Is die Grondboonforum op koers?

1189

February 2017

ADRI BOTHA, voorsitter: SA Grondboonforum

Die Suid-Afrikaanse Grondboonforum (SAGF) herdenk hierdie jaar twee dekades waarin dit die verteenwoordigende liggaam en erkende stem van die plaaslike grondboonbedryf was.

In ‘n konstante soeke na oplossings om die uitdagings van ʼn altyd-veranderende omgewing die hoof te bied, skep die SAGF ʼn sentrale, deursigtige en inklusiewe platform vir alle belanghebbende partye binne die grondboonbedryf om deel te neem aan en insae te hê in die strategiese rigting en doelstellings van die bedryf.

Kenmerkend aan enige bedryf is die konflik wat noodgedwonge ontstaan tussen die belang van landbou aan die een kant en kommersiële handel aan die ander. Die SAGF dien as ‘n oorbruggende meganisme tussen alle sektore met die doel om wedersydse begrip en verenigde samewerking – tot voordeel en beskerming van die belange van almal betrokke – te bewerkstellig.

Die SAGF word verder verteenwoordig op die Oliesade Advieskomitee (OAK), wat tesame met die Olie- en Proteïensade Ontwikkelings Trust (OPOT), verantwoordelik is vir die bestuur en finansiëring van navorsingprojekte namens die oliesaadbedrywe.

Deelname deur belanghebbendes is van kardinale belang in die sukses van enige liggaam en die SAGF is geen uitsondering nie. Om waarlik die stem van die bedryf te wees, moet die bedryf weliswaar ook hul individuele stemme hoorbaar maak om te verseker dat die groter belang altyd korrek geïnterpreteer en aangespreek word sodat doelwitte en navorsingsbehoeftes deeglik verwoord en oorgedra kan word.

Strategiese doelstellings

2016 sal seker vir lank onthou word as die jaar met die kleinste grondboonoes op rekord en dit is eweneens ook die jaar waarin die forum sy strategie vir die toekoms heroorweeg het. Die lede van die SAGF het hulself ten doel gestel om struktuur te gee aan strategiese doelstellings en daar is ooreengekom dat die be vindings van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se grondboonvolhoubaarheidstudie van 2012 steeds geldig is en as basis en raamwerk vir die identifisering van sleutelareas sal dien.

Een van die belangrikste temas wat in die verslag uitgelig is, is die funksionering van die bedryf as ‘n groter liggaam. Sover dit die aksies van die SAGF aangaan, sal dit alle bespreking en projekkoördinering, deursigtigheid en samewerking voorop stel. Die mate van wantroue wat in die bedryf bestaan, sal deur gedeelde doelwitte en oop kommunikasie teëgewerk word.

Die rol en mandaat van die SAGF is heroorweeg, duidelik uitgelê en die struktuur word opnuut aan alle belanghebbendes be kendgestel. Die nuut-aanvaarde “Terme van verwysing” (Terms of reference) is op aanvraag beskikbaar, maar is ook te vinde op die forum se webtuiste (www.sagroundnut.com). In die aanhangsel daartoe, word ooreengekom op die mees kritiese doelstellings – wat op ‘n jaarlikse basis hersien en aangepas sal word en by elke vergadering bespreek word.

Hoër opbrengste

Die behoefte aan hoër opbrengste bly egter onteenseglik die één kwessie wat stabiliteit en groei vir die bedryf inhou. Aanvraag, beide plaaslik en oorsee, is by verre groter as dít waarin die plaaslike aanbod die afgelope paar jaar kon voorsien en lei tot die vraag: Wat sal ons produsente aanspoor tot groter aanplantings?

Terugvoer oor opname

Om te bevestig of weerlê wat ons dink ons weet, het die SAGF verlede jaar ‘n interne aksie geloods waardeur deelnemers in die bedryf gevra is om hul sentimente rondom die grondboonbedryf met ons te deel. Met die ondersteuning van Graan SA en individuele verwerkingsaanlegte is die vraelyste ook onder produsente versprei om te verseker dat inligting van die bedryf, waar kwessies rakende opbrengs en kultivar hul grondslag het, bekom word.

Soos verwag kon word, staan opbrengs, droogteverdraagsaamheid en weerstand teen siektes voorop as die hoogste prioriteite wanneer wenslike eienskappe in kultivars ter sprake kom. Die tipe (byvoorbeeld Spaans of ranker) asook die grootte van pitte blyk ook van belang te wees in die meeste gevalle – veral wat die res van die bedryf betref. Daar is konsensus dat internasionale materiaal vir plaaslike aanpasbaarheid in proewe geëvalueer behoort te word, maar dit is duidelik dat kultivars gekeur moet word om seker te maak dat dit aan markvereistes voldoen en dat dit ‘n redelike kans vir sukses onder plaaslike produksie-omstandighede toon.

Die lyne wat in die laaste paar jare in die grondboon-eliteproewe ingeskryf is, het nie die resultate gelewer waarop gehoop is nie en oor die algemeen nie beter gevaar as ons plaaslik-ontwikkelde kultivars nie…in elk geval nie tot so ‘n mate dat die eienaars van die lyne gretig is om dit hier te kom registreer en bemark nie.

Hierdie sentiment is in die opname deur verskeie produsente wat eerstehandse ondervinding met van hierdie of soortgelyke kultivars opgedoen het gedeel, terwyl dit uit ander oorde blyk dat daar tog hoop in dié verband is.

Die data dui verder daarop dat 69% van respondente van mening is dat gemiddelde opbrengste van 2 t/ha hoër aanplantings in die droëlandgebiede sal aanwakker, terwyl 80% van droëlandprodusente wat die vraelys voltooi het, aandui dat ‘n verhoging in opbrengs van 0,5 t/ha vir hul voldoende aansporing sou wees om hul aanplantings te verhoog. In kort bly opbrengs, prys, meganisasie en massa hantering (laasgemelde twee toenemend in die afgelope paar jaar) die grootste oorwegings vir grondboonprodusente wanneer dit by die besluit om te plant kom, maar respondente voel dat 90 000 ha gemiddeld (en selfs hoër) weer haalbaar is.

Die uitslag op die vraag rakende die mees wenslike kultivareienskappe word in Tabel 1 weergegee.

In terme van bemarkbaarheid van tipes grondbone is 57% van respondente dit eens dat die tipe grondboon tog belangrik is vir plaaslike bemarking, terwyl 89% voel dat dit baie belangrik vir uitvoermarkte is. Suid-Afrika is een van die min lande wat meeding in die Spaanse-tipe markomgewing en daar is ‘n algemene gevoel dat die voordeel en pryspremie nie goedsmoeds versaak moet word nie, maar dat daar geleentheid vir verskillende tipes is om sodoende ‘n verskeidenheid markte te bedien…dit kom alles weer neer op opbrengs en aanpasbaarheid in plaaslike omstandighede.

Respondente was verdeeld oor die vraag of die afwesigheid van ‘n deursigtige prysmodel ‘n stremmende effek op die plaaslike bedryf het. Sekeres voel dat die vryemarkstelsel, waar pryse tussen verwagtinge van die mark en dié van produsente bepaal word voldoende is, terwyl ander meer skepties is. Hierdie aangeleentheid is ook deur die BFAP-verslag uitgewys en die bedryf sal in die toekoms moet besin oor moontlike haalbare oplossings.

Vanuit produsentegeledere is aangedui dat daar onsekerheid en selfs onkunde bestaan rakende die toepassing van graderingsriglyne. Volgens regulasies is daar nie enige amptelike of gereguleerde produsentevoorraadstandaarde nie. Daar bestaan egter al vir etlike jare ‘n “produsentevoorraadriglyn” wat tot ‘n mindere of meerdere mate in die bedryf gebruik word.

Tydens die tweede SAGF-vergadering in 2015 is ‘n besluit geneem dat die SAGF in die toekoms verantwoordelikheid vir hierdie dokument sal aanvaar om sodoende toe te sien dat rolspelers toegang het tot een standaardriglyn waarvan die toepassing dan tussen kontrakterende partye ooreengekom kan word.

Die behoefte dat die riglyn hersien word, is ook tydens die vergadering geïdentifiseer en ‘n projekaansoek sal ingedien word vir die verdere uitbreiding daarvan om voorsiening te maak vir riglyne rakende massa en “nat” innames deur aanlegte.

Hierdie projek sal vroeg in hierdie jaar vir finansiering voorgelê word en, indien goedgekeur, oor twee seisoene deur die Bederfbare Produkte Uitvoerbeheerraad (PPECB) geloods word. Beide die bestaande, en later ook opgedateerde, riglyn sal op aanvraag, asook op die forum se webtuiste beskikbaar wees. Produsente het voorts hul mening oor die belangrikheid van die onderskeie produksiefaktore gegee. Dit word in Tabel 2 saamgevat.

Elite-kultivarproewe

Met die doelwit om beter en meer geskikte kultivars in toekomstige proewe in te sluit, word daar tans, ter ondersteuning van en via die OAK en OPOT, gewerk om die bestuur en struktuur van die Elite-kultivarproewe sodanig te wysig dat groter belangstelling by internasionale kultivareienaars aangewakker kan word.

Uit die aard van ooreenkomste met die entiteite wie se regte beskerm moet word, is daar streng beperkings wat gestel word op die beskikbaarstelling van inligting uit hierdie proewe…wat dan ook as ‘n groot frustrasie in die opname aangedui is.

‘n Daadwerklike poging sal in die toekoms aangewend word om beskikbare inligting aan die bedryf oor te dra, terwyl alle sorg gedra sal word om telersregte te beskerm en sodoende die Suid- Afrikaanse bedryf as verantwoordelike vennoot te promoveer.

Tydens die Oktober-vergadering van die SAGF het dit ter sprake gekom dat, bo en behalwe die soeke na nuwe en beter kultivars, daar ook ‘n behoefte is aan die deurlopende evaluering van bestaande, plaaslik-geregistreerde kultivars. Hierdie hoofsaaklik LNR-, maar ook privaat-ontwikkelde kultivars, is voorheen vir ʼn aantal jare by amptelike proewe ingesluit om data onder verskillende omstandighede beskikbaar te stel en is uit ‘n navorsingsoogpunt as voldoende beskou.

Uit bedryfsgeledere is daar egter besluit om ‘n taakspan saam te stel wat, onafhanklik en in samewerking met die LNR, evalueringsproewe sal laat aanplant en bestuur ter bevestiging van hoe hierdie bestaande kultivars onder huidige omstandighede vaar.

Die aanduiding van die taakspan is dat opedae vir Maart vanjaar beplan word, waar produsente en ander belangstellendes meer inligting kan bekom. Hierdie inligting sal ook deur die SAGF, LNR, Graan SA en ander kanale beskikbaar gestel word.

Die SAGF is verder in die proses om hierdie jaar ‘n kultivarhandleiding saam te stel wat al die eienskappe van geregistreerde kultivars sal opsom.

Daar is geen twyfel dat die grondboonbedryf verskeie groot uitdagings in die oë staar nie. Juis daarin lê ons potensiaal en voorneme egter – om beperkings trompop aan te durf en nooit bes te gee in ons soeke na beter oplossings nie – op individuele vlak, maar veral ook as medewerkers in ‘n groter milieu.

Indien jy enige navrae of kommentaar het, sien ons uit om van jou te hoor. Stuur gerus ‘n e-pos na groundnutforum@opot.co.za of bly op hoogte deur op ons webtuiste in te skakel by www.sagroundnut.com vir brokkies inligting en toegang tot riglyndokumente.

Jy kan ook meer oor die werksaamhede van OPOT en die OAK te wete kom deur hul webblad by www.opot.co.za te besoek.

Publication: February 2017

Section: Focus on