Helde staan boer se skoene vol

Gepubliseer: 1 Februarie 2023

3620

Graan SA en John Deere se splinternuwe reeks, My Hero, wat in Januarie se SA Graan/Grain bekendgestel is, skop af met ’n weninskrywing uit Lichtenburg in Noordwes. André du Preez (53) van Grootpan se stryd teen Covid is al op RSG, in NWK se Arena-tydskrif en in verskeie kerke gedeel.

André het in Julie 2021 Covid opgedoen en ’n verbete stryd gevoer wat 84 dae in die intensiewesorgeenheid van Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp ingesluit het. Onder sterk sedasie en aan ’n ventilator gekoppel, moes sy gesin vier keer hospitaal toe ry om afskeid te neem. Elke keer het André deurgedruk en na 101 dae is hulle gebede verhoor en kon hy hom weer by sy familie op Grootpan aansluit – ’n wonderwerk waaroor hy en sy gesin die afgelope jaar en ’n half voortdurend getuig.

Die wenners in die My Hero-reeks vir Januarie is Wanda, André jr. en Waldo du Preez. Van links op die foto is Johan, Waldo, Wanda, Wané en André, André jr. en Dylan.

Vir André is sy vrou, Wanda, en seuns André jr. en Waldo helde. Terwyl hy onder sterk verdowing was, moes dié moedige ma van vyf en hul twee seuns vinnig planne maak. Wané, hul dogter, was op daardie stadium op universiteit en hul twee aangenome seuns, Johan en Dylan, was oorsee.

Waldo skryf oor die moeilike tyd in hulle lewe: “Die dag toe ek nie meer my pa kon vra vir leiding nie, het ek besef die skoene wat ek nou moet aantrek is baie groter as waarvoor ek gereed was.”

Wanda en die seuns het deur André se selfoon gesoek vir nommers en verkoopsverteenwoordigers van saad en kunsmis gebel om uit te vind wat die vorige jaar aangekoop en geplant is. Op hulle knieë en met wysheid van Bo het Waldo die saad en kunsmis be­stuur, terwyl André jr. die spilpunte, masjinerie en bewerking hanteer het. Hulle het saam besluit oor die kultivars wat geplant moes word en wat die plantestand moes wees.

André du Preez het sy vrou, Wanda en twee seuns André jr. en Waldo genomineer as helde in die My Hero-reeks.

Aankope moes gemaak word en lone moes uitbetaal word. Besluite ter waarde van miljoene rande het in dié tyd op Wanda en die seuns se skouers gerus. Dit terwyl hulle gebede en ge­dagtes voortdurend by André was. Hulle het onwrikbaar geglo dat die Here hom sou deurdra.

Die gemeenskap van Lichtenburg het die familie bygestaan en produsente in die omgewing het raad gegee. Verskeie verteenwoordigers van insetmaatskappye het hulp aangebied en twee van die seuns se vriende het uit Amerika gekom om te help boer.

Op 4 November 2021 is André ontslaan, met ’n lang pad van herstel wat voor hom en sy gesin gelê het. Met intensiewe fisio- en arbeidsterapie wat by die huis voortgesit is, kon André weer betrokke wees by besluitneming. Hy weet dat sy gesin met die hulp van die Here hul boerdery gered het; daarom is hulle helde in sy oë. Graan SA en John Deere gee in hierdie uitgawe aan Wanda, André jr. en Waldo erkenning as helde wat in ’n uiters moeilike tyd staande gebly het en onwrikbaar bly glo het. Hulle is dus Januarie-maand se wenners in die My Hero-reeks en ontvang ’n geskenkpak van John Deere.