February 2018

Luan van der Walt, landbou-ekonoom, Graan SA

Die plaaslike grondboonmark was die afgelope paar jaar uiters wis­selvallig – hoofsaaklik as gevolg van die wisselvallige weerstoestande wat die afgelope twee tot drie jaar in die plaaslike produksiegebiede voorge­kom het.

Oor die algemeen produseer ons land meer grondbone as wat plaaslik verbruik word. Suid-Afrika is daarom is ‘n netto uitvoerder van grondbone. Die afgelope paar seisoene was die produksie hoofsaaklik onder druk. Die kleinste grondboonoes op rekord is in die 2016/2017-seisoen geproduseer.

Dit het die land in ‘n tekortsituasie gelaat en grondbooninvoere was nodig om aan die plaaslike vraag te voldoen. Die daaropvolgende seisoen (2017/2018­­-seisoen) was ‘n besonder goeie seisoen vir die meeste van die somergrane en oliesade – en ook vir grondbone – en die produksie en kwaliteit vir die seisoen was uitstaande. Dit het ons weer in die posisie geplaas om grondbone uit te voer, wat uit die aard van die saak weer ‘n noemenswaardige impak op pryse gehad het. Grafiek 1 toon die jaarlikse gemiddelde oppervlakte aan­geplant, produksie en verbruik van grondbone in Suid-Afrika.


Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat die produksie die verbruik onder normale omstandighede oorskry en dat daar in die meerderheid van die seisoene plaaslik meer geproduseer word as wat verbruik word. Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die oordragvoorraad van die vorige seisoene bydra tot die totale bruikbare voorraad vir die huidige seisoen. Daar is meer voorraad beskikbaar as bloot die produksie vir die seisoen.

Wat bepaal die plaaslike kommoditeitspryse?
Vraag en aanbod is die grootste enkele faktore wat die pryse van enige gewas/ produk bepaal. Indien die vraag die aanbod oorskry, is dit ‘n ondersteunende faktor in die mark en die pryse behoort te versterk. Indien die aanbod die vraag oorskry, beteken dit dat daar meer van die spesifieke produk beskikbaar is as wat verbruik word en dit plaas pryse onder druk.

Sedert die deregulering van die Suid-Afri­kaanse bemarkingsrade in die laat 1990’s het die land ‘n vryemarkstelsel – wat beteken dat Suid-Afrika met die gewasse wat hulle produseer in die internasionale markte moet meeding, hetsy dit aan die uitvoer- of invoerkant van die mark is.

Die internasionale gewaspryse en die wis­selkoers speel ‘n beduidende rol in die prysbepaling van die plaaslike gewasse en hierdie prysvlakke staan bekend as die invoer- en uitvoerpariteitspryse. Dit verwys na die pryse waarteen die plaaslike gewaspryse moet verhandel om in die internasionale konteks kompeterend te wees. Wanneer die plaaslike produksie die plaaslike vraag oorskry, neig die pryse om nader aan die uitvoerpariteitsprys te verhandel. Dit is ‘n goeie aanduiding van watter pryse plaaslik ontvang sal word wanneer die produkte uitgevoer word. Indien die plaaslike produksie minder is as die plaaslike verbruik, sal die pryse nader aan die invoerpariteitsvlakke verhandel. Dit is ‘n goeie aanduiding van die pryse wat plaaslik betaal behoort te word wanneer produkte ingevoer word.

Algemene grane
Vir die meeste van die grane en oliesade wat plaaslik geproduseer word, is die bepaling van die pryse redelik voor die hand liggend, omdat die pryse daarvan op die Johannesburgse Aandelebeurs onder die vaandel van die landbouproduktemark – of beter bekend as Safex – verhandel.

Dit maak Suid-Afrika se algehele verwysingsprys vir die hele mark deursigtig. Sodoende kan al die rolspelers in die mark duidelik sien teen watter vlakke die mark verhandel en kan die produsenteprys derhalwe met gemak van die kommoditeit afgelei word.

Meeste gewasse verhandel ook, afhangende van die plaaslike vraag-en-aanbodsituasie, goed in lyn met pariteitspryse – hetsy dit ‘n invoer- of uitvoersituasie is, maar die algemene afleiding kan maklik daarvan gemaak word.

Die rede vir hierdie relatiewe goeie korrelasie is die feit dat wanneer daar internasionale handel in hierdie kommoditeite plaasvind, die verhandeling in die produk se oorspronklike vorm plaasvind. Daar is egter minimale verwerkingskostes verbonde aan die verhandeling van die kommoditeit, soos byvoorbeeld vervoer- en hanteringskostes.

Grondbone 
Die grondboonmark funksioneer egter nie so eenvoudig nie. Daar is verskeie ander faktore wat ‘n impak op die prysbepaling van grondbone het – veral wanneer dit kom by die produsenteprys. Grondbone verhandel nie soos die meeste ander gewasse op die Safex-mark nie en daar is ook nie ‘n deursigtige verwysingsprys wat aan die mark beskikbaar is, waarvan die produsenteprys afgelei kan word nie.

Met die wisselvalligheid van die plaaslike grondboonproduksie speel die in- en uit­voere ook in hierdie mark ‘n belangrike rol – en ook in die in- en uitvoerpariteitsprys daarvan.

Die verskil is egter dat die kommoditeit nie in sy oorspronklike vorm in- en uitgevoer word nie, maar wel as ‘n verwerkte produk. Die kostekomponent verbonde daaraan om die grondbone te verwerk, is heelwat duurder en nie alombekend nie – wat die produsenteprysbepaling ‘n uitdaging maak.

Grafiek 2 toon die pariteitspryse van ge­dopte Amerikaanse grondbone gelewer in Durban. Hierdie pryse is ‘n aanduiding van die prysvlakke waarteen die plaaslike grondbone onder die verskillende plaaslike scenario’s (in- of uitvoer) behoort te verhandel.

Veronderstel Suid-Afrika is in ‘n uit­voersituasie as gevolg van die feit dat die plaaslike produksie die plaaslike ver­bruik oorskry. Dit beteken om in die internasionale konteks in terme van uitvoere kompeterend te wees, moet die pryse van grondbone gelewer in Durban kompeterend wees met die uitvoerpariteitsprys, wat tans on­geveer R14 500/ton relatief tot Amerikaanse grondbone is en ongeveer R14 000/ton relatief tot Argentynse grond­bone vir 40/50-groottes is.

Dit beteken dat die pryse van die uitvoer­bare grondbone met hierdie prysvlakke moet kompeteer. Dit verteenwoordig die gaping tussen die uitvoerpariteitsprys en die produsenteprys.

Tabel 1 toon die verskillende kostes wat algemeen in berekening gebring word by die bepaling van die produsenteprys. Hierdie faktore dien slegs as ‘n riglyn en weerspieël nie noodwendig al die kostes verbonde aan die verwerking en prosessering nie en die kostes verskil van aanleg tot aanleg.

Korrekte inligting is vir alle rolspelers in die mark van kardinale belang om hulle in staat te stel om gepaste bemarkingsbesluite te kan neem. Dit is noodsaaklik dat daar soveel as moontlik bruikbare inligting in die mark moet wees en daarom is Graan SA in proses om ‘n grondboonprysmodel te oorweeg.

Die doel van die model sal wees om genoegsame inligting oor die verskillende koste-items in te win om ‘n deursigtige produsente in- en uitvoerpariteitsprys daar te stel, wat as ‘n goeie riglynprys kan dien van wat verwag kan word onder verskillende vraag-en-aanbodtoestande.

Ten slotte
Die plaaslike grondboonmark is heelwat meer kompleks as wat dit op die oog af lyk as gevolg van verskeie faktore. Alhoewel Suid-Afrika oor die algemeen meer grondbone as wat plaaslik verbruik word produseer, is dit ook belangrik om die verskillende tipes grondbone wat beskikbaar is in gedagte te hou en ook dat elkeen tot ‘n groot mate ‘n aparte stel vraag-en-aanbodsyfers het.

Hierdie tipes grondbone sluit in keurgraad, diverse graad en persgraad – afhangende van die gradering daarvan – met keurgraad as die hoogste kwaliteit en persgraad die laer kwaliteit. Die verskillende grade word vir verskillende doeleindes aangewend en daar kan ‘n situasie ontstaan waar daar moontlik ‘n ooraanbod van die een tipe kan wees, terwyl daar ‘n tekort van ‘n ander tipe kan wees.
Publication: February 2018

Section: Focus on