Hoë reënval kan stroopproses in die wiele ry

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 26 April 2022

531

Die effek van La Niňa is oral in die land duidelik waarneembaar, maar landbouers is tans veral bekommerd oor sojabone en mielies wat weens nat toestande nie gestroop kan word nie.

Versuiptoestande
Jan Labuschagne van die Kestell-omgewing verduidelik dat dit sedert Oktober verlede jaar goed gereën het. “Hierdie oordragvog lei nou tot versuiptoestande,” sê hy. Tot 25 April vanjaar is daar vir dié maand alleen reeds 109 mm reën op sy plaas gemeet.

Ebert du Plessis, Graan SA-hoofbestuurslid uit Standerton se wêreld, sê April se reënval is “abnormaal”. Hulle monitor reënvalsyfers sedert 1959 en die hoogste vir dié maand was 128 mm in 1971. Teen 25 April vanjaar het hul reënval reeds op 190 mm gestaan.

Neil Claassen, hoofbestuurslid vir Streek 18 wat in die Reitz-omgewing boer, stem saam dat reënval in April abnormale afmetings aanneem. Hy het vir die eerste drie weke van dié maand reeds sowat 100 mm gemeet.

Die probleem is dat reënwater weens die dalende temperature nie in die grond geabsorbeer word nie.

Sojabone
Labuschagne kon slegs 10 ha sojabone stroop en sy dilemma is dat die peule nou begin oopspring. Hy het ook droëbone op die land wat binne ’n week gestroop moet word.

Ook Du Plessis is bekommerd oor die sojaboonoes in hul streek, met peule wat reeds begin oopspring. Hoewel nog reën vir die streek voorspel word, hoop hy dat hulle volgende week in die lande kan inkom om te begin stroop.

Mielies
Hoofbestuurslid vir Streek 21, Pierre van Zyl, wat in die Wesselsbron-omgewing boer, sê in hulle omgewing lyk die mielie-oes sleg en hy skryf dit toe aan die baie reën wat hulle in Desember gehad het. “In dié maand het ons slegs sewe dae sonskyn gehad en sowat 300 mm reën gekry – die mielieplante kon net nie herstel nie. Die opbrengs asook die graad is besonder laag.”

Labuschagne meen dat sy mielies nog ’n ruk in die lande kan staan, maar is tog bekommerd daaroor dat hy weens laat stroop nie kontrakte sal kan lewer nie.

Wanneer mieliekoppe nog boontoe kyk en dit nat raak en bly, kan pitte begin verkleur en swamme ontwikkel.

Sonneblomme
Volgens Claassen begin sonneblomme nou weens die nat toestande in die lande omval. “Die oes was so geil, die koppe was groot en nou raak die plante topswaar. Die sonneblom se penwortel is nie voldoende om die plante in hierdie toestande staande te hou nie.”

Vee
Veeprodusente het veral las van vrotpootjie by skape en wol wat nadelig beïnvloed word.

Du Plessis, wat ook ’n bees- en skaapkudde het, meen vee kan nie die nat, koue toestande hanteer nie. “Hulle verloor vinnig kondisie in sulke weer.”

Verder het die nat weer ’n negatiewe effek op die veld. “Die gras stink letterlik en dit word ’n teelaarde vir parasiete soos rondewurms en lewerslakke.”

Stropers val vas
’n Verdere probleem is dat stropers in die nat lande vasval. Dié duur stuk toerusting is nie ontwerp om in die modder te werk nie en is dus geneig om vas te sit. Wanneer dit nie reg herwin word nie, is verdere skade die produsent se voorland.

Dit is nie raadsaam om ’n stroper wat vassit te probeer uittol nie; dit gaan net dieper in die modder ingrawe. Dit moet uitgetrek word – raadpleeg die stroper se handleiding in dié verband.

Verseker ook dat behoorlike kabels of kettings vir die doel gebruik word, sodat dit nie breek en tot beserings lei nie.

Wanneer ’n stroper herwin is, moet dit noukeurig nagegaan word om seker te maak dat modder nie bewegende dele beskadig het of vashou nie.

Rimpeleffek
Du Plessis meen ons leef in “ongekende tye”. Die pryse van diesel en kunsmis styg, die kans op goeie oeste raak skraal en dit alles het ’n uiteindelike effek op die verbruiker.