May 2016

TOIT WESSELS, ledebemarking- en kommunikasiebeampte: Graan SA

Graan SA en Momentum het hul sowat ‘n jaar gelede tot ‘n opwindende strategiese vennootskap verbind. Die vennootskap sal Graan SA-lede in staat stel om vir hulle en hul plaaswerkers produkte uit te neem ten einde finansiële welstand vir hul plaaswerkers in die hand te werk, vanaf so min soos R29/maand. Die deelname aan hierdie skema in die eerste jaar was egter teleurstellend en daarom wil ons dit graag weer onder lede se aandag bring.

Daar was ook intussen gesprekke met Momentum om van die tekort kominge aan te spreek. Hou asseblief in gedagte dat hierdie ‘n “aanlyn-diens”-produk is, vandaar die goeie tariewe. Indien jy die personeel van Momentum direk wil kontak, is jy baie welkom om dit te doen. Hierdie is maar slegs één van die vele voordele wat Graan SA sy lede as deel van lidmaatskap by die organisasie bied.

Waarom die inisiatief?

Een van Graan SA se strategiese fokusareas is arbeid. Graan SA het alreeds in 2013 met verskeie aksies begin om goeie arbeidspraktyke te beklemtoon. Terselfdertyd is daar ook ‘n gebrek aan ‘n eenvoudige, maklik-toeganklike en bekostigbare oplossing.

Graan SA het van die geleentheid gebruik gemaak om namens sy lede vir die beste oplossing te onderhandel.

Wat bied die produk?

Gebaseer op navorsing in die landbousektor gedoen deur Momentum in 2012, is die volgende sleutelbehoeftes geïdentifiseer in vol gorde van belangrikheid:

  • Begrafnisdekking
  • Onderrigvoordeel
  • Hospitaal-kontantvoordeel
  • Lewensdekking
  • Ongeskiktheidsdekking
  • Effektetrust-spaarrekening

Tabel 1 bevat meer inligting oor elke tipe dekking.

Help finansiële welstand vir jou plaaswerkers skep

Ander voordele van die produk

Die produk behoort maklik-toeganklik te wees met die minimum administrasie vir werkgewers. ‘n Toegewyde inbelsentrum by Mo mentum hanteer die administrasie en eise. Begrafnisdekking word ook gewaarborg om binne 48 uur uitbetaal te word, mits die vereiste dokumentasie soos verlang, ontvang word. Momentum beskik ook oor ‘n aanlynstelsel wat werkgewers toelaat om die veranderinge aan hul personeelkorps maandeliks aanlyn op te dateer.

Vergelyk appels met appels

Wanneer produsente die produk teen ander produkte in die mark opweeg, is dit belangrik om seker te maak dat hul appels met appels vergelyk. Daar is verskeie voorwaardes betrokke by die tipe produkte wat oorweeg moet word.

Wagperiodes en ander voorwaardes

As deel van die voordele wat Momentum bied, het hul doodsdekking van ‘n wagperiode gevrywaar indien die betrokke werknemer voorheen deel was van ‘n soortgelyke skema. Dit gee werkgewers die nodige gerusstelling dat wagperiodes nie van toepassing sal wees indien die produk aanvaar word nie. Die wagperiodes se voorwaardes verskil by die verskillende tipes dekking en produsente word versoek om noukeurig te let op onderskrywingsvoorwaardes. Dit is ook belangrik om daarop te let dat alle permanente werknemers by die produk ingesluit moet word om te kwalifiseer. Werkgewers kan wel verskillende opsies vir verskillende werknemers kies, maar alle permanente werknemers moet ingesluit word.

Help finansiële welstand vir jou plaaswerkers skepHoe kry produsente toegang tot die produk?

Graan SA is trots om die voortou met innoverende oplossings in die landbousektor te neem en ons moedig lede aan om deel te neem aan die inisiatief. Opbetaalde lede van Graan SA kan die nodige aansoekvorms aflaai op Graan SA se webtuiste by www.grainsa.co.za, onder die Ledevoordele-seksie. Lede kan ook Momentum se toegewyde inbelsentrum skakel by 0860 333 334.

Indien jy nie ‘n lid is nie en jy graag toegang tot die produk wil kry, kan jy gerus een van die volgende kontakte by 086 004 7246 skakel om jou lidmaatskap te aktiveer.

Publication: May 2016

Section: Focus on