Omgeeharte in landbou maak ’n verskil

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Augustus 2020

1062

Die media word sedert Maart vanjaar oorheers deur die impak van die koronavirus. Hoewel die fokus in die media op die feite van die COVID-19-pandemie is – soos die getal positiewe gevalle en sterftes – is dit die stories oor hulpverlening deur liefdadigheidsorganisasies en doodgewone mense wat die nood van minderbevoorregtes wil verlig, wat harte raak.

TWK en ’n gemeenskap se omgee het gehelp om talle mense in nood te help.
Die eerste besending mieliemeel word gelaai vir verspreiding in die Piet Retief-area.
Die verspreiding van die mieliemeel word hoofsaaklik deur studiegroepe, kerke, skole en ouetehuise gedoen.

Daar word vertel van ’n winkeleienaar in Kaapstad wat pakkies opgemaak het en gratis aan mense ouer as 65 jaar gegee het. Dit het bestaan uit ’n handreiniger, ’n masker, seep en vloeibare ontsmettingsmiddel. ’n Versorgingsfasiliteit vir onder andere kinders wat deur MIV/Vigs wees gelaat is, staan soggens vieruur op om brood te bak. Die 450 brode word aan behoeftiges in die suide van Johannesburg versprei.

Chefs with Compassion, ’n vennootskap tussen vyf plaaslike en wêreldorganisasies, het in April vanjaar tot stand gekom. In die eerste week van hul bestaan het dié groep 2 355 maaltye aan nege begunstigde organisasies gelewer. Teen die eerste week van Mei het die getal begunstigde organisasies tot 28 gegroei en 11 749 maaltye is gelewer. Tans word die projek deur meer as 300 sjefs, restauranteienaars en vrywilligers ondersteun en word meer as 36 000 maaltye per week vir gemeenskappe in nood voorberei.

Landbou verleen ’n groot helpende hand
Oor die afgelope paar jaar het Graan SA en ander landbou-orga­nisasies hande gevat en verskeie hulpprojekte op die been gebring om ’n verskil te maak in tye van nood. Een hiervan is die droogtehulpprojek vir veral voer in die droogtegeteisterde dele van Suid-Afrika. ’n Oorskot mielies wat oorspronklik aan dié projek geskenk is, het dit egter moontlik gemaak om honderde mense se honger te stil.

Graan SA het 47 839 ton witmielies en 21 896 ton geelmielies as skenking ontvang wat by TWK in Piet Retief op Graan SA se leweringsnommer gelewer is. Jurie Mentz, ontwikkelingskoördineerder in Louwsburg, is in Mei deur TWK gekontak oor hierdie ongeveer 70 ton oortollige mielies. Ná ’n vergadering met die donateurs, TWK en Graan SA, is besluit om dit aan te wend vir ’n voedingsprojek gedurende die verlengde grendeltyd.

Die geelmielies is deur TWK omgeskakel na witmielies en hulle kon die semelaftrekking aanwend om die koste van die maal en verpakking van die mielies te dek. Kort voor lank is die sowat 70 ton mielies verwerk na 50 ton mieliemeel en was dit gereed vir verspreiding.

Timon Filter, ’n mentor wat betrokke is by die opleiding van opkomende boere van die Graan SA-boerontwikkelingsprogram, was etlike jare betrokke by sendingwerk in dié omgewing. Deur sy gemeenskapsbetrokkenheid het hy die geestelike leiers in die omgewing goed leer ken. Dit was die ideale manier om ernstige nood in die gemeenskap te identifiseer. Die munisipale bestuurder het organisasies wat hulp benodig se name deurgegee. Verder is kerke, ouetehuise en ander instansies ook genooi om inligting te verskaf. “Ons het ook die leiers van die studiegroepe gevra om name in te stuur van mense met voedselnood in die meer landelike gebiede,” sê Timon.

Alhoewel Graan SA die projek bestuur het, was die sukses daarvan beslis te danke aan die samewerking van vrygewige produsente, TWK, Graan SA en ’n gemeenskap vol deernis. Die sakke mieliemeel is by ’n kerk in Piet Retief geberg en een van die lidmate het sy vragmotor beskikbaar gestel om met die vervoer te help. “Dit gee my hoendervleis om te sien hoe alles net in plek geval het,” deel Jurie.

Gedurende Junie is 13,5 ton mieliemeel aan mense in nood in die Piet Retief-omgewing versprei, en in Julie 12 ton. Daar is ’n moontlikheid dat hoe langer die grendeltyd duur, hoe groter die behoefte aan kos sal wees. Jurie en Timon vertrou egter dat daar genoeg meel sal wees om te help totdat die omstandighede in die land verbeter. “Dit laat jou ook klein voel as jy WhatsApp-boodskappe en e-posse ontvang van mense wat so dankbaar is oor ’n basiese behoefte,” sê Timon.

’n Pastoor van die Rock of Faith Ministry het uit sy eie sak kool bygedra vir sy gemeenskap.

Een projek lei tot ’n ander
Jerry Mthombothi, Graan SA se ontwikkelingskoördineerder by die Nelspruit-kantoor, het die span ook bewus gemaak van die nood in sy omgewing. Die produsente in die Piet Retief-omgewing het ingewillig om 10 ton mieliemeel oor ’n tydperk van vyf maande te skenk. Dit beteken dié streek sal 2 ton per maand ontvang om te versprei.

Skenkings is ook gemaak aan gesinne in Amsterdam, ’n klein dorpie ongeveer 60 km van Piet Retief af. Van die 178 gesinne waar daar ’n behoefte geïdentifiseer is, verkeer 98 gesinne in ernstige nood en kon ook baat vind by die skenking. Timon vertel dat hy ook deur die munisipale bestuurder gekontak is oor ’n huis wat afgebrand het in die dorpie. Hy het deur die voedingskema se netwerk hulp gevra. Die Uzwelo Home, ’n weeshuis in die dorp, het kleredonasies wat hulle ontvang het, geskenk, terwyl die ouetehuis, Huis Immergroen, buiten klere ook tandeborsels en -pasta aangebied het. Volgens Timon maak dit ’n mens nederig om te sien hoe mense betrokke raak en probeer help met die bietjie wat hulle het.

Van die dankbare gesinne in Piet Retief en Amsterdam wat by dié projek gebaat het.

Dra by en maak ’n verskil
Buiten vir die droogtehulpprojek wat steeds voortgaan, waar produsente skenkings kan maak vir veevoer, ondersteun Graan SA en ander landbou-organisasies ook die Save the sheep-projek van Bayer. Graan SA-lede word aangemoedig om die projekte van die landboubesigheid in hul omgewing te ondersteun.

Graan SA en Agbiz het ook hande gevat en ’n voedingsprojek, die Agriwaardeketting-verligtingsprojek, op die been gebring. Verskeie landbou-organisasies het ingekoop in dié projek om veral landelike gemeenskappe in nood te ondersteun. Die landboubesighede – Afgri, Senwes, BKB Grain, GWK, NWK, OVK, TWK en VKB – tree as agentskappe op om die skenkings met die hulp van liefdadigheidsorganisasies binne gemeenskappe te versprei.

Nog ’n graanskenkingsinisiatief, die #PayFoodForward-projek, is dié van Unigrain se liefdadigheidsorganisasie, Grain Care. Graan SA-lede wat skenkings aan hierdie projek lewer, kan vra vir ’n Artikel 18A-sertifikaat vir belastingverligting.

Besoek gerus www.grainsa.co.za vir meer inligting oor hierdie projekte.