February 2018

LOUREINE MULLER, grondboon-agronoom: Gauteng, Triotrade

Elke jaar bring nuwe uitdagings: Van laat reënval tot koue fronte wat in die voorseisoen voorkom. Wisselvallige weerpatrone het die norm eerder as die uitsondering geword – wat meer druk op produsente plaas. Goeie beplanning en tydsberekening het daarom kritiek geword – veral in die grondboonbedryf.

Planttyd is gewoonlik waar die sukses of mislukking van die oes begin. Dit is juis gedurende dié tyd dat die produsent die spreekwoordelike oor op die grond moet hou.

Weerpatrone verander binne ‘n oogwink en reën kan wegbly tot na die spertyd vir grondboonaanplantings. Hierdie realiteit was ‘n groot faktor in die huidige oes. Die beplanning van aanplantings het in ‘n groot aantal gebiede, as gevolg van laat reën, nie gerealiseer nie. Daar was egter produsente wat die risiko geneem het en ná die spertyd vir grondboonplanttyd (5 Desember) begin plant het. Dit is juis in dié gevalle wat korrekte produksiebestuur toegepas moet word.

Goeie kwaliteit saad kan nie onderbeklemtoon word nie. Hoë kiemingspersentasies verseker goeie plantestand, wat die potensiële opbrengs van die oes van die begin af verhoog. Pro­dusente word afgeraai om van teruggehoue saad gebruik te maak, aangesien die kiemingspersentasies en groeikragtigheid van daar­die grondbone glad nie bekend is nie.

Die suiwerheid van die kultivar (Foto 2) wat geplant word, is net so belangrik aangesien dit die eenvormige rypwordingproses van die oes beïnvloed. Produsente moet seker maak dat hul wel SANSOR-gesertifiseerde saad vanaf ‘n geloofwaardige saadverskaffer bekom.

Wanneer die fisiologie en groei van ‘n grondboonplant bestudeer word, moet daar in gedagte gehou word dat die plant peule produseer om te oorleef. Menige verteenwoordiger sal die produsent probeer oortuig dat grondbone geil moet groei vir goeie produksie. Dit is nie die geval nie.

Aangesien grondbone hul eie stikstof produseer moet geen, maar geen stikstof as blaarvoeding toegedien word nie. Indien hierdie praktyk toegepas word, sal die volgende gebeur:

  • Die grondboon staak onmiddellik die vorming van blommetjies en groei eerder in die loof.
  • Dit neem tot drie weke voordat die grondboonplant na die toediening van stikstof weer begin blom.
  • Daar is drastiese oesverliese aangesien geen peule gedurende die “stikstof-oorvloed”-periode ontwikkel nie.

Dit neem tussen 60 dae tot 90 dae vir ‘n peul om vanaf vorming tot volwasse ryp peul te ontwikkel. Met laat aanplantings gaan slegs die eerste en moontlik die tweede drag volwassenheid bereik – as die oorblywende groeitydperk tot intreedatum van ryp in ag geneem word.

Dit is raadsaam om met aanvangs van blom ‘n toediening van seewierekstrak te spuit om sodoende die meeste blomvorming te stimuleer. Seewierekstrak bevat groeihormone en mikro-elemente wat vir die grondboonplant voordelig is. Waak egter teen die toe­diening van enige stikstof.

Latere bespuiting van die mikro-element boor sal die voorkoms van swarthart by grondbone voorkom.

Die groot vraag bly of die toediening van kalsium in die vorm van gips, die regte ding is. Heelwat produsente is huiwerig om gips te gebruik as gevolg van uitdagings met die toediening daarvan. Daar kan ongelukkig nie rondom hierdie probleem gewerk word nie.

Enige tipe blaartoediening van kalsium is nutteloos aangesien dit die enigste voedingselement is wat nie afwaarts deur die grondboonplant verplaas word nie. Die unieke opname-metode van kalsium direk deur die peul moet in ag geneem word wanneer gips toegedien word om sodoende te verseker dat kalsium binne die eerste 10 cm van die grondoppervlak beskikbaar sal wees.

Gedurende die groeiseisoen moet daar met ywer gereelde land­inspeksies gedoen word om die voorkoms van enige blaarsiektes vroegtydig op te spoor. Voorsorg is altyd beter as nasorg. Indien daar wel ‘n voorkomende spuitprogram gevolg word, moet in gedagte gehou word dat te veel van ‘n goeie ding ook nie altyd goed is vir die plant nie.

Dit is belangrik om gedurende inspeksies op meer as een plek in die land volledige plantinspeksies (Foto 3) te doen, waar die plant se loof oopgemaak word om na die kern van die plant te kyk. Dit is juis in die onderste blare van die plant waar siektes begin uitbroei.

Gedurende blaarbespuitings moet die produsent seker maak dat die hele blaaroppervlakte deeglik bedek word. Dit help veel dat net die boonste blare van die plant gesond bly terwyl die res oortrek is met blaarsiektes en verlore gaan as fabriek wat die peule voed.

Weer eens moet uitgelig word dat korrekte produksiebeplanning alreeds met planttyd begin. Planterspore word altyd by die uithaler se wydte aangepas (Foto 4). Dit is uiters belangrik gedurende oestyd om opbrengsverliese te beperk.

Die korrekte stadium van oes is belangrik vir optimale gradering en inkomste. Te vroeg oes gaan veroorsaak dat daar kwaai verkrimping voorkom en ‘n verlies in kwaliteit sal plaasvind. Té laat oes veroorsaak die voorkoms van baie gevlekte en siek pitte, asook die voorkoms van peulverlies gedurende die oesproses – wat die kwaliteit en opbrengs van die oes beïnvloed.

Opsommend
Grondboonproduksie vereis effektiewe produksiebeplanning, bestuur en tydsberekening om ‘n goeie oes te verseker. Kennis van die gewas en die produksiepraktyke daarvan sal tot die produsent se voordeel strek.
Publication: February 2018

Section: Focus on