July 2016
— Ontmoet Graan SA se nuwe voorsitter
ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain
SA Graan/Grain het Graan SA se voorsitter, Jaco Minnaar, net eers ‘n kansie gegee om behoorlik sy sit in die saal te kry, voor ons met hom gesels het oor sy nuwe verantwoordelikheid, sy boerdery en die organisasie wat hom na aan die hart lê.
Versprei jou risiko
Risikoverspreiding is, volgens hom, vandag die sleutelwoord. “Daar is verskeie maniere om dit te doen, byvoorbeeld deur verskillende gewasse te plant en teen verskillende planttye te plant. Dit is ook belangrik dat al jou grond nie in een gebied of naby aan mekaar is nie.
“Ja, dit is heerlik as al jou grond langs mekaar is en jy nie ver hoef te ry nie, maar vanjaar het weer eens gewys wat droogte en reën wat kol-kol voorkom, kan doen. As al jou boerdery-aktiwiteite gekonsentreer is, mis die een bui reën jou dalk net-net of ‘n haelbui tref alles,” vertel hy.
Volgens hom is risikoverspreidingsopsies waarna ‘n graanprodusent vandag kan kyk goeie wisselbougewasse, verminderde bewerking, opbou van grondkwaliteit, ‘n goeie veefaktor en selfs wild. Dit sluit ook beleggings buite jou eie boerdery in, maar hy waarsku: Fokus op beleggings wat groei en waarde toevoeg.
“Dit is uiters gevaarlik om al jou eiers in een mandjie te hê. Droogte in Suid-Afrika is ‘n gegewe – veral verder na die westekant. En die koste van produksie het só hoog geraak, dat jy in een jaar alles kan verloor. In sommige gebiede is die produksiekoste van graan onrusbarend naby aan die totale waarde van grond!”
Dié graanprodusent is self betrokke by die teel van wild. Hy brei ‘n bietjie daaroor uit. “Met die hoë waarde van wild, kan klein stukkies weiding nou effektief benut word deur hoëwaarde-wildspesies en só help om jou boerdery te diversifiseer. Die regte spesies is egter uiters belangrik.
“Die basis van die wildmark sal altyd in die trofee- en jagbedryf wees. Jou risiko is beduidend kleiner as die spesies waarmee jy teel, goed in dié mark gevestig is en die waarde van jou diere relatief naby hieraan is.
Blitsfeite
- Jacobus Johannes (Jaco) Minnaar (39) boer op die plaas Botesrust naby Hennenman.
- Jaco bedryf ‘n gemengde boerdery. Sy boerderyvertakkings bestaan hoofsaaklik uit droëlandgraan (mielies, sojabone en sonne blom) – en ook beeste, skape en wild.
- Boerdery vloei sterk deur sy are: Sy pa en albei sy oupas was produsente. Hy is die vierde geslag wat op die grond boer en ten minste die vyfde geslag wat in die omgewing boer.
- Dié gebore en getoë “Hennenmanner” is met Nicolene (self ‘n boerenooi) getroud en hulle het twee kinders: Henke (8) en Daniël (5).
- Naweke is gesinstyd – kwaliteittyd. Tussen sy besige skedule deur probeer hy ook om so ver moontlik nie uit te slaap nie.
- Dié produsent het ‘n graad in Landbou-ingenieurswese.
- Hy beskryf homself as eerlik, betroubaar en rustig.
“Wanneer daar na die goedkoper wild gekyk word, moet jy ekonomie van skaal hê om die som te laat klop, maar as jy hoërwaardespesies soos buffels, swartwitpense en bastergemsbokke oorweeg, klop die som op ‘n klein skaal.
“Hierdie trofeewild se waarde word ook in dollar-terme gemeet. Dit is dus boonop ‘n goeie rand-verskanser,” meen hy.
Jaco verduidelik dat kleurvariasie in diere die afgelope paar jaar ‘n baie goeie belegging was, maar dat die risiko hoog is, aangesien daar nie ‘n volhoubare mark daarvoor is nie. “Die probleem met die kleurvariasie in wild is ook dat die variasies in die meeste gevalle van swakker gehalte is as die opregte diere.” Sy raad is om dalk eerder te kyk na spesies waar dit nie die geval is nie.
Die seisoen wat voorlê
Die nuwe produksieseisoen klop aan die deur en produsente is reeds besig om hul potlode skerp te maak en hul beplanning te doen. SA Graan/Grain wou weet watter raad het hy vir produsente rakende die nuwe produksieseisoen?
Sonder aarseling antwoord hy: “Sorg betyds dat jou finansiering in plek is – praat vroeg genoeg met jou finansierder. Pryse gaan waarskynlik heelwat gedurende die seisoen beweeg, so as jy op ‘n gewas besluit, maak ten minste ‘n minimumprys vas.
“Besluit oordeelkundig. Om witmielies teen uitvoerpariteit te produseer kan ‘n risiko wees – in Suid-Afrika kan ‘n mens nie op die lang termyn teen uitvoerpariteit produseer nie. Daar is dalk ander gewasse wat meer winsgewend verbou kan word. Sorg dat jou toerusting reg is voor die seisoen. Die meeste produsente kan nie vanjaar foute bekostig nie. Bestuur jou risiko’s en moenie onnodig kanse vat met grondvog, gewasse, finansiering en skuld nie,” benadruk hy.
Hy beklemtoon ook hoe belangrik rekordhouding en beplanning is. “Om te meet, is om te weet. Sonder goeie rekords, is beplanning uiters moeilik. ‘n Mens se geheue is maar kort – en ek sê dit uit eie ondervinding. Historiese inligting, hetsy oor produksie of finansieel, is al hoe jy sal weet of daar vordering gemaak word.
“Hierop kan foute of goeie besluite uitgewys word, waarop daar dan vir die toekoms voortgebou kan word. Sonder presisieboerdery het my boerdery waarskynlik vandag nie meer bestaan nie. En dit maak júís produksierekords en beplanning heelwat makliker, want nou kan ek elke stukkie van my grond meet, aanpas en beplan. Dele wat nie ekonomies is om te bewerk nie, word nie meer geplant nie,” antwoord hy.
Jaco brei uit oor presisieboerdery. “Waar ek boer is die gronde nogal wisselvallig. In normale jare wissel mielieopbrengste maklik tussen 2 t/ha en 10 t/ha in dieselfde stroperbaan en juis daaroor kan jy nie alles op dieselfde manier bestuur nie. Die meer effektiewe manier van benutting maak ‘n wesenlike verskil in winsgewendheid.”
Hy het agterkom dat – selfs na 15 jaar se varieerbare toediening – sekere goeie dele steeds net beter raak. “Ek doen varieerbare toediening van kalk, kunsmis, saad en chemiese middels en as gevolg van spoorverkeerstelsel het ek ook stuurstelsels op die meeste van my trekkers. Data-integrasie is uiters belangrik en daarom gebruik ek ook net een maatskappy se toerusting.”
Oor produksiepraktyke
Jaco het nie net een gewasverbouingstelsel wat hy op al sy grond toepas nie. Hy gebruik verskillende stelsels. Op sommige gronde (30%) pas hy geenbewerking (no-till) toe met gewasrotasie tussen mielies en sojabone.
“Hierdie gronde het ‘n hoër klei-inhoud en ander eienskappe wat dit geskik maak vir geenbewerking. Op die ander 70% pas ek verminderde bewerking toe, maar met ‘n diepripaksie van tyd tot tyd. Dit is nie noodwendig elke jaar nie, maar hang van die grond af.” Hier volg hy ‘n gewasrotasie van mielies, sojabone en soms sonneblom.
Die produksie van gewasse hang nóú saam met die kwaliteit van die grond. “Hoe beter die grond (biologies, chemies en fisies), hoe beter die produksie. Ek poog om constant my grond te verbeter deur bemesting, bekalking en verbouingspraktyke. In die meerderheid van gevalle is dit net iets kleins wat gedoen word, wat ‘n groot verskil kan maak.”
Hy glo ook aan ‘n wisselboustel sel. “Heelwat werk is al in die verlede hierop gedoen en die uitwerking van monokultuur is deeglik gedokumenteer. ‘n Produsent moet Ook finansieel kan oorleef – en daarom moet jy maar jaarliks die somme maak.
“Ons weet wisselbou is goed vir die grond, maar as dit finansieel nie sin maak nie, is dit moeilik. Ek pas al vir baie jare wisselbou toe – aanvanklik was dit op mielies en koring, maar die kompeterendheid van koring en die wisselvalligheid van opbrengste op koring in ons gebied, het die risiko net te groot laat word.
“Dit is waarom ons oorgeskakel het na sojabone, maar ons in die weste het nog heelwat uitdagings wat sojaboonproduksie betref. Sojabone se vatbaarheid vir droogte bly ‘n besondere uitdaging en ons sal moet leer om dit te bestuur. Ons kry egter goeie resultate met wisselbou en vogbestuurstelsels,” sê hy.
Hy het ‘n goeie en bekwame span werkers wat hy kan vertrou, maar sê dat daar tog sekere tye is – soos planttyd – wanneer hy as produsent op die plaas wil wees. “As bedryfsorganisasie is ons kalender tot ‘n groot mate gelukkig ook só geskeduleer.”
‘n Organisasie soos Graan SA
Die nuwe voorsitter se missie vir Graan SA is om die organisasie onmisbaar vir alle graanprodusente te maak. “Elke produsent moet lid wíl wees; hy moet voel hy mis iets as hy nie deel daarvan is nie. Die waarde van ‘n organisasie soos Graan SA word egter nog nie deur almal besef nie.”
As voorsitter wil hy die span laat gedy. Hy is van mening dat in die omvang van dié organisasie geen enkel persoon die werk gedoen kan kry nie, maar wanneer hulle as ‘n span funksioneer, hul berge kan versit. Hy wil graag almal bemagtig sodat elkeen op sy manier en met sy unieke sterk punte ‘n bydrae kan maak.
“Binne die plaashek kan die produsent ten volle bepaal en beheer wat met hom gebeur. Die rol van Graan SA is om dit wat daarbuite gebeur só te beïnvloed dat die produsent steeds volhoubaar kan produseer. Selfs nie eers ‘n megaprodusent kan as individu die impak hê wat ‘n organisasie soos Graan SA – wat meer as die helfte van die graanprodusente verteenwoordig – het nie.
“Met die kennis en mag tot sy beskikking, gebruik Graan SA sy netwerke om invloed hierop te hê en ons kry dit met groot sukses reg. Ons kan nie alles verander wat negatief op die produsent inwerk nie, maar ons probeer,” sê hy.
Voedselsekerheid word vanjaar in besonder weer uitgelig – en dit is die direkte gevolg van die droogte. Hy sê dat die staat en ander partye duidelik sien dat dít waaroor Graan SA en ander partye al verskeie jare praat en waarsku, nou gebeur.
“Dit is maklik om in te voer, maar daar is verskeie faktore wat ‘n effek het op die bekostigbaarheid van voedsel en die groter ekonomie van die land wanneer dit gebeur. Dit is ons taak om dit aan die rolspelers te verduidelik. Wat sou gebeur as die produsent nie meer daar is nie?” vra hy.
“Die Engelse media verwys na Graan SA as ‘n ‘lobby group’ vir produsente. En dit is wat ons is: Ons probeer om die saak van die produsent op alle vlakke in te dra en dít wat ‘n positiewe verandering vir die produsent op plaasvlak teweeg kan bring, te bevorder.
Dit is skokkend om die tekort aan kennis en insig van sommige besluitnemers en rolspelers in en oor ons bedryf te sien…en te sien watter besluite en voorstelle dan gemaak word! Juis dán tree die belangrikheid van die organisasie na vore.”
Jaco was in 2011 Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar. SA Graan/Grain wou by hom weet hoekom hy iemand sal aanmoedig om ‘n loopbaan in landbou te volg.
“Soos met enige beroep, moet dit jou passie wees. Moenie kom boer omdat jou pa dit wil hê of omdat jy sien sekere produsente ry met blink voertuie rond nie. Doen dit omdat jy wíl. Die toekoms van landbou is groot: Almal moet eet, maar die uitdaging is om volhoubaar en winsgewend te kan produseer.
“Dít maak landbou vir my lekker, want die speelveld verander deurlopend. Geen seisoen is dieselfde nie. Daar moet gedurig besluite op baie kort kennisgewing geneem word – wat ‘n wesenlike impak op die uitkoms het – en dit maak dat dit vir my ‘n uitdaging bly. “Jy leef naby aan jou Skepper, want binne dit alles word jou afhanklikheid daagliks bevestig. Alle eer aan Hom!” sê hy.
Op die vraag oor sy wenke vir ‘n jong produsent wat nou begin boer, noem Jaco die volgende:
- Kies ‘n paar mentors in jou omgewing en moenie bang wees om vrae te vra nie. Stap ‘n paadjie saam met insetverskaffers, want heelwat kundigheid is in hul gesetel. Loer oor die draad na die suksesvolle produsente, want hulle doen dinge reg.
- Bestuur jou risiko’s. Moenie onnodig risiko’s neem nie, maar moet ook nie risiko’s vermy nie. Kry die balans.
- ‘n Blink plaas is mooi, maar dit is nie hoe jy wins maak nie. Winste en vooruitgang sal jou voorland wees as jy dit wat jy doen, reg doen en as jy in dít belê wat vir jou ‘n opbrengs op kapitaal kan genereer – en dit is nie noodwendig implemente nie.
- Produksie is essensieel, maar bemarking kan jou sink. Leer ken die mark, bemagtig jouself met inligting, praat met suksesvolle produsente en neem dán eers jou bemarkingsbesluite. Hoe hoër die gehalte van die inligting wat jy kan kry, hoe beter sal jou besluit wees.
- ‘n Produsent moet homself altyd ontwikkel. Jy moet gedurig “slimmer” raak om beter besluite te kan neem, want die wêreld bly verander en om in die wêreldmark te kan meeding, moet ons konstant verbeter. Raak betrokke in die strukture van georganiseerde landbou, sodat jy blootstelling kan kry aan dít wat buite die plaashek aangaan en só jou visie verbreed.
Publication: July 2016
Section: Relevant