Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 3 November 2022
988
Te midde van welkome graanproduksiereëns asook heerlike sonskyndae was NAMPO Kaap 2022 op Bredasdorp ’n betekenisvolle sukses. Met 32 640 besoekers en 550 uitstallers oor die verloop van vier dae vanaf 14 tot 17 September kon die landbouskouspel in die Overberg ’n sleutelbydrae maak tot die bevordering van landbou se beeld as kosvoorsiener, werkskepper en rentmeester in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Volgens die voorsitter van NAMPO Kaap en Bredasdorp Park NPC, Henk Aggenbach, is besoekers, besighede, uitstallers, die restaurant-, bistro- en stalletjie-houers asook instansies wat die geleentheid gebruik het om hul werksaamhede te bevorder, almal gelukkig met die afloop van vanjaar se Wes-Kaapse toonvenster van die landbou.
“Ons het nagenoeg 20 000 mense op Bredasdorp Park verwag en ons ekspo-uitgawes en verwagte inkomste was daarop gegrond. Dit was egter lekker dat ons boere en plaaspersoneel vir seker die Donderdag en Vrydag gekies het om na nuwe produkte en dienste te kom kyk en in die gees van NAMPO Kaap te kom bladskud en gesig wys.”
Volgens hom was die meer as 400 spog-Merino’s wat vir die BKB Merino Classic 2022 ingeskryf en in die nuwe BKB-veesentrum beoordeel is, ’n groot trekpleister. Die geleentheid is gekenmerk deur uitnemende reëlings, waarmee die plaaslike Merino-ikoon, Frederick Neethling, aanvanklik die leiding geneem het. Op die oggend van die opening van NAMPO Kaap se hekke is hy egter in die plaaslike hospitaal oorlede, nadat hy maande vroeër siek geword het.
Pierre Vlok van BKB het hom gehuldig en aan telers en medeboere gesê: “Frederick Neethling was in sy wese lief vir ’n Merino en vir alles rondom dit. Veral ook vir skou, waaraan hy baie deelgeneem en ook beoordeel het. Hierdie skou op Bredasdorp was sy breinkind en daarom wil ons die Merino Classic 2022 aan hom opdra. ‘Death leaves a heartache no one can heal. Love leaves a memory no one can steal.’”
Merino SA se bestuurder, Willie van Heerden, het die deelnemers en beoordelaars bedank. “Ons kan nie sonder ons vashouers skou nie en bedank daarom vir Charlie Pieterse (Uitkyk), Hendrik Kouta (Goedeverwagte), Angus Geduld en Johan Kotze (Korhaanrus), Stanley Yokanie en Vamber Lodewyk (Grootaar), Christen Diederiks en Nigel Africa (Korenhof), Pieter Potgieter, Jonathan Johansen en JW Schutte (Oakdale) en hul sameroeper, Anne-Mari Kotzé.”
Toit Wessels, assistentbestuurder: NAMPO en Bemarking by Graan SA, sê die eerste aanbieding van NAMPO Kaap op ’n Saterdag was geslaagd. “Op die Saterdag is meer as 7 000 mense tussen 08:00 en 14:00 deur die hekke. Ons sal met die uitstallers beraadslaag en saam besluit of dit die besigheid werd is om NAMPO Kaap aanstaande jaar weer oor vier dae aan te bied.”
Volgens Wessels is die terugvoering van uitstallers oor die gehalte van besoekers en die sake wat gedoen is tot dusver baie gunstig. “Almal is uiters dankbaar dat NAMPO Kaap vir die eerste keer sedert 2019 plaasgevind het en uitstallers het definitief baat gevind by die fisiese aanbieding van dié jaarlikse skou.”
Saterdag se hoogtepunt was die Overberg-jeugskou in die BKB-veesentrum. Vir hierdie nasionale uitdunronde is ’n rekordgetal van 176 inskrywings in 14 klasse ontvang.
Van die ander hoogtepunte het ingesluit die groot aantal hoëvlaktoerusting en vordering met presisielandbou, meganisasie, tegnologie, kultivarinligting, onkruid- en plaagbestuurmiddels, vrugte- en druiwe-insetverskaffing, veehanteringstoerusting asook die daaglikse aktuele landbou- en veral graan- en plattelandse Nasie in Gesprek-paneelbesprekings. Dan was daar ook die leersame NAMPO Kaap-skoleprogram, die Engen 4×4-demonstrasiebaan, ’n boeiende en leersame vroueprogram, wêreldklasblommerangskikkings, die Elim-fynbostentoonstelling in die Shell-saal, die grondlose landbou-opsies met vertikale landbou asook NAMPO Skoonheid, ’n NAMPO-nuutjie vir die vroue waaroor Aggenbach en sy span besonder opgewonde is. Lees meer oor NAMPO Skoonheid by sagrainmag.co.za.
“Hierdie geleentheid vir dames om met masserings asook haar-, vel- en naelversorging gepamperlang te word terwyl die manne die Merino Classic, Nasie in Gesprek, saadpersele, die Landbouweekblad Omnia-boereplanne of sommer die groot ysters of taai viertrekvoertuie geniet, was ’n klinkende sukses,” sê hy. Agt gekeurde plaaslike terapeute het deelgeneem.
NAMPO Kaap 2023 word tans vir Woensdag 13 September tot Saterdag 16 September beplan. Vir uitstallers open aansoeke op 1 Februarie 2023. Aansoekvorms en inligting sal beskikbaar wees by www.nampo.co.za en www.nampokaap.co.za.
April 2016
— Omri van Zyl
JENNY MATHEWS, SA Graan/Grain contributor
Although we can learn lessons from the way people coped with the drought in the past,...