Wie staan pa vir afloopwater op bewerkte landerye?

Gepubliseer: 31 Julie 2023

301
Piet Theron,
afgetrede grond­bewaringstegnikus

’n Vorige artikel wat in SA Graan/Grain verskyn het, getiteld “Kundigheid nodig om gronderosie te takel”, het verskeie vrae oor hierdie onderwerp laat ontstaan. Piet Theron, ’n afgetrede grondbewaringstegnikus, fokus in hierdie artikel op ’n vraag wat verband hou met aanspreeklikheid wanneer dit by afloopwater kom. Hy skryf:

Alvorens ek begin om die vrae te antwoord, is dit belangrik om die begrip van natuurlike vloeipatroon en vloeirigting van afloopwater te verstaan. Die topografie van ’n terrein bepaal die natuurlike vloeirigting van afloopwater. Sodra daar dus enige versteuring is, kan sekere regsaspekte en bepaalde implikasies ontstaan. In baie gevalle gebeur dit dat paaie en spoorlyne die natuurlike afloop versteur.

Sodra natuurlike veld bewerk word, kan dit ook gebeur dat die natuurlike vloeirigting van afloop­water versteur word. Gevolglik is dit die grondgebruiker se verantwoordelikheid om toe te sien dat hierdie versteuring nie ’n nadelige invloed op aangrensende eiendomme tot gevolg het nie.

Waterafloopbeheerbeplanning
In gebiede waar baie groot areas bewerk word, soos in die westelike gedeeltes van die Vrystaat en in dele van die Noordwes-provinsie, ontstaan heelwat uitdagings om afloopwater volgens die natuurlike vloei­rigtings te bestuur. Dit is wanneer dit noodsaaklik raak dat korrekte waterafloopbeheerbeplannings opgestel word en die nodige grondbewaringswerke opgerig word om afloopwater volgens die natuurlike vloeipatroon van ’n bepaalde gebied te bestuur.

Die ontstaan van versperrings op grensheinings, wenakkers en paaie kan beduidende veranderings in die natuurlike vloeipatroon van ’n gebied veroorsaak. In gebiede waar winderosie voorkom, gebeur dit ge­reeld dat versperrings op grensheinings ontstaan. Dit is waar die beginsel van natuurlike-aanspreeklikheid-aanvaarding (NAA) van toepassing is. Hierdie beginsel bepaal dat laerliggende grondgebruikers ’n natuurlike aanspreeklikheid het om afloopwater van hoërliggende eiendomme te ontvang en deur te laat na volgende laerliggende eiendom. Hierdie beginsel stem dan ook ooreen met die bepaling van Regulasie 8 van die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet No. 43 van 1983). Hierdie regulasie bepaal dat niemand afloopwater van een opvangsgebied na ’n ander opvangsgebied mag herlei nie.

So kan dit gebeur dat ’n versperring soos ’n windgewaaide grensheining water van een opvangsgebied na ’n ander opvangsgebied herlei. Die wetlike aspek is dat geen grondgebruiker mag toelaat dat ’n versperring op ’n grensheining afloopwater mag opdam of in ’n rigting herlei wat strydig is met die NAA-beginsel nie. Dit is ongelukkig nie so eenvoudig soos om net die versperring te verwyder waar die water opdam nie, aangesien dit nie noodwendig die korrekte punt is waar die laerliggende grondgebruiker die water moet ontvang nie.

Gebrek aan kundigheid
Die gebrek aan kundiges wat waterafloopbeheerbeplannings kan opstel, maak dit moeilik om te sê wat produsente te doen staan om sulke probleme op te los. Dit feit bly egter staan – ’n versperring wat water opdam of herlei, moet verwyder word. Gevolglik moet die betrokkenes maar saam ’n oplossing vind indien ’n kundige nie gevind kan word om hulle behulpsaam te wees met die korrekte oplossing nie.