag van R26,15 is vir Limpopo bereken. Hierdie bedrag sluit beide nie-dodelike en dodelike metodes in. 34% van wildprodusente in Limpopo het aangetoon dat hulle geen metode van predasiebestuur toepas nie.
Betekenis vir die wildprodusent
As ‘n wildplaas in Limpopo 5 000 ha is en ‘n wildprodusent besit byvoorbeeld njalas, kan hy verwag om 0,004 diere/ha te verloor. Met ander woorde op hierdie plaas kan ‘n wildprodusent soveel soos 20 njalas verloor (5 000 ha x 0,004).
Indien aanvaar word dat die gemiddelde basislynprys vir njalas in 2014 R28 443 per bok was, sal die direkte koste vir die scenario R568 860 (20 x R28 443) wees. Die indirekte koste sal dus R130 750/ jaar wees en die totale koste as gevolg van predasie sal dan gelyk wees aan R699 610/jaar.
Direkte verliese en indirekte koste word per hektaar verskaf sodat die wildprodusent sy/haar eie berekeninge kan maak rakende die verliese wat hy/sy op hul eie wildplaas kan verwag.
Faktore wat predasie beïnvloed
Voorts het die studie bevind dat die faktore wat predasie tussen die drie groepe, asook tussen die onderskeie provinsies beïnvloed, verskil. Daarom is dit belangrik dat bestuur aangepas word na aanleiding van die spesie waarmee geboer word.
Daar is gevind dat die faktore wat die voorkoms van predasie (of predasie plaasvind of nie) beïnvloed en die faktore wat die vlak van predasie (hoeveelheid) beïnvloed, verskil. Die voorkoms en vlak van predasie word vervolgens bespreek.
Predasie op grootwildspesies
Topografie speel ‘n belangrike rol in die voorkoms van predasie. Wildplase geleë in bergagtige en/of bosagtige dele in Limpopo het ‘n hoër kans om predasie te ervaar. Die teenwoordigheid van jagluiperds en karkasse as ‘n indikasie van predasie, lei ook tot ʼn hoër voorkoms van predasie.
Geen beheermaatreëls, nie-dodelik of dodelik, het ‘n noemens waardige invloed op die voorkoms van predasie nie. ‘n Rede hiervoor kan wees dat die metode wat wel ‘n effek gehad het, nie ingesluit was in die model nie.
Die resultate toon dat manlike wildprodusente laer vlakke van predasie ervaar, terwyl wildprodusente tussen die ouderdom van 36 en 45 hoër vlakke van predasie ervaar. As die wildprodusent rooijakkalse as ‘n prioriteitsroofdier beskou, verhoog die vlak van predasie. As karkasse ‘n aanduider van predasie is, sal die vlak van predasie daal.
‘n Verduideliking hiervoor kan wees dat, sodra ‘n wildprodusent karkasse in die veld sien hy/sy die karkas sal verwyder sodat dit nie as aas dien nie. Karkasse in die veld gee aan die wildprodusent ook ‘n idee van watter roofdier verantwoordelik daarvoor is en die roofdier kan dus meer aandag geniet.
Nie-dodelike metodes soos elektriese heinings lei tot ‘n hoër vlak van predasie. ‘n Moontlike rede hiervoor is dat roofdiere reeds binne die omheinde kamp is. Dodelike metodes soos eienaars wat self rooijakkalse en rooikatte jag, verhoog ook die vlak van predasie op grootwildspesies. Die uitroeiing van die roofdiere skep geleentheid vir ander roofdiere om die wildplaas binne te dring.
Predasie op kleinwildspesies
Die voorkoms van predasie is hoër as die wildprodusent jagluiperds en rooijakkalse as prioriteitsroofdiere beskou. Die voorkoms van predasie verhoog ook as wildprodusente nie permanent op die wildplaas woon nie.
Vanghokke is die enigste nie-dodelike metode wat ‘n noemenswaardige effek het. ‘n Moontlike rede hiervoor is dat roofdiere in vanghokke ander roofdiere lok.
Soos by die voorkoms van predasie, beïnvloed vanghokke die vlak van predasie positief. Ander nie-dodelike metodes wat ʼn noemenswaardige invloed het, is ligte en/of radio’s en kameras. Deur hierdie metodes te gebruik, kan die vlak van predasie daal.
Geen dodelike metodes het ‘n betekenisvolle invloed op die vlak van predasie gehad nie.
Skaars/kleurvariant-wildspesies
Wildprodusente tussen die ouderdom van 56 en 65 ervaar ‘n hoër voorkoms van predasie. As die wildprodusent wildehonde as prioriprioriteitsroofdiere beskou, styg die voorkoms van predasie, terwyl rooijakkalse as prioriteitsroofdier ‘n laer voorkoms van predasie tot gevolg het.
‘n Rede hiervoor kan wees dat wildehonde bekend is daarvoor dat hul rooijakkalse doodmaak, met die gevolg dat ‘n verhoogde voorkoms van wildehonde met ‘n laer voorkoms van rooijakkalse korreleer. As rooijakkalse in vanghokke gevang word, sal dit lei tot ‘n styging in die voorkoms van predasie, omrede rooijakkalse ander roofdiere sal lok.
As die wildprodusent self predasie beheer, sal die voorkoms daarvan daal, maar die vlak van predasie sal styg as rooikatte deur die eienaar gejag word. ‘n Moontlike rede hiervoor kan wees dat rooikatte met vanghokke gevang moet word eerder as om geskiet te word.
Ten slotte
Hierdie studie gee die wildprodusent die geleentheid om sy/haar eie verliese te bereken en ook om predasie volgens die spesies waarmee op die wildplaas geboer word, te bestuur.
Publication: May 2017
Section: Focus on