Ontwyk Sclerotinia deur verbouingspraktyke reg te bestuur

2041

Sclerotinia is tans, naas droogte, die grootste oorsaak van lae opbrengste in sekere seisoene in groot dele van Suid-Afrika waar sojabone verbou word. Dit is ongelukkig so dat dit beskou word as ’n “goeie produsent-siekte”. Die sojabone van goeie produsente word gewoonlik onder optimale verbouingspraktyke aangeplant, wat lei tot welige plante wat gou die blaredak toemaak en geskoei is op vogbewaring en die maksimum gebruik van fotosintese vir goeie opbrengste.

Hierdie sogenaamde optimale groeitoestande is egter een van die hoofredes waarom Sclerotinia voorkom. Die mikroklimaat wat onder die blaredak vorm, is ideaal vir die ontwikkeling van die siekte met gevolglike besmetting en verlaging in opbrengs.

In goeie seisoene waartydens genoeg reën voorkom, is die siekte veral prominent in gronde waar dit in vorige seisoene al opgemerk is. Dit vang produsente dikwels onkant, aangesien ’n potensiële oes van oor die 3 t/ha in Februarie/Maart op droëland, skielik kan verander na ’n opbrengs van onder 1,5 t/ha.

Die voorkoms van Sclerotinia hou verder verband met die feit dat daar in goeie seisoene gewoonlik tye is waartydens reën daagliks voorkom met bewolkte weer wat temperature verlaag. Dit is voordelig vir die ontwikkeling van die siekte.

Sodra die simptome van Sclerotinia in ’n land opgemerk word, is dit reeds te laat om enigiets daaraan te doen. Die siekte het dan al versprei binne die plant en dit kan nie maklik raakgespuit word indien swamdoders gebruik word nie.

Proaktiewe beheermaatreëls
Sekere chemiese maatskappye maak daarop aanspraak dat hulle produkte wel die verspreiding van die siekte kan verminder, maar die feit bly staan dat daar dan reeds genoeg besmetting is om opbrengste drasties te verlaag. Proaktiewe maatreëls is noodsaaklik in ’n poging om die siekte te beheer.

Baie van die navorsing oor Sclerotinia het tot op hede veral daarop gefokus om swamdoders te ontwikkel wat die siekte beheer, kultivars te teel wat weerstandbiedend is en om verbouingsaspekte soos laer plantpopulasies, wyer rywydtes, later plantdatums en minder vatbare kultivars te gebruik. Die probleme met al hierdie pogings is egter dat die swamdoders (hoe goed ook al) nie toegedien kan word waar die siekte ontwikkel nie, want die digte blaredak van sojas veroorsaak dat die plek van besmetting – gewoonlik op die eerste twee nodes vanaf die grond – nie raakgespuit kan word nie.

Met teling vir weerstandbiedendheid is gevind dat multigene ter sprake is, wat dit baie moeilik maak om weerstandbiedende kultivars te teel. Die verbouingsaspekte wat voorgestel word, is in die meeste gevalle nie bydraend tot hoër opbrengste nie en dus sal daar in ’n seisoen waarin die siekte nie voorkom nie wel opbrengsverlagings wees as gevolg van suboptimale verbouingspraktyke.

Vatbaarheid
Daar word deesdae baie werk gedoen om bestaande kultivars se vatbaarheid vir Sclerotinia te “toets”. Selfs dit is egter nie van veel waarde nie, aangesien hierdie navorsing in glashuise gedoen word en nie vergelykbaar is met wat onder veldtoestande gebeur nie.

Van die werk wat reeds gedoen is, wys dat sekere kultivars minder vatbaar is as ander. Navorsers wat jaarliks baie van die produsente besoek, weet egter dat sekere kultivars wat volgens die sogenaamde sifting baie vatbaar is of omgekeerd minder vatbaar is, nie in die veld so realiseer nie. Hierdie waarnemings is as gevolg van die feit dat kultivars in die glashuise kunsmatig besmet word en nie die gedrag van die kultivar in die veld in ag neem nie.

Die hele idee agter die “ontwyking” van Sclerotinia is geskoei op die groeistadium van ’n sekere kultivar wanneer die toestande vir die ontwikkeling van die siekte optimaal is. Vir askospore om te ontkiem en die plant te besmet, is die teenwoordigheid van blomblaartjies wat begin droog word waar die peule vorm of waar blomme afgespeen word en daar dus ’n “wond” op die plant vorm, ’n vereiste.

Droë blomblaartjies dien as voedsel vir die spore om te ontkiem en sou daar reeds peule wees en geen blomme nie, is dit hoogs onwaarskynlik dat plante besmet sal raak.

Volwassenheidsgroep
Die bestuur van die plantdatum en die tipe volwassenheidsgroep waarbinne die kultivar val, is baie belangrik om Sclerotinia te vermy. Navorsing het gewys dat waar ’n MG-4.0- tot MG-4.5-kultivar onder “normale” plantdatums van middel Oktober tot einde November aangeplant word, dit reeds in die R5-stadium is (begin van peulvulling) en daar dus geen blomme op die plante teenwoordig is nie wanneer toestande gunstig raak vir Sclerotinia-besmetting.

Die feit dat ’n MG-4.0-kultivar baie vroeg blom (35 dae in matig tot warm gebiede en 40 dae tot 45 dae in koel gebiede), veroorsaak dat die plant dan nog relatief klein is en dat die blaredak nog nie volkome toe is nie. Dus is toestande nog nie gunstig vir sclerotia om te ontkiem en die plante te besmet nie.

Goeie navorsing is sedert 2008 tot 2013 op Kinross in Mpumalanga gedoen waar verskeie chemiese middels, biologiese middels, plantdatums en verskillende kultivars getoets is op ’n vinnige MG-4.0-kultivar (in hierdie geval LS 6162 wat later LS 6444 sou word).

Die resultate was verstommend (sien Grafiek 1 en Grafiek 2) en produsente wat baie probleme met Sclerotinia ondervind het, het vroeë kultivars met groot welslae aangeplant om die siekte te ontwyk. Die groot probleem was en is nog steeds dat ’n mens nie net een kultivar kan aanplant nie, omdat strooptyd verleng moet word vir praktiese doeleindes. Dit is gewoonlik nie met een kultivar moontlik nie – veral as plantdatums ononderbroke is en die sojas dan almal op dieselfde tyd oesgereed is. Die ander probleem was dat dit net nie moontlik is vir ’n sojaboonkultivar met so ’n kort groei­siklus om te kompeteer met die opbrengste van langer groeiers nie. In jare waarin Sclerotinia nie ’n probleem was nie, het langer groeiers beter opbrengste gelewer as die kort groeiers.

Biologiese middels
In 2008/2009 is drie biologiese middels (Eco-77, Eco-T en Sklerostop) en vyf chemiese middels (Benlate, Sumislex, Bellis, Abacus en Opera) wat op ’n langseisoenkultivar LS 6150 toegedien is, vergelyk met die kort­seisoenkultivar LS 6162 (LS 6444) (sien uiteindelike persentasie van besmetting en opbrengs van die verskillende behandelings in Grafiek 1).

Die middels is almal toegedien volgens die aanduidings op die etiket en waar sekere middels moes ingewerk word, is dit gedoen. Die proef is aangeplant op 19 November 2008 en die vinnige kultivar het op 29 Desember (41 dae na plant) begin blom (R1-stadium).

Op 22 Januarie was LS 6162 in die R5-stadium en LS 6150 in die R2-stadium en Sclerotinia-besmetting het plek-plek op hierdie kultivars begin wys ten spyte van al die chemiese en biologiese middels wat toegedien is. Die eerste bespuitings van hierdie middels was op die R1-stadium op 15 Januarie en die tweede bespuiting het vier weke later op 11 Februarie plaasgevind. Op hierdie stadium was die besmetting baie straf by al die behandelings behalwe by die vinnige kultivar waar geen Sclerotinia voorgekom het nie (Foto 1).

Plantdatums
Op die produsent se land nie ver van die proef af nie, wat ook met LS 6162 beplant is op 10 Desember, is geringe besmetting waargeneem, aangesien die sojas in die R1- tot R2-stadium was. Die feit dat besmetting nie so drasties was nie, kan toegeskryf word daaraan dat die blaredak nog nie volkome gesluit was nie en dus was die mikroklimaat nie so gunstig vir die ontwikkeling van die siekte nie. Die produsent stroop uiteindelik 2,2 t/ha hier.

Op die land regoor die proefland plant die produsent op 21 Desember dieselfde kultivar nadat hy koring daar gestroop het en hier word weer eens geen Sclerotinia opgemerk nie. Hy stroop uiteindelik 2,8 t/ha hier.

Hierdie waarnemings is van onskatbare waarde, aangesien dit net weer eens bewys dat geen kultivar bestand is teen Sclerotinia nie, maar dat ’n mens wel met plantdatum en ’n vinnige kultivar die siekte kan ontwyk. Die feit dat die laat geplante sojas ook nie Sclerotinia gekry het nie, is omdat die plante veel kleiner was en toestande vir die siekte nooit gunstig was om te ontwikkel nie.

Daar is in een seisoen bewys dat nie slegs die vinnige kultivar nie, maar ook die datum waarop dit geplant word, ’n reuserol speel in die ontwyking van Sclerotinia.

In die 2009/2010-seisoen is verskillende kultivars wat wissel tussen MG-4.0 en MG-7 op 22 Oktober aangeplant en met mekaar vergelyk (sien die uiteindelike persentasie van besmetting en opbrengs van die verskillende behandelings in Grafiek 2). Al die behandelings (behalwe die MG-4.0-behandelings) het Sclerotinia gekry – in sekere gevalle soveel as ’n 53%-besmetting en ’n opbrengs van 1,55 t/ha.

Navorsing
Navorsing is voortgesit met nuwe produkte in die daaropvolgende drie seisoene en in twee van hierdie seisoene was daar nie Sclerotinia nie as gevolg van droogtetoestande. Die produk Contans is ook die eerste keer in Suid-Afrika getoets. Ongelukkig is die navorsing gestaak in 2013 en kon die swamme nie “vermeerder” in slegs een seisoen sodat hulle ’n uitwerking op die sclerotia van Sclerotinia kon hê nie.

Indien daar van beheer van Sclerotinia gepraat word, sal Contans die roete wees om te volg, aangesien dit die sclerotia vernietig. Hoe groter die populasie van Contans-swamme, hoe meer effektief sal die siekte beheer kan word.

Nuwe navorsing is hervat in 2018 nadat produsente geweldig skade gely het in die 2017/2018-seisoen. In kultivarproewe wat by sekere produsente aangeplant is, was dit slegs die MG-4.0-kultivars wat goeie opbrengste gelewer het. Trouens, die besmetting was so erg dat sekere kultivars minder as 250 kg/ha in opbrengs gelewer het.

Daar is tans nuwe MG-4.0-kultivars beskikbaar met ongelooflike opbrengspotensiaal. Indien produsente gebruik sou kon maak van opeenvolgende aanplantings, maar waar daar ’n aantal weke tussen plantdatums oopgelos word, kan daar miskien weggekom word deur slegs hierdie tipe kultivars aan te plant sonder dat strooptyd belemmer word.

Die later aanplantings sal egter eers getoets moet word om te sien of die opbrengs nie soveel daal dat dit nie die moeite werd is nie. Daar sal ook gesien moet word of hierdie tipe kultivars wat dan in Februarie/Maart in blom gaan wees, nog steeds die Sclerotinia kan ontwyk.