July 2015
PIETER HAUMANN, voorheen van Grasland Ondernemings en direksielid van Fertasa
Daar bestaan enkele aspekte rondom grondsuurheid en bekalking wat tot verwarring en konflik kan lei. Land boukundiges in die Hoëveld se droëlandgraanproduksiegebiede gebruik merendeels pH(KCl) om kalkbehoefte te bepaal. In KwaZulu-Natal word gebruik gemaak van persentasie suurversadiging.
Daar word beweer dat gronde onnodig bekalk sou word indien pH-waardes as basis vir die bepaling van kalkbehoefte gebruik word. Ondergrondsuurheid word in KwaZulu-Natal met gipstoedienings bestuur.
Sommige landboukundiges beveel dit ook aan op die Hoëveld. Daar word verder beweer dat sogenaamde “vloeibare” kalk groot finansiële besparings asook minder moeite vir produsente kan teweegbring. Spesifieke verhoudings van Ca, Mg, K en Na in die grond word aanbeveel om verhoogde opbrengs te bereik, terwyl baie voel dat dit nie nodig is nie solank daar “genoegsame” vlakke van dié katione in die grond is. Sommige kalkprodusente beweer dat slegs buitelandse laboratoriums die landboukalk wat hulle verskaf “korrek” kan ontleed.
Vervolgens sal bogenoemde stellings behandel word en wenke aan produsente voorgestel word om die situasie te hanteer.
Persentasie suurversadiging teenoor pH(KCl) en gipstoediening vir ondergrondsuurheid
Situasie
Die bestuur van grondsuurheid volgens die persentasie suurversadiging vind byval op hoogs gebufferde gronde wat van nature uiters suur is. Hierdie gronde kom meestal voor in KwaZulu-Natal en sekere dele van Mpumalanga.
Hierdie gronde het gewoonlik ook van nature uiters suur ondergronde. Navorsing het bewys dat dit nie net nie lonend is om sulke gronde tot byvoorbeeld pH(KCl) waardes van 5,0 en hoër te bekalk nie, maar bykans onmoontlik is, aangesien toedienings van tot 60 ton/ha daarvoor benodig word.
Soms is bekalking tot pH(KCl) vlakke van 5,0 en hoër nadelig as gevolg van, onder meer, ernstige P-vaslegging. Die uitweg is om ‘n praktyk te volg waar die persentasie suurversadiging rondom nul bestuur word.
Navorsing het hierdie praktyk bevestig asook die noodsaaklikheid van veral die verhoging in P-bemesting nadat bekalking gedoen is. Ondergrondsuurheid in hierdie gebiede word dikwels met relatiewe hoë toedienings gips reggestel.
Gelukkig het hierdie ondergronde hoë vlakke van aluminium, yster en mangaan oksiedes (die sogenaamde seskwioksiedes) wat saam met gips, wat meer oplosbaar is as kalk, tot “selfbekalking” in die ondergrond lei. ‘n Oormaat bekalking van die bogrond om ondergrondsuurheid te bekamp, is weens die hoë bufferkapasiteit heeltemal te duur en nadelig, soos bespreek.
Op die Hoëveld word mielies meestal op redelike swak gebufferde, sanderige gronde verbou wat van nature pH(KCl) waardes van 5,0 en hoër het. Die ondergronde is ook relatief swak gebuffer met pH(KCl) waardes wat van nature hoër as 5,5 is.
Hierdie gronde het met bewerking en bemesting met ammoniumbevattende N-kunsmis oor die jare aansienlik versuur, nie slegs in die bogrond nie, maar in uiterste gevalle ook in die ondergronde. Dit is betreklik maklik om die pH(KCl) vlakke in die bogrond reg te stel met landboukalk vanweë dié gronde se relatiewe swak buffervermoë.
Navorsing en veral presisieboerderypraktyke het bewys dat bekalking tot minstens pH(KCl) 5,0 groot ekonomies geregverdigde opbrengsverhogings in die lang termyn tot gevolg het, mits bemestingspeile van veral P opwaarts aangepas word.
Ondergrondsuurheid veroorsaak egter ‘n groot probleem. Omdat hierdie ondergronde swak gebuffer is met baie lae tot geen seskwioksiede nie, kan die toediening van gips nie ondergrondsuurheid in hierdie gevalle ophef nie. Laasgenoemde kan slegs tot hoër katioonvlakke lei, maar bied die gevaar van oormatige magnesium- en kaliumuitloging.
Die toediening van dolomitiese kalk saam met die gips, kan die magnesiumloging teenwerk, maar die kaliumuitloging is dan steeds ‘n probleem. Die beste is om nie toe te laat dat die ondergrond versuur nie, deur effens te oorbekalk in die bogrond – tot pH(KCl) 5,5 kalsium- en magnesiumione neutraliseer byvoorbeeld nie suurheid nie. Daar moet besef word dat dit die karbonaatioon van kalk is wat omskep word, wat grondsuurheid neutraliseer.
Gevolgtrekking
Dit is belangrik om bekalking te bestuur met praktyke wat deur langtermynnavorsing ontwikkel is. Die gronde van KwaZulu-Natal en die Hoëveld verskil aansienlik en dit moet in berekening gebring word wanneer aanbevelings vir bekalking gedoen word. Dit is veral van belang in die Hoëveld om bogronde effens te “oorbekalk” om ondergrondsuurheid te verbeter en te verhoed. Bemesting bly altyd belangrik en moet beslis nie verminder word met bekalking nie.
Mite: Vloeibare kalk teen baie laer toedieningspeile as “gewone” landboukalk is koste- en moeitebesparend
Situasie
Die vervaardigers van een van hierdie produkte beweer dat ‘n toediening van 10 liter/ha van hulle produk gelyk is aan ‘n toediening van 2 ton/ha droë dolomitiese landboukalk.
Indien die berekenings gedoen word, kom dit daarop neer dat ongeveer 0,24 kg fyn kalk (fyner as 0,015 mm) per hektaar ‘n reaksie in die grond sal gee gelykstaande aan 2 000 kg konvensionele kalk per hektaar.
Dit is waar dat kalk beter reageer met die grond hoe fyner dit is. Indien dié bewering egter van nader beskou word, beteken dit dat ‘n kalktoediening van ongeveer 0,1 mg/kg (0,1 dele per miljoen) dieselfde reaksie as ‘n kalktoediening van ongeveer 830 mg/kg (830 dele per miljoen) gee.
Die massa grond per hektaar teen 20 cm diepte is ongeveer 2 400 ton oftewel 2 400 000 kg. Dit behoort dus duidelik te wees dat dit baie onwaarskynlik sal wees om enige verandering in grondontleding te bepaal met die toediening van die “vloeibare” kalk.
Die regulasies van Wet 36 van 1947 vereis ook dat landboukalk ten minste 50% fyner as 0,25 mm moet wees. Soveel as 2% van hierdie fraksie van “gewone” landboukalke kan fyner as 0,015 mm wees.
Dit beteken dat daar in 2 ton landboukalk per hektaar ten minste 20 kg kalk fyner as 0,015 mm toegedien word teenoor 0,24 kg in die “vloeibare” kalk produk. Navorsing het verder bewys dat die kalkfraksie fyner as 0,25 mm binne een jaar met die grond reageer en dan is daar nog die “reserwe” wat growwer as 0,25 mm is.
Daar word verder beweer dat die uiters fyn, vloeibare kalk baie vinnig met die grond reageer, maar ook dat die kalk so fyn is dat dit tussen die gronddeeltjies kan “spoel” met water. Indien die kalk egter so vinnig reageer, sal dit slegs verder kan bestaan as ‘n kalsium- en ‘n karbonaatioon.
Die karbonaatione sal dadelik met waterstofione in die bogrond reageer en die kalsiumione sal deur die grond se uitruilkompleks vasgehou word. Dit kan dan mettertyd afwaarts loog indien daar ‘n oormaat katione vir die uitruilkompleks van die grond is. Slegs as daar ‘n oormaat karbonaatione teenwoordig is, kan dit afbeweeg en grondsuurheid in die ondergrond neutraliseer. Hierdie proses sal egter etlike jare neem afhangende van reënval en bewerking. Soos reeds genoem, sal daar bykans geen addisionele ontleedbare ione wees met die toediening van die “vloeibare” kalk teen bogenoemde toedieningspeil om af te beweeg nie.
Gevolgtrekking
Dit sal waarskynlik baie minder moeite en koste wees om die vloeibare kalk te gebruik in plaas van droë landboukalk. Daar sal egter waarskynlik geen waarneembare reaksie in die grond verwag word indien die vloeibare kalk toegedien word volgens die vervaardiger se voorskrifte nie. Die hoeveelheid kalk wat toegedien word, is heeltemal te laag daarvoor.
Die toedieningspeile van die vloeibare kalk sal aansienlik aangepas moet word. Dit is te betwyfel of die vloeibare kalk dan goedkoper as die droë landboukalk sal wees.
Produsente word aangeraai om proefnemings op klein skaal te doen met die vloeibare kalk teenoor droë landboukalk voordat hulle ‘n besluit neem.
Spesifieke katioonverhoudings in gronde word nagestreef
Uiteensetting
Daar word normaalweg gebruik gemaak van kalsium- en magnesiumverhoudings asook die magnesiumontleding om ‘n keuse tussen die toediening van dolomitiese of kalsitiese kalk te maak.
Daar word ook in verskeie publikasies aangedui wat as ”algemene” katioonverhoudings in gronde beskou kan word. Dit kom daarop neer dat kalsium die dominante katioon behoort te wees, gevolg deur magnesium en kalium.
Navorsing bewys dat kaliumwaardes hoër as magnesium tot onderdrukking van magnesiumopname, ten gunste van kalium kan lei. Só is ook bewys dat magnesiumwaardes té na aan kalsiumwaardes op sanderige gronde tot korsvorming kan lei. Té hoë natriumwaardes hou verband met grondverbrakking.
Ten spyte van die spesifieke waardes wat in die literatuur vir die verhoudings genoem word, is daar geen navorsing wat bewys dat die handhawing van dié verhoudings hoër opbrengste tot gevolg het nie solank grondsuurheid by aanvaarbare vlakke bestuur word en die betrokke katione bo sekere drempelwaardes is.
Dit blyk ook dat dit ‘n relatiewe duur proses is om die katioonverhoudings te bewerkstellig en te handhaaf. Vir die landboukalk en -gipsbedryf kan dit lei tot verhoogde verkope, maar kommer het ontstaan dat dit nie geregverdig kan word vir produsente nie.
Daar is werkswinkels deur die Misstofvereniging van Suider-Afrika (MVSA), nou Fertasa, gehou met verteenwoordigers van die bedryf om dié praktyk te bespreek. Daar kon egter nie bewyse gelewer word dat die opbrengs van enige gewasse verband hou met spesifieke katioonverhoudings in die grond nie. Daar is wel wetenskaplike bewyse gelewer dat opbrengs met sekere drempelwaardes van magnesium en kalium verband hou. Drempelwaardes vir kalsium is meestal gevind in potproewe.
Vooraanstaande landboukundiges in Suid-Afrika het hulle onlangs uitgespreek teen die praktyk om spesifieke katioonverhoudings na te streef en produsente afgeraai om dit toe te pas.
Aanhangers van dié praktyk is versoek om bewyse ten gunste daarvan voor te lê, maar daar is egter tot dusver geen sulke bewyse gelewer nie.
Gevolgtrekking
Produsente word dus op hierdie stadium afgeraai om spesifieke verhoudings van katione in gronde na te streef. Hulle behoort eerder aandag te gee aan die handhawing van sekere drempelwaardes vir die katione.
Produsente word egter aangemoedig om proefnemings te doen om vas te stel of dié praktyk enige meriete het in hulle situasie. Voorstanders van dié praktyk word ook aangemoedig om wetenskaplike bewyse vir dit te verkry sodat kennis uitgebrei kan word in hierdie verband.
Suid-Afrikaanse laboratoriums kan sekere landboukalke nie ontleed nie
Situasie
Laboratoriums in Suid-Afrika kan enige soort landboukalk ontleed om vas te stel of dit aan die vereistes van Wet 36 van 1947 voldoen. Die samestelling in terme van persentasie kalsium en persentasie magnesium asook die kalsium karbonaat ekwivalent (KKE) tesame met die fynheid, word op roetinebasis ontleed deur alle laboratoriums wat lede van ALASA is. Geen landboukalkmonster hoef oorsee gestuur te word vir ontleding nie.
Gevolgtrekking
Dit is in die produsent se belang om vas te stel of die landboukalk wat aangekoop word aan alle vereistes voldoen. Indien daar twyfel bestaan oor die produk se samestelling, moet die produsent ‘n ontleding laat doen. Verkieslik moet gebruik gemaak word van ‘n neutrale persoon of instansie om die monsterneming en -indiening by die laboratorium te doen.
Samevatting
Daar is dikwels verskillende menings oor hoe grondsuurheid bestuur moet word. Dit is egter belangrik dat wetenskaplike bewyse altyd as grondslag vir aanbevelings moet dien.
Vir meer inligting, kontak dr Pieter Human by ph@exactlime.co.za of 083 290 0334.
Publication: July 2015
Section: Focus on