July 2017

DR PIETER HAUMANN, hoof uitvoerende beampte, Fertasa

Die Bemestingshandleiding het ‘n integrale deel van die kunsmisbedryf in Suid-Afrika geword. Toe die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA) – nou Fertasa – in 1959 tot stand gekom het, was dit nodig om bemestingsaanbevelings te standaardiseer.

Navorsing is uitgevoer om bemestingsriglyne vir die belangrikste gewasse op te stel. Vandag is daar riglyne vir die meeste van die gewasse wat in Suid-Afrika verbou word. Daar is ook besef dat bemestingsaanbevelings sonder begrip van grond, klimaat, water en tegnologie nie van veel waarde kan wees nie. Daarom is besluit om alle relevante aspekte wat ‘n rol in die wetenskaplike, doeltreffende en omgewingverantwoordelike bestuur van grondvrugbaarheid kan speel, in te sluit in die Bemestingshandleiding.

In die strewe om ‘n groeiende menslike bevolking te kan voed, moet nuwe tegnologie voortdurend ontwikkel word en dit bring noodwendig vernuwing en verandering voort.

Die Bemestingshandleiding bevat algemene riglyne en nie intellektuele eiendom (IP) wat deur ons lede ontwikkel is nie. Die kunsmisbedryf is hoogs kompeterend en uitstekende navorsing word deur lidmaatskappye gedoen. Uiteraard kan dit lei tot kompeterende voordele vir die maatskappye wat nie inligting deel nie en dit moet eerbiedig word.

Die doel met hierdie artikel is om sommige opdaterings van die 2007 Bemestingshandleiding na die 2016 Bemestingshandleiding bekend te stel.

Fertasa se lede het die dienste van uiters bekwame wetenskaplikes en ons erken met trots met hierdie handleiding hul insette oor die jare. Ons erken met dankbaarheid ook insette van wetenskaplikes buite Fertasa lidmaatskap. Ons glo dat met goeie koördinasie en samewerking ons net die beste diens vir ons lede en die produsente van Suid-Afrika kan lewer.

Die grond waarin geproduseer word, kry tot ‘n groot mate aandag en daar is heelwat aanpassings aan hierdie gedeelte gemaak. Die gewasproduksiepotensiaal, wat die basis van beplanning is, is aansienlik deur prof Alan Bennie uitgebrei. Aspekte soos “Hoe om die potensiaal te bepaal” word bespreek.

Grondmonsterneming, asook grondontledings, is ook aangepas. Drs Arrie van Vuuren, Louis Ehlers en mnr Tesman Beyers, asook lede van AgriLASA, het hand bygesit. Die grondmonsternemings en merktegnieke word voorgestel. Die grondontledingsmetodes word ook in detail beskryf. Aspekte rakende presisieboerdery en die grondmonsterneming hiervan word ook bespreek.

Mnr André Smith het die organiese materiaal in grond herskryf en laat die klem op van die volgende aspekte val: Die organiese materiaal se funksie in die grond, die koolstof:stikstof-verhouding, faktore en praktyke wat die organiese vlakke beïnvloed en laastens word die effek op die klimaat aangeraak.

Grondwater, wat die basis van produksiebeplanning vorm, is weer deur prof Alan Bennie hersien. Die hoeveelheid plantbeskikbare water en die grondwaterbestuur word onder andere op ‘n praktiese wyse bespreek. Die plantbeskikbare water, asook die verwagte reënval, kan deur produsente gebruik word om die produksiepotensiaal vir die volgende jaar te voorspel.

Grondsuurheid is een van die groot produksiebeperkinge in veral die saaibedryf. Die oorsake van grondversuring en die opheffing van grondsuurheid word prakties bespreek. Hierdie aspek is met nuwe data aangepas en aansienlik uitgebrei ten opsigte van ondergrondsuurheid, grondkorsvorming en praktiese voorbeelde is ook ingespan om die beginsels te verduidelik. Drs Pieter Haumann, Koos Bornman, Arrie van Vuuren en Erik Adriaanse het in hierdie gedeelte ‘n groot aandeel gehad.

Soutgeaffekteerde gronde (brak) is by sommige produsente ʼn probleem. Dr Piet Nell spreek hierin nuwe gedagtes rakende hierdie aspek.

Aspekte rakende water is ook ‘n nuwe gedeelte. Waterkwaliteit en waterbesoedelingsriglyne word bespreek. Besproeiingskedulering is ‘n aspek wat produksie en winsgewendheid uitermate kan beïnvloed.

Mnre Frans Joubert en Felix Reinders het ‘n klompie nuwe gedagtes en praktyke hier ingewerk.

In die plantvoeding-afdeling is ook heelwat aanpassings gemaak. Die afdelings oor stikstof en fosfor is in geheel herskryf deur drs Erik Adriaanse en Chris Schmidt, onderskeidelik. Vergewis jouself gerus oor die maatreëls om stikstofloging en stikstofvervlugtiging te beperk, watter bronne om waar en wanneer, sowel as en die hoeveelheid daarvan om te gebruik vir optimale produksie. Die fosfaatbemesting is deur drs Koos Bornman en Arrie van Vuuren hersien en ook aangepas.

Prof Giel Laker het die mikro-elemente-afdeling in geheel herskryf. Mikro-elementtekorte is dalk juis dié elemente wat produksie beduidend kan benadeel.

Die plantvoedsel wat deur plante verwyder word, vorm die basis van heelwat bemestingsaanbevelings. In hierdie nuwe handleiding is die tabelle uitgebrei om meer elemente in te sluit en is die nuutste navorsing ook opgeneem.

Die ontwikkeling en struktuur van die kunsmisbedryf is deur mnr Adam Mostert en dr Gert van der Linde opgegradeer. Landboukalk en gips is ook aangepas. Die bronne asook die metode om die kalkbron te kies, word aangetoon. Vir die aanpassings was drs Koos Bornman, Arrie van Vuuren en Pieter Haumann verantwoordelik.

Dit help nie veel dat die regte bemestingstowwe toegedien word, maar die toerusting is nie reg gekalibreer nie. Daarom het dr Louis Ehlers ‘n nuwe afdeling “Kalibrasie van toerusring en doseertoerusting by besproeiing” geskryf, wat ook ingesluit is.

Die verskillende hoofgewasse se bemestingsaanbevelings is ook weer hersien en met nuwe inligting aangepas. Droëlandkoringverbouing in die winterreënvalstreke is saamgestel deur mnr Tesman Beyers, met ‘n aanvulling deur Omnia Wes-Kaap. Heelwat veranderinge is ook hierin gemaak.

Vir kanolaverbouing is die nuwe bemestingsaanbeveling, soos deur die Proteïennavorsingstigting (PNS) in 2014 voorsien, opgeneem. Drs Chris Schmidt en Erik Adriaanse het die mieliebemestingsriglyne in geheel hersien en verander.

Sonneblombemestingsaanbevelings is deur dr André Nel met die nuutste data aangepas.

Doen self die moeite om ook na die bemestingaanbevelings van die groente en ander gewasse te kyk. Ook hier is heelwat aanpassings gemaak.

Presisieboerdery en inligtingstelsels is die nuwe praktyke en tegnologie van die toekoms wat die winsgewendheid van gewasverbouing kan verhoog. Daarom is ‘n nuwe afdeling (saamgestel deur dr Louis Ehlers) ingesluit om hierdie aspekte beter te verduidelik.

Dit is beslis die moeite werd om die nuwe boek aan te skaf. Die Bemestings Adviseurs Sertifisering en Opleiding Skema (BASOS) maak reeds gebruik van die 2016-weergawe van die Bemestingshandleiding.

Die Fertilizer Handbook is nog in die pyplyn en behoort teen middel vanjaar beskikbaar te wees.

Indien jy enige navrae het, rig dit aan Candice van der Walt by candice@fertasa.co.za.

 

Publication: July 2017

Section: Focus on