July 2015
ANDRÉ NEL, LNR-Instituut vir Graangewasse
Bewaringsboerdery het voor- en nadele. Een van die belangrikste voordele wat dit vir boerdery as ‘n besigheid in hou, is die kleiner belegging in trekkers en implemente. Trouens, ‘n afname in die benodigde belegging in trekkers, is tipies 65% en in sommige gevalle selfs meer. Die besparing is aansienlik as in ag geneem word dat die belegging in trekkers gewoonlik 1 kW per hektaar of meer beloop en die prys van ‘n 70 kW trekker tans R8 000 of meer per kilowatt is.
Bewaringsboerdery is egter nie net besparings en eenvoud nie. Uit gawes aan onkruiddoders verhoog gewoonlik dit wat die besparings op bewerkings gewoonlik uitwis. Verder verg dit goeie bestuur en groter kennis van onkruidbestryding as wat met konvensionele bewerking die geval is. Dit is ook moeiliker om bewaringsboerdery op sand- as op leem- en kleigrond te laat slaag, wat besondere goeie waarneming, oordeel en besluitneming vereis.
Die grootste voordeel van bewaringslandbou is, soos die naam aandui, die bewaring van grond en die langtermynvolhoubare graanproduksie wat daaruit voortvloei.
Die bekende beginsels van bewaringsboerdery is minimum grondversteuring, die behoud van ‘n deklaag van oesreste en die toepassing van wisselbou. Van die eerste voordele wat gou na vore kom, is verminderde erosie en ‘n verhoogde waterinfiltrasietempo van die grond. Die organiese materiaalinhoud van die grond verbeter ook, veral in die boonste sowat 50 mm van die grondprofiel wat ‘n baie belangrike voordeel is.
Die waardevolle rol wat organiese materiaal op die chemiese, fisiese en biologiese eienskappe of kwaliteit van die grond speel, is baie lank reeds bekend. Organiese materiaal kry egter nie die aandag wat dit verdien nie – waarskynlik weens ‘n persepsie dat niks gedoen kan word om die inhoud daarvan in die grond te verhoog nie. Verder is dit ook bekend dat die organiese materiaal van grond in die somersaaigebied met sowat 60% afgeneem het weens bewerking.
Organiese materiaal bestaan onder meer uit koolstof. Met laboratoriumontledings word die organiese koolstofinhoud bepaal en so gerapporteer. Dié resultaat kan dan gebruik word om die organiese materiaalinhoud van die grond te bereken. En die som is eenvoudig. Die organiese materiaalinhoud is 1,72 keer die organiese koolstofinhoud. Sou ‘n grond se organiese koolstofinhoud byvoorbeeld 0,5% wees, dan is die organiese materiaalinhoud 0,85%.
Die organiese materiaal in grond bestaan uit drie komponente. In eenvoudige terme kan dit die “lewende”, die wat “onlangs dood” is en die wat “lankal dood” is, genoem word. Die “lewende” komponent bestaan uit plantwortels, mikro- en meso-organismes, soos swamme en erdwurms. Die lewende komponent maak gewoonlik tussen 2% en 15% van die totale organiese koolstofpoel uit.
Die “onlangs dooie” materiaal bestaan uit oesreste, wortels, mikro- en meso-organismes wat onlangs dood is en waarvan die oorspronklike organisme gewoonlik nog identifiseerbaar is. Dié deel van die organiese materiaal is die aktiewe, of maklik afbreekbare deel en is die hoofvoedingsbron vir mikro-organismes, insekte en erdwurms.
In die afbrekingsproses word die bekende voedingselemente, soos fosfor en stikstof, vir plante beskikbaar gestel. Organiese stowwe wat tydens die afbrekingsproses van die “onlangs dooie” materiaal vrygestel word, help om gronddeeltjies saam te bind wat dan aan die grond struktuur gee. ‘n Groot deel van dié afbrekingsproses vind by, of naby, die grondoppervlak plaas aangesien dit die plek is waar die meeste plantmateriaal voorkom.
Die “lankal dooie” materiaal is humus. Humus is die oorblyfsel van organiese materiaal wat deur die mikrobiese afbrekingsproses is en speel ‘n baie belangrike rol in grond. Dit dien as stoorplek vir plantvoedingselemente vir latere vrystelling en is in dié opsig beter as klei weens ‘n hoër katioon-adsorpsievermoë. Dit kan ook skadelike chemiese stowwe vasvang en só gewasskade voorkom. Genoegsame humus kan grondkorse en kompaksie beperk en selfs die waterhouvermoë van grond verbeter.
‘n Afname in die organiese materiaal van grond gaan gepaard met ‘n toename in probleme met vrugbaarheid, voghouvermoë, komp aksie, korsvorming, erosie, parasiete soos aalwurm, siektes en selfs insekte.
Dié probleme is oorbekend en is kenmerkend van die lae kwaliteitsvlak wat van ons gronde reeds bereik het. Ingrypende aksies word gewoonlik gebruik om van die probleme op te los of teë te werk. Ongelukkig bied dit meestal net ‘n tydelike oplossing, maar vererger of skep nuwe probleme in die lang termyn.
Deur byvoorbeeld ‘n grondkors of kompaksie met bewerkings op te hef, word die probleem tydelik opgelos, maar ondermyn die organiese koolstofinhoud. Aggressiewe chemikalieë wat vir ‘n plaag aangewend word, kan die balans van organismes in grond versteur en die geleentheid vir ‘n volgende patogeen skep om skade aan te rig, selfs aan die opvolggewas.
Die organiese materiaalinhoud van ons bewerkte grond in die somerreënvalgebied is laag in vergelyking met dié van lande soos Argentinië, en dit word deur verskeie faktore teweeg gebring. Ons relatiewe warm klimaat bevorder die vinnige afbreking van organiese materiaal.
Die meeste van ons grond het ‘n sanderige tekstuur wat goed deurlug is en wat ook die vinnige afbreking van organiese materiaal bevorder. Die toevoeging van plantaardige materiaal tot ons grond is ook betreklik laag weens die relatiewe lae reënval.
Mieliereste wat nie aan die grond geanker is nie, word maklik deur die wind weggewaai en baie word ook vir veevoer verwyder. Alhoewel die bogrondse plantmateriaal na raming sowat een derde tot grond se organiese materiaalinhoud bydra, is dit belangrik om dit op die grond te hou, anders word die agteruitgang van die grond se kwaliteit net bevorder.
Die vraag of organiese materiaalinhoud verhoog kan word, word dikwels deur bewaringsbewuste produsente gevra. Die antwoord is in een opsig ‘n “nee” en in ‘n ander opsig ‘n “ja”.
Nee, die organiese materiaal kan nie verhoog word nie. Navorsing en ondervinding het getoon dat ‘n verhoging van die organiese materiaal, indien wel, nie gou plaasvind nie. Dit vereis dat soveel moontlik plantmateriaal geproduseer en op die grond gelaat moet word of dat organiese materiaal, soos voerkraalmis, in groot hoeveelhede toegedien word of dat ‘n gras-rus-land-stelsel gebruik word. Dan kan dit steeds jare neem voordat ‘n toename waargeneem kan word.
Anders beskou, kan die organiese materiaalinhoud spoedig verhoog. By geenbewerking met behoud van oesreste, begin organiese materiaal binne enkele jare in die boonste 50 mm van grond toeneem. Dit is as gevolg van oesreste en die konsentrasie van plantwortels wat in dié sone voorkom asook die feit dat dit nie meer met dieper lae van die grond deur bewerkings vermeng word nie. Oor die geheel van die grondprofiel gesien, is daar gewoonlik egter nie gou ‘n toename nie.
Die voordele wat die verryking in die bogrond meebring, is ooglopend. Grondkorse vorm nie meer so maklik nie. Bewaringsprodusente se ondervinding toon ook dat ‘n rol-eg-aksie om ‘n grondkors tydens die opkoms van ‘n gewas te breek, onnodig raak.
Die invloed wat die verhoging in organiese materiaal plus die oesreste op die grond se waterinfiltrasietempo het, kan dramaties wees. Op ‘n tipiese Hutton-grond in die Noordwes Provinsie, wat 16% klei bevat met ‘n 1,8%-helling en wat onder bewaringsboerdery is, neem dit minder as 3,5 minute vir 27 mm water om te infiltreer.
Op dieselfde geploegde grond neem dit 17 minute vir 27 mm water om te infiltreer weens ‘n infiltrasiekors wat die onbeskermde grond met ‘n laer organiese materiaalinhoud, vorm. Afloop en erosie wat met dié lae infiltrasietempo gepaardgaan, is ‘n gereelde gesig tydens reënbuie.
Die invloed wat die verskil in afloop en infiltrasie van water op die opbrengs van gewasse het, kan dramaties wees en dit kom veral gedurende droogtes na vore. Gedurende die 2012/2013-seisoen met sy Februarie- en Maart-droogteperiode was die opbrengs van mielies op geploegde grond slegs 1,8 ton/ha teenoor die 4,2 ton/ha van dié in bewaringsboerderystelsels.
Alhoewel die opbrengs van die huidige seisoen (2014/2015) nog nie bepaal is nie, is dit duidelik dat soortgelyke resultate verwag kan word.
Die laat van voldoende oesreste op die grond en die opbou van organiese materiaal in grond, veral die boonste gedeelte van die profiel, is die basis van volhoubare landbou en alle maatreëls behoort getref te word om dit te bevorder. Deur soveel moontlik materiaal op die land te los en ‘n variasie van gewasse in wisselbou te plant, word dit bevorder.
Dit het tyd geword vir bewaringsprodusente om die bedekking van hul grond met plantmateriaal te meet asook die koolstofinhoud in die boonste 50 mm van die grondprofiel. Want, om te meet is om te weet of jou bewaringsaksies suksesvol is, al dan nie.
Publication: July 2015
Section: Focus on