March 2016
KÄTE VAN DER WALT, voedingkundige: Meadow Voere, Port Elizabeth en OCKERT EINKAMERER, Universiteit van die Vrystaat
Die huidige seisoen word gekarakteriseeras een van die droogste seisoene in die afgelope 100 jaar weens El Niño. Damme se vlakke het drasties gedaal en riviere se lope selfs opgedroog. Die oorkoepelende gevolg is swaarkry met moontlike mislukte graanoeste, tekort aan weidings en selfs op groot skaal lewendehaweverliese.
Met die skryf van die artikel het die Weerdiens gewaarsku dat die reën wat voorgekom het, nie genoeg was om die droogte te breek nie, maar die vooruitsig lyk blykbaar beter.
Met die huidige ekonomie en weersomstandighede is dit nie ‘n goeie vooruitsig vir veeprodusente nie weens ‘n gevolglike negatiewe effek van voerpryse en tekort aan ruvoer. Daar kan verwag word dat plantproteïenbronkostes heel moontlik ook dramaties kan styg.
Goedkoper ruvoer en sogenaamde graanbyprodukte (koringsemels, hawersemels en mieliekiem) wat altyd vrylik beskikbaar was, raak ook nou minder bekombaar en teen ‘n verhoogde prys.
Die effek van ‘n langdurige droogte op weiding
‘n Langdurige droogte word gekenmerk deur die afname en beskikbaarheid van weiding, hoeveelheid drinkwater asook die kwaliteit daarvan. Die heersende droë toestande kon dus die algemene kondisie van teelkuddes nadelig beïnvloed het.
Gedurende ‘n droogte kan verwag word dat die kondisie van die vroulike diere nie so goed sal wees nie en dit kan lei tot ‘n laer konsepsiesyfer, hoër gevalle van aborsies en stilgeboortes weens die stres op die liggaam. Melkproduksie van dié wat wel kalf (lam) word ook nadelig beïnvloed en dit lei tot laer speengewigte.
Indien voldoende reën weer voorkom, is daar ‘n paar bestuursaspekte om in ag te neem. Veld is besig om te herstel en veeprodusente moet verstaan watter faktore die voedingswaarde van weiveld beïnvloed om veldbestuursaspekte (soos aanvullings) dien ooreenkomstig aan te pas:
- Nadat ‘n droogte gebreek is, sal die plante wat oorleef het, vinniger groei en saad produseer (reproduktiewe groei) en minder loof. Die teendeel is ook waar afhangende van veldtipe.
- Plantvolwassenheid is seker die belangrikste faktor wat die nutriëntsamestelling beïnvloed. Die voedingswaarde van weiveld daal met ‘n verlaging in die hoeveelheid blaarmateriaal (wat meeste van die oplosbare selinhoud bevat) en toename in stingels (wat meer vesel en lignien bevat – dus minder energie aan die herkouer verskaf) soos die plant verouder. Dus moet ‘n opname van veldkwaliteit geskied om te bepaal watter tipe aanvulling asook hoeveel daarvan gegee moet word om aan die diere se behoeftes te voldoen.
- Afgesien van droëmateriaalverteerbaarheid, het veldgras se nutriëntsamestelling (minerale, vitamiene, koolhidrate of stikstof) ook ‘n beduidende invloed op die vrywillige inname van herkouers. Die effek is meer proses gedrewe binne die dier se liggaam wat verband hou met
- die tempo van degradasie in die rumen,
- die tempo van mikro-organisme nutriëntsintese,
- sowel as die vermoë om van voedingstowwe ontslae te raak (ekskresie).
- Die verteerbaarheid van vesel op weiveld stel gewoonlik ‘n plafon op die rumen-degradeerbare proteïen (RDP)- behoeftes van vee. Met ander woorde, hoe minder verteerbaar die veselfraksie van grasse is, hoe minder degradeerbare proteïen behoort aangevul te word om effektiewe verteerbaarheid te verseker (laat winter, vroeë lente in suurveld). Anders gestel, proteïenaanvullings verhoog veldgras se verteerbaarheid tot op ‘n stadium waar die gras se kwaliteit net te swak is. Dit is dus meer ‘n funksie van inname en grasverteerbaarheid, eerder as die dier se direkte behoeftes aan degradeerbare proteïen. Hierdie hoeveelheid van degradeerbare proteïen- en nieproteïenstikstof (NPN-bronne soos ureum)-aanvulling gaan wissel weens die dier se huidige kondisie, tipe veld (vesel kwaliteit en proteïen-inhoud van weiding) en beskikbare materiaal.
- Laastens beïnvloed bestuur ook die voedingswaarde van grasse soos beweidingstelsels (wisselweiding en hoë veeladings) en die bemesting van weidings. Na droogte moet beweiding strategies toegepas word en nie oorbewei word nie om sodoende die veld kans te gee om te herstel.
Aanvulling gedurende en na ‘n droogtetydperk
Lekaanvullings sal dus met oordeel moet geskied om te verseker dat, indien nodig, die inname van lae kwaliteit weiding (wat wel nog beskikbaar is) gestimuleer word om maksimum voordeel daaruit te trek. Wanneer jong groei sy verskyning maak, sal die tipe aanvulling heroorweeg moet word. Die veldtoestand verbeter nou, so ‘n proteïenlek moet gehandhaaf word en byvoeding moet eerder verskaf word in die vorm van konsentrate of goeie kwaliteit hooi soos lusern (wat toevallig ook as proteïenbyvoeding kan dien weens lusern se hoë stikstof-inhoud). Of het weiveld se kondisie só herstel dat slegs ‘n minerale lek benodig word (genoegsame materiaal op die veld met meer as 7% ruproteïen)?
‘n Tekort aan stikstof in die vorm van ammoniak in die rumen (verskaf deur weiding of ureum) kan byvoorbeeld mikrobiese selproteïensintese onderdruk en sodoende inname van veld verlaag. Dit mag die inname van gepaardgaande voedingstowwe ook negatief beïnvloed.
Byvoeding mag slegs geskied waar weiding baie beperk is omdat dit die benutting van veld wat wel beskikbaar mag wees, nadelig beïnvloed. Waar geen of baie min voer beskikbaar is, sal die aankoop van kuilvoer, graanbyprodukte of oesreste – wat heel moontlik die jaar baie min gaan wees – baie help.
Droogtegewasse soos turksvye en garingbome kan goeie impakspelers wees. Uit laasgenoemde inligting is dit duidelik dat veld grotendeels nie aan alle voedingsbehoeftes van weidende herkouers kan voorsien nie. Energie, proteïen, fosfaat en vitamien A is die voedingstowwe wat meestal beperkend vir weidende herkouers mag wees. Proteïen is grotendeels die eerste beperkende voedingstof op weidings, veral in die wintermaande en vroeë lente, waar energie (enige voer) problematies raak tydens droogtes.
Die energie beskikbaar in weiding vir die dier is in elk geval van weinig belang indien genoegsame proteïen nie in die behoeftes van die rumenmikrobes kan voldoen nie.
Mikrobiese proteïen is baie belangrik vir weidende herkouers omdat dit die grootste fraksie van proteïenverskaffing uitmaak. Vir lae kwaliteit weiding word klein hoeveelhede hoë proteïenaanvullings (25% – 40% RP) aanbeveel afhangende van spesie en stadium van produksie. Wanneer die ruproteïen van veldgrasse laer as 6% tot 7% daal, kan vrywillige inname gestimuleer word (hierbo genoem) met die aanvulling van NPN-bronne. Veselvertering word ook verhoog met ‘n gepaardgaande toename in mikrobiese proteïen in die laer spysverteringskanaal.
Nie-proteïenstikstofbronne mag dalk nie alleen inname stimuleer nie, dus moet geredelik beskikbare energie ook bygevoeg word. Melasse of growwe mieliemeel is goeie opsies. Rumenmikrobes kan slegs NPN-bronne benut om mikrobiese proteïen op te bou indien genoeg beskikbare energie voorsien word. Melasse is nie net ‘n bron van oplosbare energie nie, maar voorsien ook waar – de volle nutriënte soos swawel en sekere vlugtige vetsure aan sellulolitiese (veselverte rende) mikrobes.
Indien energie aangevul moet word, veral laat winter en vroeë lente, is dit raadsaam om dit onder 0,3% van liggaamsmassa te voorsien, omdat dit geneig is om veldinname en verteerbaarheid te verlaag en dus nie die algehele energie-inname verhoog nie. Dit kan deels toegeskryf word aan die styselverterende mikro-organismes (amilolitiese bakterieë) wat toeneem en die veselverterende mikro-organismes (sellulolitiese bakterieë) wat dienooreenkomstig afneem.
Slotsom
Met voldoende reën herstel veld wel, maar sal nog lank neem om weer tot sy vorige kondisie terug te keer. Waar nie voldoende byvoeding verskaf kan word nie, moet veegetalle eerder binne beheerbare perke gehandhaaf word om die goedkoopste bron van herkouervoer, natuurlike veld, genoeg kans te gee om volhoubaar te herstel. Waar byvoeding wel verskaf word, moet vee so ver as moontlik eerder op kraal gevoer word. Dit is selde dat produsente aan alle voedselbehoeftes reg deur die jaar aan hulle vee kan voorsien (al word dit self geproduseer en opgeberg), dus sal sekere bronne takties en vroegtydig aangeskaf moet word gedurende tye van tekort.
Om deeglik en vroegtydig te beplan en effektief op te berg sodat voedingstofverliese tot die minimum beperk word, gaan baie kopsere in die toekoms oplos. Dit is ook sinvol om nie net aan die behoeftes van vee tydens die jaar te voldoen nie, maar om die buffertydperk van voere te probeer rek – wat die impak van ‘n swak jaar in die toekoms kan versag.
Die primêre doel van aanvullings op veld is om dit effektief te laat benut, maar ook om nutriënttekorte binne weiding aan te vul op die mees ekonomies moontlike manier. Dit kan moeilik wees om aanvullings op weiveld voor te skryf omdat die voedingsbehoeftes van weidende herkouers verskil as gevolg van hul produksiestadia (medium- tot laatdragtig, lakterend en afronding). Verder is lente juis die moeilikste tyd van die jaar wanneer dit kom by aanteel en om voedingstekorte te probeer voorkom.
Met die swakker as verwagte somerreëns en gepaardgaande tekorte aan weidings is dit dalk raadsaam om onderhoudslekke (byvoeding) aan diere te verskaf en miskien vir ‘n langer tydperk as verwag. Dit is belangrik om die kondisie van die diere, misuitskeiding, sowel as hulle inname, dop te hou indien lek verskaf word sodat aanpassings tot die samestelling daarvan gemaak kan word. Maak ook seker dat voldoende en volhoubare groen weiding beskikbaar is voordat heeltemal met ‘n onderhoudslek of proteïenlek gestaak word.
Raadpleeg jou naaste geregistreerde voedingskundige om die korrekte lek en voorgestelde inname vir die betrokke omgewing voor te skryf. Veeprodusente met reserweveld, oesreste en/of kuilvoer nog tot hulle beskikking is miskien in ‘n meer gunstige posisie. Wat die huidige seisoen en die wintermaande besonders moeilik gaan maak, is die feit dat daar nie baie materiaal op die veld vir weidende herkouers, asook alternatiewe voere soos oesreste vir die moeiliker tyd van die jaar (Augustus tot Oktober) beskikbaar gaan wees nie.
Baie produsente voer reeds van einde Maart verlede jaar strategies ‘n groot deel van hul kudde op natuurlike veld. Dit is wys om voer vloeibeplanning en die vroegtydige aanskaf (opbou) en effektiewe stoor van voerbronne van as prioriteit te beskou. Ons boer in ‘n land waar droogte, of somtyds onder-gemid delde reënval, as die norm erken en só bestuur moet word.
Publication: March 2016
Section: Focus on