RPO sit koppe bymekaar by kongres

1141

October 2016

GERHARD SCHUTTE, Rooivleisprodusente-organisasie

Die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se nasionale kongres en konferensie het onlangs op Parys in die Vrystaat plaasgevind. Tydens die kongres is mnr Koos van der Ryst van die Noord-Kaap as nuwe voorsitter aangewys in die plek van mnr Lardus van Zyl, wat uitgetree het.

Die Uitvoerende Raad van die RPO is by die kongres versoek om ‘n uitvoerstrategie vir die bees- en skaapvleisbedrywe te ontwikkel, wat sal verseker dat primêre produsente hul regmatige premies sal ontvang.

Daar is verder versoek dat die Uitvoerende Raad, indien nodig, sal oorweeg om aansoek te doen vir statutêre fondse om die strategie te implementeer. Die strategie moet in samewerking met die Rooivleisbedryfsforum oorweeg word.

Veeprodusente se ekonomiese oorlewingsvermoë is onder druk en uitvoere kan die winsgewendheid van die bedryf bevorder. Die kommersiële bees- en skaapvleisbedrywe is internasionaal kompeterend en die huidige wisselkoers ondersteun die uitvoermarkte.

Hoewel rooivleis tans na 42 lande uitgevoer word, is daar nog nie daarin geslaag om die premiemarkte te ontgin nie – en dit moet die doelwit wees. Die Europese Unie, VSA en Chinese markte wil voorkom asof dit premiemarkte kan wees.

Die internasionale vraag na rooivleis styg steeds en toon hoë groeisyfers – veral in die vraag na rooivleis in die Afrika-mark, terwyl die vraag na voedsel in Oos- en Suider-Afrika sal verdriedubbel tot die jaar 2040.

Daar is aanbeveel dat die volgende gedoen word:

  • Verbruikersverwagtinge moet gediens word.
  • Ondoeltreffendheid in die voorsieningsketting moet aangespreek word.
  • Beleidsaspekte om mededingendheid te verbeter, moet aangespreek word.
  • Marktoegang moet bepaal word.
  • Geleenthede in innovasie van handelsmerkontwikkeling moet benut word.
  • Handelsbeperkinge moet bekend wees.
  • Beleidsaspekte om mededingendheid te verbeter moet aangespreek word.
  • Benutting van die “Red meat value chain round table” om rooivleisuitvoere te bevorder.
  • Die daarstel van ‘n hoë dieregesondheidstatus soos deur die World Organisation for Animal Health (OIE) erken.
  • Verwerwing van ‘n bees sponsagtige ensefalopatie (BSE of malkoeisiekte)-vrye status by die OIE.
  • Die daarstel van ‘n effektiewe Brusselose-bekampings- en -uitroeistrategie.
  • Behoud van Suid-Afrika se bek-en-klouseervryesonestatus – ten alle koste. Die daarstel van doeltreffende nasionale en provinsiale diere gesondheidsforums wat die nasionale en provinsiale departe mente ondersteun om sterk vertroue in Suid-Afrika se dieregesondheidstelsel te verseker.
  • Die daarstel van doeltreffende stelsels wat die bemarkingskoste in die uitvoerlande kompeterend sal hou.
  • Balansering van die in- en uitvoer van bees- en skaapvleis.
  • Verseker dat primêre produsente en ontwikkelende produsente deel in premies wat behaal word in die uitvoermarkte.
  • Vestig verbruikersvertroue in terme van vleisveiligheid, higiëne en residu-monitering.
  • Voldoende geakkrediteerde uitvoerabattoirs moet beskikbaar wees.
  • Uitvoerprotokolle moet beskikbaar wees.
  • Gunstige onderhandeling van handelsooreenkomste.

Skaapwaardeketting kan werk

“Die skaapwaardeketting word gekenmerk deur ‘n ouderwetse verhandelingsomgewing met ‘n nuwerwetse verbruiker, maar dit is moontlik om ‘n waardeketting te bou wat werk,” het mnr Alex Cilliers (GWK) tydens die RPO se nasionale konferensie gesê.

Hy het gesê daar is verskeie faktore wat daartoe bydra dat die skaapwaardeketting breekbaar is. Die eerste is voorsiening. Die land se dalende nasionale kudde lei tot wisselvallige voorsiening. Verder is die boerderypraktyke in die skaapbedryf nie net verouderd nie; die praktyke is ook hoofsaaklik ekstensief. Bemarking is spekulatief van aard, daar bestaan wantroue teenoor die ander rolspelers in die ketting en bemarking is op eie behoeftes en praktyke gebaseer en nie op die mark nie.

Voorsiening is die tweede faktor wat probleme veroorsaak. Daar is nie net ‘n oorkapasiteit van abattoirs nie, swak regulering en polisiëring van gehalte en gradering is ook algemeen. Die hoë koste van vervoer en kommissie maak mededinging duur.

Die verspreiding van skaapvleis word deur die groothandel hanteer, waar hoogs spekulatief gekoop word soos wat die geleenthede hulle voordoen. Die grootste drywer van pryswisselvalligheid is die feit dat pryse afgedruk word om marges in ‘n stadige mark te realiseer.

“Die kleinhandel benodig konstante voorsiening, konstante kwaliteit en minimale pryswisselvalligheid. Kleinhandel-vleisverkope deur kettinggroepe soos Woolworths, Pick n Pay en Checkers bly groei, maar verbruikers maak deurentyd keuses en soek waarde vir geld en/of oorsprong. Tans maak skaap- en lamsvleis slegs sowat 13% van die volume vleisverkope in die land uit,” het Cilliers gesê.

Moderne verbruikers is mense want nie vleis wil sny of verpak nie; hulle is onkundig wat gradering en snitte betref, het nie meer grootmaat-vrieskaste nie, soek waarde vir geld en kwaliteit, wil weet waar vleis vandaan kom (oorsprong), hou van konstante aanbieding en maak deurlopend keuses.

Publication: October 2016

Section: Focus on