Skep ruim skaduwee vir die toekoms

2467
Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Graan SA-span het onlangs die jaarlikse Global Leadership Summit bygewoon. Een van die aanhalings wat my net weer nuwe energie en visie gegee het, was die opmerking van Todd Henry: “A society grows great when old men plant trees in whose shade they know they shall never sit.”

My oupa Brandkop was die een wat my van bome plant geleer het en my pa van water aandra, snoei en takke afsaag. Plant ’n boom as jy vir iemand op ’n spesiale manier “dankie” wil sê, is ek geleer. Ek het al baie bome in my lewe geplant. Later sommer in die parkie in die straat af omdat daar net nie meer oop spasie om die huis was nie. Deesdae gaan dit stadiger, want gate grawe raak moeiliker sonder my seuns naby. Tog het ek verlede jaar sowat tien nuwe apiesdoringbome geplant sonder ’n waarborg dat ek eendag in hulle skaduwee gaan sit. Maar helaas kan ek nie in ’n graantydskrif net oor bome plant skryf nie.

Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer graan en oliesade geplant en gestroop word. Tog is daar ook tyd om weer te besin oor die jaar wat verby is asook die een wat voorlê. In die graanbedryf is ons besig om ’n kultuur van bome plant te vestig. Ons belê in mense en hulle kundigheid om die komplekse probleme van ons tyd met kreatiewe denke en beter verhoudinge op te los. Ons beleef baie moeilike vergaderings waar daar takke wat wild groei, gesnoei moet word. Ons deel beurse uit aan jong wetenskaplikes om verder te studeer en mentor nuwe boere op ’n groot skaal. Honderde opkomende boere word geleer om kommersiële opbrengste uit elke hektaar te verkry. Dis hoe Graan SA en sy lede bome plant vir skaduwee vir die toekomstige generasies. Die uitbreiding van ons Graanakademie om nie net vir die graanbedryf leiers op te lei nie, maar vir die hele landbousektor, is nog ’n nuwe boom wat eendag vir baie in die land
skaduwee gaan bied.

Maar bome plant is nie net daar ver nie. Dis ook hier naby aan jou. Hoe gaan daardie boom­­pies om jou tafel ná 2019 lyk? Is hulle reg gesnoei met die regte Woord, of het jou eie woorde hulle takke so gebreek dat hulle skaars vrugte dra? Ons eie ongekontroleerde woorde kan so maklik ’n brose nuwe loot breek en ’n permanente letsel agterlaat. Die Woord se instruksie is om net dit wat goed en opbouend is, te praat. In tye waar daar meer moeilikheid as oplos­sings is, is ek opnuut aangevuur deur die oproep na leiers wêreldwyd: “Leiers, maak dinge beter!” Ons kan nie weens die oormag van probleme net terugsit nie. Dis seker die maklikste uitweg, maar dan sal daar geen skaduwee vir ons kinders wees om eendag in te sit nie.

Die resultate of vrugte wat almal tog so graag wil hê, kom eers as die boom se wortels goed geanker is in ’n geloofsisteem en waardes tot aksies oorgaan sodat almal die vrugte kan geniet. Ons weet goed wat die impak van ’n goeie bemestings­plan op ons oes is, maar is so suinig met die “kunsmis” van goeie en opbouende woorde vir mekaar – so asof ons bang is iemand anders dra mooi vrugte! Sulke kuns­mis se rekening is klein. Dit kos uiteindelik niks nie. Kom ons deel dié somer sommer ’n paar sakke kunsmis uit, sodat die gemeenskap veel vrug kan dra en daar ruim skaduwee in die toekoms vir almal sal wees.