Die moets en moenies van lugbespuiting

Gepubliseer: 24 Maart 2020

42
Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs- en rentmeester-skapbestuurder,
CropLife SA

Landbougewasse beleef ’n konstante aanslag van plantplae, -siektes en onkruide wat hul gesondheid uitdaag. Produsente se winsgewendheid erodeer indien hierdie ongewenste elemente nie behoorlik en betyds bestuur word nie. Plaagdoders of landboumiddels is beskikbaar vir die effektiewe bestuur van feitlik alle peste, siektes en onkruide in Suid-Afrika – en dit is die produsent se prerogatief om die korrekte geregistreerde remedie te kies om die gewas vir optimale produksie en winsgewendheid te bestuur.

Lugtoediening is soms die voorkeurmetode vir aanwending van die plaagdoder as gevolg van die gewasstruktuur of groeistadium of omdat omgewingstoestande soos oorstromings grondtoediening ongewens of onprakties maak.

Hierdie tipe toediening word deur drie stelle regulatoriese raamwerke gereguleer, naamlik die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947), die Burgerlugvaartwet, 2009 (Wet Nr. 13 van 2009) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir Lugtoediening van Plaagdoders (SANS10118) sowel as die ondersteunende regulasies van die twee wette.

Lugtoediening van plaagdoders vereis veel meer as grondtoediening weens die verhoogde risiko van hierdie metode van toediening en die vaardighede wat daarvoor nodig is.

Registrasie vir lugtoediening
’n Plaagdoder moet geregistreer word vir lugtoediening om as sodanig gebruik te word en die etiket van so ’n plaagdoder sal sekere klousules van SANS10118 inkorporeer en spesifieke instruksies vir lugtoediening
by die gebruiksaanwysings hê.

Indien ’n etiket nie hierdie inligting het nie, mag die plaagdoder nie deur lugbespuiting toegedien word nie. Een van die grootste probleme wat ondervind word met lugtoediening is tenkmengsels; dit is nie ongewoon vir ’n vliegtuig om op te styg met ’n mengsel van tot sewe verskillende plaagdoders in die tenk nie.

Bo en behalwe die wetlike gevolge van sulke onverantwoordelike praktyke, is die verenigbaarheid van al die plaagdoders in een tenk baie problematies. Sommige plaagdoders is eenvoudig onversoenbaar weens verskillende pH-vereistes of chemiese reaksies wat dit kan deaktiveer.

Nog ’n probleem voortspruitend uit sulke tenkmengsels is dat dit nie genoeg water het om die aktiewe bestanddele effektief op die teiken te deponeer nie, met swak produkprestasie, ongewenste sinergisme of antagonisme as die moontlike gevolge. Die eenvoudige reël is om etiketaanwysings na te volg en nie daarvan af te wyk nie.

MOET’S

  • Kyk op die etiket of die plaagdoder vir lugtoediening geregistreer is.
  • Dring daarop aan dat die gewasadviseur plaagdoders wat vir die gewas, die plaag, onkruid of siekte en vir lugtoediening geregistreer is, aanbeveel en voorsien.

MOENIE’S

  • ’n Plaagdoder deur lugbespuiting toedien indien dit nie as sodanig geregistreer is nie.
  • Advies oor ongeregistreerde tenkmengsels aanvaar nie.

Minimum spuitvolume vir lugtoediening
’n Vliegtuig (vastevlerk, helikopter, mikrolig of hommeltuig) kan nie dieselfde volume spuitmengsel as ’n tipiese grondspuittenk dra nie. Dus is die spuitvolume wat per hektaar vir lugtoediening aangedui word, baie laer as vir grondtoediening. Etikette van plaagdoders wat vir lugtoediening geregistreer is, dui gewoonlik op ’n minimum spuitvolume van 30 ℓ/ha tot 40 ℓ/ha. Dit is raadsaam om groter volumes te gebruik indien moontlik, want hoe groter die spuitvolume, hoe beter is die deponering van die plaagdoder op die teiken. Die minimum spuitvolume mag in sommige gevalle heeltemal ondoeltreffend wees, soos vir die berugte herfskommandowurm (HKW) in die verbouing van mielies. Slegs 30 ℓ-spuitmengsel per hektaar van ’n insekdoder is nie genoeg om die aktiewe bestanddeel in die plantkelke in te spoel waar larwes in die vyfde en sesde vervellingstadia leef en die plant beskadig nie. Lugtoediening word dus nie aanbeveel vir hierdie spesifieke plaag in sy gevorderde ontwikkelingsfases in mielies nie. Vir normale peste en siektes kan lugtoediening selfs teen die lae spuitmengselvolume voordelig wees, omdat die vliegtuig se beweging effektiewe deponering van die spuitmengsel op die teiken bevoordeel.

MOET’S

  • Ten minste 30 ℓ-spuitmengsel per hektaar toedien.

MOENIE’S

  • Minder as 30 ℓ-spuitmengsel per hektaar toedien nie.
  • Plaagdoders met lugtoediening vir plae wat in kelke, koppe of are skuil, toedien nie.

Vermy hierdie weersomstandighede
Weersomstandighede speel ’n deurslaggewende rol in die veilige en doeltreffende aanwending van plaagdoders – ongeag of dit grond- of lugtoediening is. Die algemene reël is om te bespuit wanneer die windsnelheid tussen 5 km/h en 15 km/h is. Enige glifosaatbespuiting moet gestaak word wanneer die windsnelheid 10 km/h oorskry om skade aan omliggende plantegroei te voorkom (dit word ook so op glifosaatetikette aangedui).

Hierdie reël is van toepassing op beide grond- en lugtoediening. Bespuiting in omstandighede met ’n windsnelheid van meer as 15 km/h moet vermy word, want dit verhoog die potensiaal vir ernstige drywing na nieteikengebiede.

’n Mens kan die behoefte aan ’n matige wind bevraagteken, maar die rasionaal is envoudig: Die lugbeweging help om die spuitmengsel op die teiken te deponeer. ’n Totaal windlose dag is riskant, omdat die spuitmengsel in die lug kan hang en van die teikengebied wegdryf – met potensieel ernstige gevolge vir ander gewasse, natuurlike gebiede en menslike gesondheid. Windlose dae is ’n gevolg van temperatuurinversie waar koel lug op die oppervlak fisies geblokkeer word om opwaarts te beweeg deur ’n laag warm lug wat oor die koue lug lê. Dit is maklik om temperatuurinversie te sien: Rook damp uit ’n skoorsteen slegs tot ’n sekere hoogte op en dryf dan sywaarts. Temperatuurinversie kan tot beduidende plaagdoderdrywing lei en moet ten alle tye vermy word. Sulke toestande heers gewoonlik in die vroeë oggend.

Hoë atmosferiese temperatuur is ook ’n probleem vir beide grond- en lugtoediening, want dit lei tot verdamping van die water in die spuitdruppels, vermindering in die druppelgrootte en swak deponering op die teiken. Dit is te verstane dat sulke klein druppels baie meer tot drywing geneig sal wees as die druppels van die aanbevole grootte. Vermy situasies waar reën kort na toediening kan val, omdat die produk dalk nie vinnig reënvas mag wees nie. Sommige etikette sal die tyd aandui wat nodig is vir die plaagdoders om reënvas te word. Indien geen sodanige aanduiding aangebied word nie, raadpleeg die plaaslike weervoorspelling en poog vir ’n “droë” tydperk van ses ure na toediening. Laastens, vermy bespuiting wanneer die gewas met swaar dou bedek is. Wag eerder totdat die dou verdamp het voordat bespuiting plaasvind.

MOET’S

  • Kies weerstoestande met ’n ligte wind en ’n omgewingstemperatuur van minder as 30°C.

MOENIE’S

  • Spuit wanneer daar ’n temperatuurinversie is nie.
  • Spuit in totaal windlose omstandighede nie.
  • Spuit wanneer die windsnelheid 15 km/h oorskry nie (10 km/h vir glifosaataanwendings).
  • Spuit wanneer die omgewingstemperatuur bo 30°C styg nie.
  • Spuit wanneer reën binnekort verwag word nie.
  • Spuit wanneer die gewas met dou benat is nie.

Spesifieke beperkings
Die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 mag sekere voorwaardes rakende enige geregistreerde plaagdoder oplê. Een so ’n voorwaarde wat op lugtoediening van toepassing is, is dat 2,4-D-esters nie deur lugtoediening in sommige dele van die land, soos KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap, gedoen mag word nie as gevolg van wegdrywing en potensiële gewas- en omgewingskade. Dit is dus nodig om die etiket te bestudeer en te kontroleer vir enige beperkings wat van toepassing is op die produk, voordat dit vir lugtoediening op die plaas gekies word.

MOET’S

  • Gaan die etiket na vir enige beperkings in terme van lugtoediening.

MOENIE’S

  • Die plaagdoder strydig met beperkings deur lugbespuiting toe dien nie.

Vereistes gestel
Vlieëniers van vliegtuie wat gebruik word vir lugtoediening moet deur die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer wees as lugbespuitingsplaagbeheeroperateurs om dienste as lugtoediener te lewer. Hierdie vereistes is onderhewig aan ander vereistes van die Burgerlugvaartwet en die regulasies daarvan, wat verderaan in die artikel bespreek word. Plaagbeheeroperateur- (PBO-)regulasies van Wet Nr. 36 van 1947 het sekere vereistes wat in konflik met dié van die SANS10118 is, maar die basiese beginsels is as volg:

Die produsent moet enige sensitiewe areas soos aanliggende gewasse, natuurlike areas, vleilande, behuising, gemeenskapsentrums asook plekke van veeteelt, soos voerkrale, pluimveeplase en melkerye, identifiseer. Hierdie inligting moet aan die vlieënier beskikbaar gestel word voordat daar met die spuitaksie begin word, sodat daardie gebiede vermy kan word. Wanneer sodanige gebiede in die nabyheid van die aanwendingsarea is, moet ’n buffersone gehandhaaf word om die spuitneerslag op sodanige gebiede te voorkom. ’n Buffersone is ’n veiligheidsone tussen die gebied van toediening en sensitiewe areas, om onnodige blootstelling van mense, boerderybedrywighede en die natuurlike omgewing aan die plaagdoder te voorkom.

Graan SA/Sasol fotokompetisie – Riaan Portgieter 2014

Alle onmiddellike bure moet van die voorgenome lugtoedieningsbedrywighede in kennis gestel word – hetsy telefonies of skriftelik. Sommige van die plaagdoders het ’n sterk en onaangename reuk en selfs al is die konsentrasie van sulke plaagdoders in die atmosfeer van geen of baie lae risiko vir mense, kan dit ’n hewige reaksie veroorsaak. Produsente moet bure waarsku wanneer sodanige plaagdoders aangewend gaan word en sterk aanbeveel dat die bure hul perseel ontruim terwyl die bespuiting gedoen word. Kennisgewings aan bure gebeur selde of ooit en lei tot baie negatiewe interaksies. Kennisgewingborde rondom die teikenarea word ook volgens die regulasies vereis om oor die lugtoediening van plaagdoders te waarsku. Die teikengebied moet duidelik deur die produsent gemerk word ter wille van die vlieënier en dit word meestal gedoen deur die voorsiening van GPS-koördinate.

Die vlieënier moet die spuitaksie in sy spuitlogboek aanteken en die produsent voorsien van ’n rekord van wat gespuit is. ’n Nuwe reël in die hersiene SANS10118 wat gedurende 2020 gepromulgeer moet word, is dat die lugtoediener (vlieënier), produsent en agent die verantwoordelikheid vir die aanwending deel. Dit beteken dat op die dag van die lugtoediening die vlieënier, produsent en landbouchemiese agent almal moet saamstem oor die plaagdoder wat aangewend moet word, die dosis asook die buffersone wat nodig is vir die spuitaksie.

MOET’S

  • Gebruik slegs die dienste van ’n vlieënier wat as ’n lugbespuiting-PBO geregistreer is.
  • Lig bure oor die lugtoediening in.
  • Merk die teikenarea duidelik vir die vlieënier.
  • Identifiseer sensitiewe areas en stel die vlieënier daarvan in kennis.
  • Merk en implementeer ’n buffersone.

MOENIE’S

  • Spuit naby sensitiewe areas nie.

Regulasies vir vliegtuie en vlieëniers
Die Burgerlugvaartwet het ’n stel regulasies vir vliegtuie en vlieëniers wat vliegtuie bedryf vir die lugaanwending van plaagdoders. Dit dek alle vliegtuie, insluitende hommeltuie wat gedefinieer word as afstandbeheerde vliegtuie (ABV’s). Daar is geen verskil tussen die regulasies vir vliegtuie (helikopters, vastevlerk- en mikroligte vliegtuie) en ABV’s nie. Hulle moet almal gelisensieer en gesertifiseer wees vir lugtoediening van plaagdoders (soms genoem oesstuiwing). Vlieëniers van standaard vliegtuie en operateurs van ABV’s moet gelisensieer word as kommersiële vlieëniers met ’n landbougradering vir lugtoediening, voordat hulle mag aansoek doen vir die lugtoediening PBO-registrasie kragtens Wet Nr. 36 van 1947. Vlieëniers moet oor die bevoegdheid beskik om die radio-telekommunikasie wat nodig is vir kommersiële vlieëniers te bedryf en moet in besit van die nodige radio-telekommunikasietoerusting wees. Dit is nie net ’n geval van die koop van ’n hommeltuig en die aanbied van lugbespuiting nie; die persoon moet ten volle gekwalifi seer en gesertifi seer wees net soos ’n kommersiële vlieënier van ’n normale vliegtuig.

Dit is die produsent se verantwoordelikheid om die sertifi sering van ’n vlieënier van enige tipe vliegtuig asook die lugtoediener se registrasie onder Wet Nr. 36 van 1947 na te gaan. Kontroleer ook dat die vliegtuig (insluitend ABV’s) gelisensieer en gesertifi seer is vir gewasbespuiting. Versuim om dit te doen kan die produsent laat met ’n onwettige operateur en ’n waarskynlike oortreding van beide Wet Nr. 36 van 1947 en die Burgerlugvaartwet.

Lugveiligheid is van kardinale belang wanneer lugaanwending van plaagdoders gedoen word. Dit is ’n goeie beginsel vir die vlieënier om aan te meld by die naaste lugverkeerbeheertoring en die spuitaksie aan te teken. Dieselfde geld ook vir ABV-operateurs. Dit is baie belangrik vir gelisensieerde ABV-operateurs om seker te maak hulle is ingeskakel op die plaaslike lugverkeerradiofrekwensie om alle vlieëniers van ander vliegtuie van hul bedrywighede in te lig. Versuim om dit te doen, kan tot ’n botsing tussen ’n hommeltuig en ’n vliegtuig of helikopter lei – met rampspoedige gevolge.

MOET’S

  • Maak seker dat die vliegtuig en vlieënier beide gelisensieer en gesertifiseer is vir lugtoediening deur die burgerlikelugvaartowerheid.Die vlieënier moet radiokommunikasie met ander vliegtuie hê en aan lugverkeerbeheer rapporteer.

MOENIE’S

  • Die dienste van ongelisensieerde en ongesertifiseerde vlieëniers en vliegtuie, veral nie ongelisensieerde ABVoperateurs, gebruik nie.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos na gerhard@croplife.co.za of kontak CropLife Suid-Afrika by 082 446 8946.

Die oorgrote meerderheid van plaagdoders wat in Suid-Afrika geregistreer is, word op CropLife SA se Agri-Intel (www.agri-Intel.com) gelys met gebruikersvriendelike aftrek-spyskaarte wat dit maklik maak om vir geskikte middels te soek. Dit is van kritieke belang dat die produsent hom/haarself van die plaagdoderfeite vergewis deur die etikette vanaf Agri-Intel af te laai en die voorskrifte vir effektiewe en verantwoordelike gebruik te bestudeer. Dit sal die produsent ook lei na die aanwendingstegnologie wat vir ’n plaagdoder gebruik kan word, wat aandui of dit slegs vir grondtoediening deur ’n trekker en spuitbalk of newelblaser bedoel is en of dit ook vir lugtoediening geregistreer is.