May 2017

SIMONE NIEUWOUDT, junior lektor: Departement landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

In Suid-Afrika moet die fokus daarop geplaas word om binne die verskeie onderafdelings van die landbousektor te integreer, aangesien daar ‘n groot verskeidenheid van geleenthede vir ekonomiese groei bestaan. Dit kan aanleiding gee tot innoverende maniere om beleggings binne die landbousektor te vergroot.

In 2016 is daar ‘n studie aan die Universiteit van die Vrystaat in samewerking met drs Janus Henning en Henry Jordaan voltooi, wat onder andere gekyk het na die kredietmodelle wat finansiële instansies gebruik, sowel as ander faktore wat tot die kredietwaardigheid van ‘n landbouprodusent kan bydra.

Een van die faktore was entrepreneuriese eienskappe. Die hoofdoel van die studie was om te bepaal of belegging in die verbetering van entrepreneuriese eienskappe sal lei tot verbeterde finansiële prestasie.

‘n Boerdery se prestasie kan verbeter deur sekere finansiële prestasiemaatstawwe en die faktore wat die maatstawwe beïnvloed, in ag te neem. Om prestasie te bevorder, moet produsente fokus op die minimalisering van koste, toename in besigheidsgroei en die verbetering van die onderneming se winsgewendheid.

Al die faktore kan deur entrepreneuriese eienskappe aangespreek word, naamlik besluitnemingsvaardighede, geleentheidsoekende optrede, probleemoplossingsvaardighede en die produsente se bekwaamheid om te kan netwerk. Al die vaardighede en meer, se verhouding met die finansiële prestasie van die boerdery, is ondersoek.

Deur die hulp van ‘n finansiële instansie, is daar regoor Suid-Afrika finansiële inligting sowel as antwoorde op ‘n entrepreneuriese vraelys ingesamel. Die inligting is as hoogs konfidensieel beskou en geen name/persoonlike besonderhede is aan enige van die resultate gekoppel nie.

Bepaling van entrepreneurseienskappe
Daar is nie een spesifieke definisie vir entrepreneurskap waaroor die akademici saamstem nie. Sekere terme word egter in die meerderheid van die definisies gebruik, naamlik innovering, lokus van beheer, geleentheidsoekend en die risiko nemende ingesteldheid van die produsent, waaroor hulle saamstem.

Daarom word aanvaar dat ‘n produsent wat die risiko neem om nuwe geleenthede aan te gryp en wat op ‘n innoverende manier die geleenthede identifiseer en aanpak of benader, as entrepreneuries beskou word.

Die entrepreneurseienskappe van ‘n individu kan op verskillende maniere gemeet word. In die laaste dekade of so was entrepreneuriese vaardighede die mees populêre metode onder die akademici. Die rede hiervoor is dat die metode en benadering tot vaardighede die volgende insluit: Eienskappe, kenmerke, vermoëns en vaardighede as onderliggende dimensies.

Entrepreneuriese vaardighede berus op die benadering dat die gedrag en besluite van ‘n individu geneig is om hom of haar meer entrepreneuries in sy/haar aktiwiteite te maak.

Die instrument wat gebruik is om die entrepreneurseienskappe te bepaal, het die vaardighede in Tabel 1 in die studiegroep geïdentifiseer. Die vaardighede lewer elk ‘n bydrae tot spesifieke entrepreneurseienskappe wat belangrik is om sukses in die finansiële bestuur van die boerdery te bereik.

Bepaling van finansiële prestasie
Die prestasie van enige besigheid verwys in effek na of die besigheid suksesvol is binne die mark waarin dit funksioneer. Die onderneming se finansiële prestasie bepaal hoe lewensvatbaar ‘n onderneming is. Akkurate rekordhouding van finansiële state is nodig om die prestasie te meet (die state is ten alle tye konfidensieel gehou).

Boerdery-finansiële riglyne verskaf verskeie metodes waarop die boerdery se finansiële prestasie gemeet kan word. In die algemeen word vyf maatstawwe gebruik, naamlik likiditeit, solvabiliteit, winsgewendheid, terugbetalingsvermoë en finansiële doel treffendheid.

In die studie is winsgewendheid uitgelaat, omdat groter plase se geldeenhede geneig is om groter te wees as dié van kleiner plase. Daarom is net verhoudings gebruik om die finansiële prestasie van die studiegroep te bepaal.

Die finansiële verhoudings vir elke boerdery wat aan die studie deelgeneem het, is bepaal en verwerk na ‘n algemene bedryfstelseldoeltreffendheidsmaatstaf. Dit is een waarde wat bepaal hoe doeltreffend die boerderye is wat hul finansiële prestasie betref wanneer hul met mekaar vergelyk word. Die rede daarvoor is om die vergelyking van die verskillende entrepreneurseienskappe te vergemaklik.

Verhouding tussen entrepreneurseienskappe en finansiële prestasie
In die oorspronklike bepaling van die verhouding van entrepreneurs eienskappe met finansiële prestasie is die bedryfstelsel doeltreffendheid (finansiële verhoudings) as een maatstaf gemeet en in ‘n entrepreneuriese indeks (wat al die entrepreneursvaardighede as waarde meet) met mekaar vergelyk. Daar is gevind dat die entrepreneuriese indeks ‘n klein positiewe effek op die finansiële prestasie van die onderneming het.

Daar is verdere insig in die belangrikheid van entrepreneuriese eienskappe op finansiële prestasie verkry toe die individuele vaardighede met die finansiële prestasie vergelyk is.

Dit beteken dat as daar op een spesifieke eienskap/vaardigheid waarin in die produsent dalk swakker presteer belê word, sal dit ʼn groter positiewe effek op die finansiële prestasie van die boerdery hê – eerder as om op die algehele finansiële prestasie te fokus.

Die ondersteuningsvaardighede (sterk/swak punte van die bestuurder/ produsent self) het die grootste effek op die finansiële prestasie gehad. Daarom: As die produsent sy kennis oor sy onderneming en selfdoeltreffendheid verbeter, sal dit sy finansiële prestasie verhoog.

Belangrikheid vir die produsent
As produsente op hul individuele entrepreneursvaardighede konsentreer, sal hulle in staat wees om te identifiseer waar hulle tekort skiet en dan die nodige tyd daarin belê om die vaardighede te ontwikkel. Die bestuur van die boerdery vereis dat ‘n produsent in al die vaardighede wat geïdentifiseer is, bevoeg moet wees. Dit lê klem op die feit dat die produsent op individuele vaardighede moet konsentreer sodat die nodige tyd en energie op die regte vaardighede (die waarin die produsent tekort skiet) gefokus word.

Die algemene gevolgtrekking is dat die entrepreneuriese vaardighede van ‘n produsent ‘n invloed op die finansiële prestasie van die boerdery het. Daarom sal produsente wat aktief besig is om hul entrepreneurseienskappe/vaardighede te verbeter, ‘n verbetering in hul finansiële prestasie sien.

Die belegging in die opleiding van ‘n produsent op entrepreneuriese vlak sal lei tot groter/beter sukses in boerdery.

Ten slotte
Die studie bevestig die belangrikheid van investering in die persoonlike groei en ontwikkeling van die produsent. Die belegging in die ontwikkeling van produsente se entrepreneuriese vaardighede kan derhalwe lei tot ‘n toename in finansiële prestasie.

Hierdie inligting is gebaseer op navorsing wat deels deur die National Research Foundation of South Africa (NRF) ondersteun is vir die subsidie, Unique Grant nr. 94132. Enige opinie, bevinding, gevolgtrekking of aanbeveling wat hierin gemaak is, is dié van die skrywer(s) en die NRF aanvaar geen verantwoordelikheid daarvoor nie.

Publication: May 2017

Section: Focus on