February 2018
LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA
Kanola is een van die kleiner wintergewasse wat in Suid-Afrika verbou word, wat boonop nie so alombekend onder die algemene publiek is nie. Tog speel kanola ‘n kardinale rol in die winterreënvalgebied (hoofsaaklik die Wes-Kaap) en dien dit as ‘n goeie alternatief vir koring en gars in wisselboustelsels.
Die produksie van die kanola het oor die afgelope amper 20 jaar aansienlik gegroei – met die oppervlakte aangeplant en die produksie daarvan wat toegeneem het. Alhoewel die gemiddelde opbrengs oor hierdie tydperk ook ‘n stygende tendens getoon het, was die toename in die opbrengs nie noemenswaardig nie en was die toename in produksie eerder as gevolg van die toename in die oppervlakte aangeplant.
Hierdie artikel gee ‘n oorsig oor die kanolamark, wat die produksie en verbruik daarvan insluit.
Produksietendense
Kanolaproduksie vind hoofsaaklik in die Wes-Kaap plaas, aangesien dit die enigste winterreënvalgebied in Suid-Afrika is. Grafiek 1 bevat die oppervlakte aangeplant, produksie asook die gemiddelde opbrengs per seisoen behaal vanaf die 1998/1999-seisoen.
In Grafiek 1 kan gesien word dat die oppervlakte wat aangeplant word goeie groei oor hierdie tydperk getoon het. Waar dit aan die beginstadium vanaf die beskikbare inligting ongeveer 20 000 ha was, het dit toegeneem tot en met ongeveer 75 000 ha gemiddeld oor die afgelope drie jaar.
Die gemiddelde opbrengs wat oor hierdie tydperk behaal is, was baie wisselvallig en die toename in produksie kan grootliks aan die toename in oppervlakte aangeplant eerder as ‘n aansienlike verbetering in die opbrengs oor tyd toegeskryf word. Die opbrengs het wel oor tyd gestyg, maar teen ‘n stadiger tempo.
Grafiek 2 illustreer die oppervlakte aangeplant, produksie en opbrengs op ‘n indeksbasis, met die 1998/1999-seisoen as die basisjaar. Die indeks wys die persentasie bo of onder die basisjaar en Grafiek 2 wys dat die oppervlakte aangeplant in die 2017/2018-seisoen ongeveer 500% hoër was as in die 1998/1999-seisoen, terwyl die produksie in dieselfde tydperk ongeveer 440% hoër is.
Die opbrengs het egter oor tyd relatief onveranderd gebly – met ‘n rekord plaaslike opbrengs wat gerapporteer is – wat ongeveer 56% hoër as die basisopbrengs is.
Grafiek 3 toon die gemiddelde maandelikse produsentelewering en die maandelikse eindvoorraad van kanola. Hiervolgens word die meeste kanola gedurende Oktober en November gestroop en gelewer.
Produsentelewerings deur die res van die seisoen is minimaal, met die meeste wat gedurende strooptyd gelewer word. Produsente stoor in die meeste gevalle nie groot volumes voorrade self om deur die loop van die seisoen te bemark nie. Dit kan ook gesien word in die gemiddelde maandelikse eindvoorraad met die voorrade wat die hoogste tydens Oktober, November en Desember is en dan geleidelik begin afneem tot en met September wanneer dit oor die algemeen die laagste is.
Die kanolabemarkingseisoen strek vanaf 1 Oktober tot en met 30 September die volgende jaar en die feit dat die voorrade die laagste gedurende September is, is een van die faktore wat die tydperk van die bemarkingseisoen bepaal.
Net soos met die ander gewasse, is die maand wanneer die voorrade die laagste is die beste tyd vir die afsluiting van die bemarkingseisoen. Daardeur kan daar makliker vasgestel word of die hoeveelheid geskatte voorrade aan die einde van die bemarkingseisoen genoegsaam sal wees om ‘n goeie buffer in die mark te hê sou die nuwe seisoen se produksie later as verwag realiseer en/of daar moontlik tekorte in die mark sou ontstaan.
Verbruikstendense
Die plaaslike verbruik van kanola het min of meer dieselfde tendens gevolg as die plaaslike produksie en verbruik het skerp begin toeneem oor die afgelope vier tot vyf jaar.
Die totale plaaslike kanolaverbruik beloop ongeveer 110 000 ton per jaar en die meeste daarvan word gepers vir olie en oliekoek, terwyl betreklike klein hoeveelhede daarvan in die veevoerbedryf opgeneem word.
Grafiek 3 illustreer die plaaslike kanolaverbruik, wat die hoeveelhede gepers vir olie en oliekoek, asook dié vir veevoer en die totale verbruik insluit. Uit Grafiek 4 is dit duidelik dat die totale verbruik aansienlik vanaf die 1998/1999-seisoen, toe dit minder as 20 000 ton beloop het, toegeneem het tot en met die huidige vlakke van gemiddeld 110 000 ton per maand.
Grafiek 5 wys die verbruik van kanola op ‘n indeksbasis – wat ‘n goeie aanduiding is van die tempo van verandering oor hierdie tydperk.
Die totale kanolaverbruik het oor dié tydperk vanaf 1998/1999 met ongeveer 747% toegeneem, terwyl die verbruik vir olie en oliekoek oor dieselfde tydperk met ongeveer 806% toegeneem het. Die verbruik van kanola in die veevoermark was uiters wisselvallig oor hierdie tydperk en het die laaste drie tot vier jaar weer begin kop optel. Meer kanola is vir die verbruik vir veevoerdoeleindes aangeteken.
Ten slotte
Kanolaproduksie speel ‘n uiters belangrike rol in die wintergraanproduksiegebiede en bied aan die produsente ‘n goeie wisselbou-alternatief.
Alhoewel die produksie daarvan oor die afgelope paar jaar goeie toenames gerealiseer het, is die produksie steeds wisselvallig en ook baie afhanklik van die weersomstandighede. Aan die verbruikskant was daar ook ‘n duidelike toename en die meeste kanola word steeds gepers vir olie en oliekoek, met die olie wat beskou word as ‘n besonder-gesonde plantaardige olie wat gebruik word in die huishoudelike en bakbedryf. Die oliekoek, wat ook ‘n byproduk van kanola is, word as proteïenbron in veevoere ingesluit.
Publication: February 2018
Section: Focus on