Basiese beginsels bly bobaas

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

610

Hoewel hy beeste en skape ken en ’n voerkraal en slagpale bestuur, beskou Michael Daly homself nog as ’n groentjie as dit by graanverbouing kom. Die feit dat hy drie jaar gelede vir die eerste keer mielies en sonneblom begin plant het, het egter nie verhoed dat hy vanjaar as wenner aangewys is in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie se afdeling waarin spesifiek gekyk word na sonneblomgraanopbrengs nie.

Michael boer op die plaas Glenross in die Virginia-distrik en dit is die eerste jaar wat hy aan die opbrengskompetisie deelneem.

Hy sê die grond op die plaas is nie homogeen nie en bestaan uit gedeeltes rooigrond, maar ook dele wat redelik sanderig is. Hy plant mielies en sonneblom in ’n wisselboustelsel. Nadat die mielies gestroop is, wei die dragtige ooie wat normaalweg in Junie lam op die mielie-oesreste.

Die baie reën wat gedurende die 2021/2022-seisoen geval het, het egter veroorsaak dat hy nie mielies op hierdie spesifieke land geplant kon kry nie. Omdat die seisoen laat begin raak het, het hy sonne­blom geplant. Dit was dalk ’n bedekte seën, want op hierdie land het hy ’n wensonneblomoes gestroop.

Michael Daly is aangewys as die wenner in die kategorie waar spesifiek gekyk word na sonneblomgraanopbrengs.

Hoë reënval het egter steeds vir uitdagings gesorg. “Daar was tye wat ek bekommerd was omdat ons nie kon rol wanneer ons wou om die sonneblom op te kry nie. Gedurende die seisoen was die lande ook uiters nat en dit het weer die skoffelwerk moeilik gemaak. Ons is egter dankbaar en kon ’n goeie oes realiseer.”

Michael het 4,09 t/ha gestroop met die Pannar-kultivar PAN 7080. Hy sê dis die kultivar wat hy plant sedert hy met sonneblom begin het en tot dusver het dit hom nie teleurgestel nie. In totaal het hy 200 ha van dié kultivar geplant. As die opbrengs bereken word volgens die reënval ontvang, beloop dit 5,9 kg graan/mm reën. Sy totale variërende insetkoste was R1 621/ton.

Hy het die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, nie anders hanteer nie. “Ek was eintlik nie bewus daarvan dat ek aan ’n opbrengs­kompetisie deelneem nie. Nadat ons gestroop het, het die verteenwoordiger my vertel dat hy my wil inskryf. Ek kon dus nie vooraf planne maak om iets anders op die land te doen nie. Dit dien ook as ’n aansporing om te weet dat ek met normale goeie praktyke sukses kan bereik.”

Omdat sy aanvanklike beplanning was om mielies op daardie gedeelte te plant, het hy wel ’n kontrakteur aangestel om die land 700 mm diep met ’n skeurtandimplement op die plantrye te bewerk. Dit blyk dat dit voordelig was vir die sonneblom, sê hy. Hy het ook gerol na plant om seker te maak dat die sonneblom mooi en egalig opkom.

Wat bemesting betref, gebruik hy Omnia se kunsmis. Hy het voor planttyd bemes en ook weer na plant topbemesting toegedien.

Daar is onkruiddoder voor opkoms gespuit en na opkoms het hy tussen die rye geskoffel. Hy het voorkomend vir Sclerotinia gespuit, omdat hy bang was vir besmetting as gevolg van die toestande wat so gunstig was vir die siekte.

Michael meen sy grootste uitdaging is kontantvloei. “Ek probeer om kontant te boer en nie onnodig skuld aan te gaan nie. Dit kos egter goeie beplanning om die kontantvloei gesond te hou. Dit bly elke jaar ’n uitdaging.”

Die afgelope seisoen se uitermatige reënval het sy eie kwota probleme gebring. Hy sê egter dat hy gelukkig is met die Omnia-verteenwoordiger wat hom altyd van goeie raad voorsien. Sy raad aan ander produsente wat nou begin, is om nooit skaam te wees om vrae te vra nie. “Ek bel en vra vrae. Ek kyk ook in die omgewing na wat ander boere doen en hoe hulle probleme oplos. Deur goeie waarneming en gesprekke met medeboere kan ’n mens baie leer.”

Michael meen dit is belangrik om op die basiese aspekte van boerdery te fokus. “Ek leer nog, maar dit is vir my belangrik om die basiese beginsels noukeurig en reg te doen. Vir eers fokus ek daarop.”