August 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Op baie plase is daar soms te veel of soms te min insette, terwyl daar egter reg bestel is. Waar lê hierdie fout? Baie van die afwykings kan verklaar word deur te let op klein foutjies wat ongesiens verbyglip. Die effek van dubbele werk, dubbele spuit en merkers wat verkeerd gestel is, moenie onderskat word nie.

Diesel, behalwe dat daar soms daarvan wegraak, kan ook heeltemal verkeerd verbruik word. As daar nie gemeet word nie, is dit byna onmoontlik om te bepaal hoeveel onnodig verbruik word. Dieselgebruik van trekkers word deur verskeie faktore bepaal. Sommige daarvan kan bestuur word en sommige kan niks aan gedoen word nie.

Effektiwiteit en winsgewendheid is direk gekorreleer. Deur effektiwiteit te verhoog, word winste verhoog en koste bespaar. ‘n Verlaging in effektiwiteit lei tot ‘n verhoging in direkte en indirekte koste. Deur trekkers optimaal te gebruik, word nie net diesel, herstelwerk en instandhouding verlaag nie, maar word indirekte koste, soos lone, kapitaalbelegging in masjinerie en talle ekstra vaste koste ook verlaag.

Die effektiwiteit van veral trekkers en toerusting kan drasties verhoog word deur die trekkers reg in te stel en reg te gebruik. Daarbenewens kan die effektiwiteit verder ook drasties verhoog word deur die implemente se werkswydtes te optimeer en om die effek van dubbele werk uit te skakel.

Brandstofverbruik word deur verskeie faktore beïnvloed en van die hoofaspekte is die volgende:

  • Vrag op die enjin tydens bewerkings
  • Implementkombinasie (werkswydte en -diepte)
  • Totale gewig van die trekker
  • Verspreiding van die gewig op die trekker deur die plasing van gewigte op die wiele en die neus asook die gewigsoordrag vanaf die implement na die trekker
  • Bandkaraktereienskappe, soos tipe, deursnee en druk
  • Implementverstellings en spoed van bewerking
  • Grondtekstuur en grondvog

Oorweeg hierdie aspekte en spaar

Heelwat van hierdie faktore kan deur produsente beheer word. Alhoewel hierdie aspekte met mekaar verweef is en beide mekaar sowel as die trekker se brandstofverbruik beïnvloed, is die twee hoofaspekte waarna produsente eerste op die plaas kan oplet die belading op die trekkerenjin en die trekker-implementkombinasie wat wielglip sowel as enjinbelading beïnvloed. Sodra hierdie twee aspekte doeltreffend aangespreek word, kan verskeie verdere verfyningstegnieke, soos banddruk en gewigsverspreiding, aangewend word. Tog kan hierdie klein aspekte tot ‘n reuse-besparing aanleiding gee. Die tyd wat spandeer word om hierdie aspekte aan te spreek, word oor en oor deur die besparing geklop.

‘n Dieselenjin is oor die algemeen ontwerp om hard te werk. Indien hier die dieselenjin in sy wringkragreserwe-area kan werk, is die dieselgebruik gewoonlik op sy beste. Trekkers behoort op hier die gebied vir meer werk uit dieselfde brandstof verbruik aangewend te word.

Dit kan op twee maniere bewerkstellig word:

  • Verander die ratte na ‘n al hoe hoër rat, totdat ‘n rat bereik word waar die enjinrevolusies skerp begin daal.
  • Vergroot die implement totdat die enjinrevolusies begin daal. Hier speel wielglip en rolweerstand egter ‘n addisionele rol wat bestuur moet word.

Die effek van die trekkerbestuurder moet ook nie oor die hoof gesien word nie. Soms ry die trekker té na aan die bewerkte gedeelte en soms word banke nie bewerk nie. Die gevolg van beide is dat die effektiwiteit verlaag word. Dit is opvallend dat dit die groot trekkers met wye implemente is wat die meeste hier fouteer.

Ten einde die koste-implikasie te verstaan, moet die struktuur van trekkerkoste behoorlik begryp word. Beide die vaste en veranderlike koste van die trekker asook die implement moet bymekaargetel word om koste te kan bereken.

Ongelukkig moet die koste van die insette wat toegedien word, ook in berekening gebring word. In Tabel 1 word die vaste en veranderlike koste van ‘n 77 kW-vierwieldryftrekker met verskillende implemente aangedui. Hierdie berekeninge is gedoen met behulp van die gids: Guide to machinery cost, wat jaarliks deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye opgestel word.

image

Om die impak van effektiwiteit te verduidelik, is daar in Tabel 1 ‘n voorbeeld van ‘n 77 kW vierwielaangedrewe trekker gebruik wat ‘n 5,2 m-wydwerkskoffel trek waarvan die effektiewe werkswydte verander is. Hierdie voorbeeld stel ‘n tipiese dubbelwerk-aksie voor.

In Tabel 2 word aangedui dat as die effektiwiteit afneem, die koste styg. Die koste styg vanaf R8 967 na R11 956 om 100 ha te bewerk as die effektiwiteit vanaf 100% na 75% daal.

image

Dit is interessant dat die koste vinniger styg as wat die effektiwiteit daal. Die rede vir die verskil is te vinde in die hoeveelheid ritte wat nodig is om die land te bewerk. Dit is duidelik dat as die effektiwiteit met 25% daal, die koste met 33% styg, soos getoon in Tabel 1. Indien die werk binne ‘n sekere tyd afgehandel moet word, sal ekstra kapasiteit aangeskaf moet word sou die effektiwiteit daal. Om die afname in effektiwiteit teë te werk, sal die kapasiteit met dieselfde persentasie verhoog moet word. Dit is as aanvaar word dat die ekstra kapasiteit 100% effektief is.

Effek van effektiwiteit van trekkers en implemente waar ekstra insette ook gebruik word

Net soos by primêre bewerking en saadbedvoorbereiding, kan spuittrekkers ook maklik té na of té ver van gespuite gedeeltes ry. Dié aksie veroorsaak dat sekere gedeeltes té veel gif kry en ander gedeeltes heeltemal misgespuit word. Om later weer in te kom om die gedeeltes wat gemis is te spuit, is baie duur en tydrowend.

Om die impak van effektiwiteit te verduidelik, is daar in Tabel 3 ‘n voorbeeld van ‘n 60 kW-trekker wat ‘n 2 000 liter-spuit trek wat 12 m wyd spuit waarvan die effektiewe werkswydte verander is. Die voorbeeld stel ‘n tipiese dubbelspuitaksie voor.

image

Om te bereken hoeveel dit ekstra sal kos om die misgespuite gedeeltes te spuit, sal baie afhang van die tipe spuit wat gebruik word.

Hoe kleiner die spuit wat gebruik word, hoe goedkoper sal dit wees. Dit bewys weer dat effektiwiteit die koste bepaal.

Samevatting en moontlike voorstelle

Die effektiwiteit van die bewerkingsaksie het ‘n reuse-impak op die winsgewendheid van vertakkings. Klein foutjies saam, kos vinnig ‘n klomp geld. Produsente moet daarom sorg dat klein foutjies voorkom word.

Produsente kan dalk aan die volgende dink om effektiwiteit te verhoog:

  • Beter opleiding van trekkeroperateurs
  • Die installeer van meganismes om te sorg dat die maksimum werkswydte van die implement gebruik word. Oorweeg hier:
    • Spoorverkeerstelsels
    • Merkers op alle implemente
    • ‘n Stuurbeheerstelsel (auto steer)
    • Beter kontrole oor trekkeroperateurs
    • Lees die handleiding van die trekker en toerusting en kyk hoe die trekkers en toerusting gestel moet word

Die Direktoraat van Landbou Ekonomie se publikasie Guide to machinery costs is gebruik om die koste te bereken. Die nuwe weergawe van hierdie dokument sal eersdaags beskikbaar wees.

Indien daar enige verdere navrae is, kontak gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991.

image

Publication: August 2015

Section: Focus on