Heffings bevorder teelprogramme vir selfbestuifde gewasse

968

March 2017

AWIE COETZEE, SA Cultivar and Technology Agency NPC

Rolspelers in die koring-, gars- en sojaboonbedryf het besef dat telers en saadmaatskappye wat saad van selfbestuifde gewasse verkoop, nie in alle opsigte ‘n billike opbrengs op belegging ontvang vir saad wat na die eerste jaar van kommersiële aanplantings geplant word nie.

In ‘n poging om aan die betrokkenes ‘n beter bedeling te voorsien en hul sodoende te motiveer tot groter belegging in die onderskeie teelprogramme, is besluit om by die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye aansoek te doen vir die instelling van statutêre heffings op die onderskeie kommoditeite.

Die hoofdoel van die statutêre heffing is om fondse vanuit die bedrywe te bekom om telers en saadmaatskappye te vergoed vir hul bydrae tot die verkryging van verbeterde internasionale en plaaslike teelmateriaal en tegnologie tot voordeel van die plaaslike bedrywe.

Die SA Cultivar and Technology Agency NPC (SACTA) is as ‘n niewinsgewende maatskappy gestig om die heffings te administreer. Aparte rekeninge sal vir die verskillende kommoditeite geadministreer word en geen kruissubsidiëring tussen kommoditeite sal toegelaat word nie.

Die Memorandum van Inkorporasie van SACTA bepaal dat die Raad van Direkteure uit nie minder as drie en nie meer as nege direkteure mag bestaan nie. Die voorgeskrewe samestelling van die Direksie is soos volg:

  • Twee persone genomineer deur Graan SA;
  • Twee persone genomineer deur SANSOR;
  • Een persoon genomineer deur die Nasionale Departement van
  • Landbou, Bosbou en Visserye;
  • Een persoon genomineer deur Agbiz Landboubesigheid skamer; en
  • Drie persone genomineer deur die Raad van Direkteure.

Die Direksie sien tans soos volg daaruit:

  • Graan SA-verteenwoordigers: Mnr Andries Theron (voorsitter) en dr Marinda Visser
  • SANSOR-verteenwoordigers: Mnre Patrick Graham (vise-voorsitter) en John Odendaal
  • Agbiz-verteenwoordiger: Me Mariana Purnell
  • Die ander setels is tans nog vakant.

Die Minister het die heffings op koring en gars reeds op 30 September verlede jaar, voor die aanvang van die nuwe bemarkingseisoen vir hierdie kommoditeite, in die Staatskoerant afgekondig. Die tarief van die heffing vir koring en gars is R25/ton (BTW uitgesluit) en is geldig vir twee jaar, naamlik vanaf 1 Oktober 2016 tot 30 September 2018.

Die Sonneblom- en Sojaboonforum het ‘n aansoek vir ‘n soortgelyke heffing op sojabone by die Nasionale Landboubemarkingsraad ingedien vir voorlegging aan die Minister. Die aansoek vir ʼn heffing op sojabone behels dat die heffing ook vir twee jaar van toepassing sal wees teen ‘n tarief van R65/ton (BTW uitgesluit) vir die periode 1 Maart 2017 tot 28 Februarie 2018 en R80/ton (BTW uitgesluit) vir die periode 1 Maart 2018 tot 28 Februarie 2019.

Die heffings het betrekking op alle plaaslik-geproduseerde koring, gars en sojabone (indien goedgekeur deur die Minister):

  • Wat deur of namens die produsent daarvan verkoop word.
  • Wat deur die produsent daarvan verwerk of laat verwerk word indien die verwerkte produk bestem is om van die hand gesit te word.
  • Ten opsigte waarvan ‘n Safex-sertifikaat uitgereik word indien die heffing nie reeds op sodanige produkte betaal is nie.

Heffings is betaalbaar by die eerste punt van verhandeling/ verwerking. Waar die produk by die produsent gekoop word, is die heffing betaalbaar deur die koper van die produkte. Die koper kan egter die bedrag van die heffing aftrek van die prys wat aan die produsent betaal word.

Waar die produk deur of ten behoewe van die produsent verwerk word en die verwerkte produk bestem is om verkoop te word, is die verwerker verantwoordelik vir betaling van die heffing.

In gevalle waar ‘n Safex-sertifikaat uitgereik word en die heffing nog nie op die betrokke produk betaal is nie, is die uitreiker van die sertifikaat verantwoordelik vir betaling van die heffing en kan die heffing van die persoon aan wie die sertifikaat uitgereik word, verhaal word.

Die telersheffing, soos daarna verwys word, het ook ten doel om dié telers of saadmaatskappye wat die grootste bydrae tot die beskikbaarstelling van nuwe en verbeterde variëteite vir die plaaslike produsente maak, verhoudelik beter te vergoed. Die teler of saadmaatskappy wat die grootste markaandeel het, sal dus groter vergoeding uit die opbrengs van die heffings ontvang.

Belangegroepe is nog besig met die formulering van ‘n model waarvolgens vergoeding tussen die verskillende telers of saadmaatskappye betrokke by ‘n spesifieke kommoditeit (koring, gars of sojabone) verdeel sal word.

Die basis van verdeling wat daargestel word, sal geloofwaardig, deursigtig en vir alle betrokkenes aanvaarbaar moet wees. In hierdie opsig word sterk gesteun op die samewerking van produsente om tydens die lewering van hul produkte te verklaar van watter variëteit die produk is. Hierdie inligting sal deur die heffingpligtige party saam met die betaling van die heffings aan SACTA voorsien word – wat dan, as deel van die administrasie van die heffings, die verhouding sal bepaal waarvolgens heffingsfondse verdeel sal word.

Navrae ten opsigte van die heffings kan gerig word aan Awie Coetzee by sacta.awie@graingrowers.co.za of 082 818 9620.

Publication: March 2017

Section: Focus on