Dit gaan goed met Graan SA, sê nuwe HUB

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 12 April 2024

117

Met dr Tobias Doyer se toetrede as nuwe HUB van­ Graan SA vroeg in Februarie vanjaar, wou SA Graan/Grain by hom uitvind wat sy indrukke van die Kongres en die organisasie as ’n geheel is.

So tussen die sessies deur en met ’n koffie in die hand gesels hy op NAMPO Park oor die gesprekke wat hy gedurende die twee dae by Kongres met produsente gehad het. “Een ding is seker, dit gaan swaar daar buite, maar ek bespeur hoop en vasbyt by ons lede. Wat my opgeval het, is die deursettingsvermoë, aanpasbaarheid en innovasie wat eie is aan ons boere.”

As voormalige hoofbestuurder van Agbiz het hy in 2007 laas ’n Graan SA Kongres bygewoon. Vanjaar staan hy aan die stuur en hy is veral beïndruk met die ondersteuning wat lede aan die organisasie bied. “Met Graan SA as ’n organisasie gaan dit baie goed, dit is juis die ondersteuning van ons lede wat ons in staat stel om landbou en ons produsente voorop te stel.”

Dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, tydens Kongres in Maart vanjaar.

Die verhouding tussen landbou en die regering is volgens dr Doyer sterker as ooit. “Hoewel ons beleef dat daar ’n leierskaps­krisis in die regering is, is die onderskeie departemente positief teenoor landbou. Dit het my aanvanklik nogal verbaas en ek besef dit is hierdie gesindheid wat Graan SA toegang bied en in staat stel om moeilike kwessies soos die mieliegradering aan te spreek – en daaroor is ons dankbaar.”

Hy voeg egter by dat die uitdagings – veral wat infrastruktuur in die platteland betref – groot is. “Die regering se kapasiteit om hierdie probleme plaaslik aan te pak is laag en dit hou ’n bedreiging in vir landbou in Suid-Afrika.”

Verder is hy beïndruk met die manier waarop Graan SA met lede kommunikeer. “Toe ek laas in landboukringe beweeg het, was daar nie WhatsApp nie. Die spoed waarteen ons nou inligting kan deurgee is opwindend. Maar wat my selfs meer beïndruk, is die presisietegnologie en meganisasie wat ingespan word om te verseker dat Suid-Afrikaners kos op die tafel het. Hoewel die uitda­ging groot is, bly landbou aan die voorpunt van vooruitgang.”

Vir die Graan SA-personeel het hy baie lof. “Hierdie is een van die sterkste spanne waarmee ek nog die voorreg gehad het om te werk. Die diepte van kennis en die professionaliteit en uitnemendheid is ongekend. Die sukses van die Kongres is ’n sprekende voorbeeld,” het hy bygevoeg.