Verken gereeld jou lande

Gepubliseer: 8 Mei 2023

635
Dr Vicki Tolmay, LNR-Kleingraan, Stellenbosch

Onvoorspelbare weersomstandighede maak dit al hoe moeiliker om te boer. Hierdie veranderende weer­patrone het ’n ingrypende invloed op gewasproduksie. Dink aan daardie koue, nat toestande aan die begin van die mielieseisoen wat die plante geel en ver­dwerg laat vertoon.

Sodra die omstandighede verbeter as die water begin wegsak of verdamp en die son skyn, lyk die mie­lies weer mooi. Wintergewasse word ook beïnvloed. In dele van die noordelike gebiede het reën tydens strooptyd die risiko vir die verbouing van kleingrane soos koring en gars aansienlik verhoog. Dit veroorsaak dat die gewas nie betyds gestroop kan word nie en lei ook tot kwaliteitsprobleme.

Net soos plante ’n bepaalde hoeveelheid koue- of hitte-eenhede benodig vir ontwikkeling, is daar spesifieke toestande wat die ontwikkelingstempo van plae en plantsiektes bepaal. Hoe nader die tempe­ratuur aan die insek of patogeen se ideale ontwikkelingstoestande is, hoe vinniger voltooi hulle elke fase in hulle lewensiklus en hoe korter is die tydperk wat verloop tussen opeenvolgende generasies. Die veranderende weerpatrone wat nou al hoe meer voorkom, veroorsaak dat plae en plantsiektes “onverwags” hulle verskyning kan maak omdat hulle lewensverloop by die veranderende weer aanpas.

Die veranderende weersomstandighede word veral by insekplae waargeneem. Elke insekspesie het maksimum- en minimumtemperatuurgrense waarbinne hulle optimaal ontwikkel. Plae wat voorheen nooit of selde skadelik was, kan dus probleme veroorsaak wanneer die klimaat verander. Hierdie pro­bleem word ook waargeneem in die hoeveelheid nuwe plae wat Suid-Afrika onlangs binnegekom het en ernstige probleme skep, byvoorbeeld die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda sedert 2017), die polyphageous shot hole borer (ook genoem PSHB-kewer wat sedert 2017 na agt provinsies versprei het en die potensiaal het om die vrugtebedryf ernstig te benadeel) en die tamatieblaarmyner (Tuta absoluta wat sedert 2016 hier voorkom).

Russiese koringluis, wat Vrystaatse produsente vir jare geteister het, is nie meer die nommereenplaag in hierdie omgewing nie – ander insekte begin nou kop uitsteek. Die afgelope seisoene het daar baie rooi­beensandmyt in die Wes-Kaapse koringlande voorgekom; dit is ’n plaag wat lanklaas ’n groot probleem was. Daar was ook probleme met die WP-graanwurm, verskeie slaksoorte asook bolwurm gewees.

Hoe bestuur ’n mens hierdie risiko’s?
Die goeie nuus is dat dit wel moontlik is om hierdie plae te bestuur. As ou grondbeginsels toegepas word en die voorkoms van plae gemonitor word, is dit moontlik om potensiële probleeminsekte betyds te identifiseer en teen hulle op te tree. Klimaatsverandering maak dit al hoe belangriker vir produsente om gereeld hulle lande deur te stap en te monitor. Sommige produsente span selfs satellietbeelde en hommeltuie wat foto’s uit die lug kan neem, in. ’n NDVI-beeld kan byvoorbeeld kolle uitwys waar plante swaarkry en waar hulle geil groen groei. Dit bly egter die heel beste om gereeld deur die lande te stap en te gaan kyk hoekom die plante geil groen vertoon (dalk is dit onkruid) en wat plante in die swak kolle makeer.

Wenke om die meeste te maak van dié moniteringstaptogte

  • Besluit vroegtydig op ’n roete wat skuins en heen en weer oor die land strek sodat dit verteenwoordigend is van die hele land (Figuur 1). Indien “goeie” en “slegte” kolle op NDVI-beelde voorkom, moet dit in die roete ingesluit word, maar daar moet nie net daarop gefokus word nie.
  • Hou in gedagte dat insekinfestasies meestal in klein kolletjies ontstaan en van daar af uitkring.
  • Moet nie net na die buitenste rand van ’n land kyk nie omdat dit nie ’n ware weerspieëling is van wat binne in die land gebeur nie.
  • Hoe meer waarnemingspunte daar is, hoe akkurater sal die besmettingsyfer bepaal kan word. As die land kleiner as 1 ha is, kan tien punte genoeg wees. As die land groter is, is daar meer ondersoekpunte nodig vir ’n akkurate besmettingsbepaling.
Figuur 1: Voorbeeld van die uitleg van ’n moniteringsroete.

Hoe om ’n moniteringsroete uit te voer

  • Besluit vooraf hoeveel treë as standaard sal dien en watter voet as merker gebruik sal word.
  • Stap eers ’n ent in die land in. Begin dan om die vasgestelde hoeveelheid treë af te tel. Op die laaste tree moet die gewasplant wat die naaste aan die voorpunt van die merkerskoen is, geïnspekteer word vir insekskade. Die spesifieke plant word dan genoteer as met of sonder insekte.
  • Stap daarna die vooraf bepaalde roete en neem lesings by elke ondersoekpunt soos beskryf in die vorige punt.
  • Data wat op die roete by elke punt versamel is, word nou gebruik om ’n persentasie van besmetting te bereken.
  • Indien chemiese beheerriglyne vir ’n plaag bekend is, is dit raadsaam om die tyd van toediening en die persentasie be­smetting in ag te neem wanneer die insek gespuit moet word. Sodoende kan onnodige bespuitings en koste vermy word.
  • Indien daar nie riglyne vir die spesifieke insek bekend is nie, sal die besmettingsbepaling asook inligting rakende die groeistadium van die gewas die produsent/deskundige in staat stel om ’n meer ingeligte besluit rakende die beheer daarvan te neem.
  • Fyner bestuur van insekbesmette kolle in lande is moontlik deur gebruik te maak van moderne tegnologie soos hommeltuie wat bespuitings kan toedien. Alhoewel die implementering daarvan nog nie algemeen is nie as gevolg van die koste en lisensies wat met hommeltuie gepaard gaan, sal dit in die toekoms waarskynlik goed ingespan word om beduidende kostebesparings vir die produsent teweeg te bring. Verder sal dit ook die biodiversiteit in lande bevorder as slegs die probleemareas behandel word.

Onthou die volgende:

  • Hoe vroeër die insek of siekte raakgesien word, hoe groter die kans om grootskaalse skade te voorkom. Kenners kan geraadpleeg word rakende beheer en alternatiewe opsies wat tot die produsent se beskikking kan wees.
  • Nie alle skade word in die dag aangerig nie. Sommige insekplae voed slegs snags en net die skade wat deur hulle veroorsaak word, is gedurende dag waarneembaar. ’n Voorbeeld hiervan is die valskommandowurm (Leucania loreyi). Wees dus hoofsaaklik op die uitkyk vir skade of simptome eerder as om net die insekte te soek.
  • Indien die simptome of insek nie bekend lyk nie, neem foto’s om vir deskundiges te stuur. Die volgende foto’s moet ingesluit word: ’n foto van die hele land, ’n foto van die geaffekteerde plant van die grondoppervlak af tot op die bopunt, duidelike foto’s wat op die skadesimptome fokus en dan, indien moontlik, ook ’n foto van die verdagte insek (insluitende verskillende stadiums van die insek indien teenwoordig). Soms vreet insekte selektief net op sekere dele van die plant. Let dus op presies waar op die plant die insek voorkom (bo of onder die blaar en val dit vinnig grond toe as ’n mens aan die plant raak). Hierdie inligting is noodsaaklik vir die entomoloog om ’n akkurate identifikasie van die insek te kan maak.
  • Klein instars (baba-insekte) is gewoonlik makliker om te beheer as volwasse insekte en daarom is dit noodsaaklik om geaffekteerde lande so gou moontlik te bespuit indien nodig.
  • Om te weet watter plae en siektes in die onmiddellike gebied voorkom word sterk aanbeveel, maar dit is verder voordelig om kennis te neem van ander plae en siektes wat ook die gewas as ’n gasheer kan gebruik. Ander nabygeleë gewasse asook die omliggende omgewing speel ’n belangrike rol in die lewensiklus van insekte en kan selfs bepaal of ’n spesifieke insek plaagstatus sal bereik of nie.
  • Elke land het ook voordelige insekte wat as natuurlike vyande van ’n plaag kan optree. Hierdie insekte kan kosteloos ’n plaag­probleem vir die produsent oplos. Dit is dus belangrik dat die produsent bewus is van watter insekte hierdie rol vervul en dan alle plaagbeheeraksies so beplan dat daar so min as moontlik skade aan hierdie voordelige insekte aangerig word.

Kan klimaatsverandering ’n invloed hê op die lewensloop van ’n insek?
Klimaatsveranderinge beïnvloed beslis die lewensloop van insekte. Die graad van die invloed hang af van die spesifieke omgewingstoestand wat verskil asook die stadium van die lewensloop waarin die insek op daardie spesifieke tyd is.

Grafiek 1 en Grafiek 2 is ter illustrasie van hierdie beginsel ingesluit. Albei grafieke bevat data wat in Luckhoff versamel is. Grafiek 1 stel die gemiddelde daaglikse temperatuur gedurende 2022 in geel voor en die 13-jaargemiddeld van 2009-2021 in groen. Reënval word in die blou kolomme vertoon. Die minimum en maksimum temperature vir ontwikkeling word deur die rooi lyne in Grafiek 1 voorgestel. Buite hierdie grense hou die valskommandowurm op om te ontwikkel en ver buite hierdie grense kan die insek sterf.

Grafiek 1: Reënval en die gemiddelde daaglikse temperatuur van 2022 en die 13-jaar-periode (2009-2021) in Luckhoff.
Grafiek 2: Verskille in motgetalle in Luckhoff gemonitor gedurende 2022 teenoor die gemiddelde motgetalle van 2018 tot 2021.

In Grafiek 2 dui die rooi lyne die aantal valskommandowurmmotte wat weekliks in Luckhoff gevang is aan. Die boonste grafiek verteenwoordig data wat in 2022 versamel is, terwyl die onderste grafiek motgetalle gedurende 2018 tot 2021 toon. Die donkerblou pyle verteenwoordig die gemiddelde lewensduur van een lewensiklus, wat die eierfase, die onvolwasse fase (die wurmstadium = die plaag), die papie en die volwasse stadium (mot) insluit.

Weens warmer temperature vroeg in 2022 (Grafiek 1) is daar reeds drie lewensiklusse teen week 8 (einde Februarie) voltooi teen­oor ’n gemiddeld van twee lewensiklusse oor dieselfde tydperk in die voorafgaande vier jaar (Grafiek 2A). Die minimumontwikkelingstemperatuur waar daar groei en ontwikkeling van vals­kommandowurm kan plaasvind, is 10 ºC. Grafiek 1 toon dat die gemiddelde wintertemperatuur in 2022 heelwat kouer was as die gemiddelde van die vorige 13 jaar. Hoe nader die temperature aan hierdie grense is, hoe langer neem dit om die lewensiklus te voltooi. Die laaste motvlug voor die winterkoue het gemiddeld teen 22 Junie plaas gevind (Grafiek 2B).

Herfskommandowurm

Gedurende 2022 is dit egter in week 20 (middel Mei) waar­geneem, twee weke vroeër as gewoonlik (Grafiek 2B). Hierdie vervroegde motvlugte is te wyte aan die warmer gemiddelde temperatuur vroeg in die jaar wat opgevolg is deur kouer temperature wat al nader aan die minimumontwikkelingstemperatuur geneig het (Grafiek 1). Die eerste motvlug na die winter was ook twee weke vroeër gedurende 2022 (week 33, middel Augustus) in vergelyking met die gemiddelde vlug in week 35 in die begin van September (Grafiek 2C). Die nuwe generasie wat van hierdie motte afkomstig is, het in 2022 reeds van week 9 af gekom en nie van week 11 soos wat daar in die vierjaargemiddeld waargeneem is nie. Hierdie twee­wekeverskil is as gevolg van die warmer weer van week 2 na week 4 wat die hele jaarsiklus vervroeg het (Grafiek 1).

Namate die gemiddelde temperature van die lente na somer toe styg, is daar meer motvlugte omdat die lewensiklus van die insek as gevolg van die hoër temperature versnel. Gewoonlik kom hierdie verskynsel tussen week 45 en 46 voor in middel November (Grafiek 2D). In 2022 was hierdie motvlugte egter ook vroeër (week 44, begin November) en het boonop ’n hoër piek van 35 motte per dag gedurende week 45 getoon, wat nie die vorige vier jaar voorgekom het nie. Dit is voorwaar ’n groot verskil as gevolg van ’n klein verhoging in temperatuur oor ’n kort tydperk in Januarie.

In hierdie geval kon skade tussen week 44 en week 46 voor­gekom het. Die omvang van die skade is egter bepaal deur reënval gedurende die motvlugte en die beskikbaarheid van ander geskikte grasgashere vir eierlegging in die omgewing van die spilpunte en gevolglik minder motte wat eiers in die gewas gelê het.

Hierdie navorsingsprojek is deur die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT) befonds en monitor die motvlugte in die produksiegebiede met die hulp van vrywilligers. Feromoonvalle met lokmiddel word gebruik om Leucania loreyi-motte aan te trek. Medewerkers tel weekliks die aantal motte in die val en stuur die data wat gebruik word om die grafieke te trek, in. Indien daar potensiaal vir valskommandowurmbesmetting is, word die produsente in daardie omgewing gewaarsku om op die uitkyk te wees vir skade en wurminfestasie. Die ondersteuning van SAWCIT, AB InBev, die Suid-Afrikaanse Garstelersinstituut (SABBI), die medewerkers en Graan SA word hoog op prys gestel.

Vir meer inligting kontak dr Vicki Tolmay by tolmayv@arc.agric.za of 073 469 0000 (MTN)/072 446 3538 (Vodacom).