Die graan- en oliesadebedryf speel nie net ’n belangrike rol in die plaaslike landbou-ekonomie nie, maar het ook as gevolg van die oorspoeleffek na ander bedrywe ’n noemenswaardige impak op die breër ekonomie van Suid-Afrika.
Grane soos mielies en koring is twee van die grootste stapelvoedsels vir ’n menigte Suid-Afrikaners wat daagliks daarvan afhanklik is vir oorlewing. Mielies, tesame met produkte wat verkry word vanaf die verwerking van sojabone en sonneblomsaad, speel weer ’n belangrike rol in die plaaslike lewendehawebedryf, aangesien dit ’n groot komponent van die meeste veevoere uitmaak.
Sedert die ontstaan van die vrye mark in die laat 1990’s het die verwerking van grane en oliesade in Suid-Afrika goeie toenames getoon. Die twee grootste grane asook die twee grootste oliesade wat plaaslik geproduseer word, het gedurende die 2018/2019-bemarkingseisoen nuwe rekordverwerkingsvlakke bereik.
Die goeie groei wat oor hierdie tydperk waargeneem is, is positief, aangesien dit volgehoue groei in die plaaslike verwerkingskapasiteit en uitbreiding van die plaaslike graanwaardeketting ten toon stel. Die optimale funksionering van die hele waardeketting is egter ’n kardinale gedeelte van die groter graanlegkaart, en die een aspek van die mark kan nie optimaal funksioneer sonder die optimale funksionering van die ander nie. Dit plaas die belangrikheid van die graanwaardeketting onder die vergrootglas.
Mielies en koring
Alhoewel die 2018/2019-seisoen van mielies en koring nog nie gefinaliseer was met die skrywe van hierdie artikel nie, is die verwagting dat die plaaslike verbruik van beide mielies en koring gedurende dié seisoen nuwe rekordvlakke sal bereik.
Grafiek 1 en Grafiek 2 toon die plaaslike verbruik van mielies en koring onderskeidelik aan sedert die ontstaan van die vrye mark in Suid-Afrika.
Grafiek 1 toon die totale binnelandse verwerking van mielies sedert die 1997/1998-seisoen, asook die persentasietoename in die verwerking teenoor die 1997/1998-seisoen. Die grootste verbruiksaspekte van mielies is voedsel vir menslike verbruik en mielies wat in veevoere gebruik word.
Die persentasietoename van hierdie twee aspekte word ook in Grafiek 1 aangedui. Die totale verbruik van mielies was gedurende die 1997/1998-seisoen ongeveer 6,6 miljoen ton. Die totale geskatte verbruik in die 2018/2019-seisoen is ongeveer 10,9 miljoen ton, wat ’n nuwe rekord vir binnelandse verbruik van mielies in Suid-Afrika is.
Dit verteenwoordig ’n toename van 66% oor hierdie tydperk. Die grootste toename in verbruik was in veevoere, wat met 70% toegeneem het, terwyl die mielies vir menslike verbruik met 39% toegeneem het oor die tydperk.
In terme van koring is dit duidelik uit Grafiek 2 dat die plaaslike verwerking van koring ook goeie groei getoon het sedert die 1998/1999-seisoen om ’n nuwe rekordverbruiksvlak gedurende die 2018/2019-seisoen te bereik.
Die totale binnelandse koringverwerking was gedurende die 1998/1999-seisoen ongeveer 2,55 miljoen ton. Die totale binnelandse verbruik vir die 2018/2019-seisoen word op 3,33 miljoen ton geskat. Dit is ’n toename in verwerking van 30%.
In Suid-Afrika word die meerderheid koring verwerk vir menslike verbruiksdoeleindes met slegs ’n minimale hoeveelheid koring wat in veevoere gebruik word. Die totale menslike verbruik van koring het sedert die 1998/1999-seisoen met 41% toegeneem, terwyl die hoeveelheid koring wat vir veevoerdoeleindes gebruik word 94% laer is in die 2018/2019-seisoen as gedurende die 1998/1999-seisoen.
Sojabone en sonneblomsaad
Die 2018/2019-seisoen van oliesade (sojabone en sonneblomsaad) het reeds einde Februarie 2019 geëindig en die verwerkingsyfers wat in Grafiek 3 en Grafiek 4 van sojabone en sonneblomsaad onderskeidelik getoon word, is die finale syfers vir die seisoen.
Grafiek 3 toon duidelik dat die plaaslike verwerking van sojabone skerp toegeneem het, veral sedert die 2011/2012-seisoen. Die totale sojaboonverwerkings was gedurende die 1998/1999-seisoen slegs 215 000 ton, terwyl die totale verwerkings gedurende die 2018/2019-seisoen ’n nuwe binnelandse rekord van 1,32 miljoen ton bereik het.
Dit is ’n toename van 514% oor hierdie tydperk. Die meeste sojabone wat plaaslik verwerk word, word gepers vir die ekstraksie van sojaboonolie en sojaboonoliekoek. Die grootste gedeelte van die groei in die plaaslike sojaboonmark was in terme van die hoeveelheid sojabone wat gepers word vir olie en oliekoek.
Die totale hoeveelheid sojabone wat gedurende die 2018/2019-seisoen gepers is vir olie en oliekoek was 859% meer as die hoeveelheid wat gedurende die 1998/1999-seisoen vir dié doel gepers is.
Alhoewel die hoeveelheid sojabone wat vir veevoerdoeleindes gebruik word (volvetsoja) meestal sywaarts beweeg het sedert die 1998/1999-seisoen, was daar die afgelope twee seisoene skerp toenames in die verbruik daarvan. Die totale hoeveelheid volvetsojabone wat gedurende die 2018/1919-seisoen verbruik is, is 149% meer as gedurende die 1998/1999-seisoen.
Die meeste sonneblomsaad wat in Suid-Afrika verwerk word, word ook gepers vir olie en oliekoek. Die sonneblomolie is die belangrikste aspek daarvan, terwyl die oliekoek as proteïenbron in veevoerrantsoene ingesluit word.
Grafiek 4 toon die verwerkings van sonneblomsaad sedert die 1998/1999-seisoen. Alhoewel die verwerking van sonneblomsaad oor hierdie tydperk meer wisselvallig was as die verwerking van die ander grane en oliesade, is daar wel tog oor die algemeen goeie groei getoon. Gedurende die 1998/1999-seisoen is daar ongeveer 620 000 ton se sonneblomsaad in totaal in Suid-Afrika verwerk. Gedurende die 2018/2019-seisoen was die totale hoeveelheid sonneblomsaad wat plaaslik verwerk is 905 532 ton.
Dit is ’n nuwe rekordvlak vir binnelandse verwerking van sonneblomsaad. Verwerking het veral die afgelope twee jaar goeie toenames getoon en die positiewe tendens kan grootliks toegeskryf word aan die uitbreiding van verwerkingskapasiteit wat in die Noordwes Provinsie opgerig is.
Die totale hoeveelheid sonneblomsaad wat gedurende die 2018/2019-seisoen verwerk is, is 45% meer as die hoeveelheid wat gedurende die 1998/1999-seisoen verwerk is. Die hoeveelheid wat vir olie en oliekoekproduksie verwerk is, is 49% meer in die 2018/2019-seisoen as gedurende die 1998/1999-seisoen.
Ten slotte
Die goeie groei wat in die binnelandse verwerking van die twee grootste grane en oliesade oor die afgelope 20 jaar plaasgevind het, is positief vir die hele bedryf. Oor die algemeen is die landboubedrywe interafhanklik van mekaar en daarom is die optimale funksionering van die verskillende bedrywe noodsaaklik om mekaar aan te vul en sodoende ’n gesonder algehele landbou-omgewing te skep.
Behalwe vir die interafhanklikheid tussen die verskillende bedrywe, speel die waardeketting binne ’n spesifieke bedryf ook ’n kardinale rol in die welstand van die spesifieke bedryf. Dit is duidelik uit die inligting dat die graanwaardeketting sedert die ontstaan van die vrye mark in die laat 1990’s goeie vordering getoon het met volgehoue investering daarin.