Raaigrasweerstand is steeds ‘n bedreiging

907

March 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker en FREHAN BESTER, Wes-Kaapse produsent en chemiese verteenwoordiger

Is raaigrasweerstand nog ‘n bedreiging in die Wes- en Suid-Kaap? Die kort antwoord is: Ja, beslis.

Heelwat kleingraanprodusente sou raaigras so kort soos drie jaar gelede uitgesonder het as die grootste bedreiging vir die volhoubare voortbestaan van hul boerderye. Hoewel die situasie op heelwat plase verbeter het na die koms van voor-opkoms on kruiddoders soos trifluralien, prosulfacarb (Boxer en Wrestler), triallaat (Avadex) asook pyroxazsulfone (Sakura), is die vraag wat gevra moet word: Hoe lank kan produsente nog op hierdie produkte staatmaak vir effektiewe beheer van raaigras?

‘n Groot aantal produsente is van mening dat van hierdie middels – en veral pyroxasulfone – sodanige astronomiese verbeterings in voor-opkomsraaigrasbeheer tot gevolg het, dat hul nie meer ʼn raaigrasprobleem het nie. Dit is juis hier waar die probleem lê.

Daar kan beswaarlik gesoek word na ‘n beter teksboekvoorbeeld van hoe raaigrasweerstand in die graanstreke in die Kaap afgespeel het. Ons het amper vergeet van die dae toe die fops soos byvoorbeeld clodinafop-propargyl (Topik) en diklofopmetiel (Hoelon) raaigras 100% kon beheer.

Ons almal weet wat hierna gebeur het en hoe teleurgesteld ons was toe daar ook weerstand opgebou het teen die dims, byvoorbeeld tralkoxydim (Grasp en Achieve), sulfoniel ureums (byvoorbeeld Cossack en Hussar) en den-tipe onkruiddoders (Axial). In hierdie tyd het produsente uitsluitlik staatgemaak op selektiewe na-opkomsbeheer, want planters was tien jaar gelede nog nie so algemeen in gebruik nie.

Mespuntplanters het dit moontlik gemaak om trifluralien as ʼn vooropkomsonkruiddoder tydens die plantproses te gebruik en alhoewel dit ‘n welkome hulpmiddel was wat selfs vandag nog baie alge meen in gebruik is, word te veel raaigras oorgeslaan. Die raai grasprobleem het geëskaleer omdat daar geen selektiewe onkruiddoders meer oor is wat raaigras tussen grane kon doodmaak nie. Die getal raaigrasse wat oorgeslaan is, het egter drasties verminder nadat kombinasies soos prosulfacarb en triallaat met die trifluralien gebruik is. Die sukses van pyroxazsulfone teen raaigras veroorsaak dat ‘n groot aantal produsente groter gedeeltes van hul gesaaides na hierdie produk omskakel.

Wat ons egter moet besef, is dat die laaste hoofstuk oor die opbou van raaigrasweerstand verseker nog nie geskryf is nie en ons moet besef dat die voor-opkomsmiddels, pyroxasulfone ingesluit, ook aan hierdie risiko’s blootgestel is. Nadat navorsers in Australië dit reggekry het om onder glashuistoestande weerstand teen pyroxazsulfone te ontwikkel, weet ons die moontlikheid bestaan wel. Hierdie studie het weerstand gestimuleer deur aanhoudend jaar na jaar ‘n laer as geregistreerde dosis pyroxazsulfone te gebruik op ‘n reeds-bestande populasie teen verskeie ander groepe.

Dit is kommerwekkend dat hierdie weerstandbiedende raaigras wat só verkry is, ook weerstandbiedend was teen beide triallaat en prosulfacarb. In die wetenskap staan hierdie “ontwikkeling” as kruisweerstand bekend en hierdie ontdekking moet ons laat besef dat ons uiters verantwoordelik met ons huidige voor-opkomsmiddels moet omgaan.

In Australië word weerstandsontwikkeling teen pyroxasulfone as een van hulle grootste risiko’s in die graanstreke beskou en die Australiese regering het miljoene Australiese dollar bewillig aan navorsing op soek na nuwe molekules indien daar weerstand sou ont wikkel. Dit is vir elke produsent krities dat hy die werking van pyroxasulfone moet verstaan. Pyroxasulfone het ‘n residuele werking, wat beteken dat die ontwikkelende saailing die aktiewe bestanddeel fisies moet opneem voordat dit sal afsterf.

In heelwat gevalle sien ons raaigrassaailinge wat eers op vier- of vyfblaarstadium afsterf. Grondbewerking is dus die enigste manier waarop hierdie onkruiddoder kan werk en daarom is dit belangrik dat al die onkruiddoder in die grond eindig. Pyroxasulfone is redelik wateroplosbaar en sal met reën vanaf organiese materiaal wat op die grondoppervlakte teenwoordig is afwas, tot in die grond self. Ten spyte van hierdie eienskap sien ons egter dat hoe minder materiaal op die oppervlak teenwoordig is, hoe beter is onkruidbeheer.

Dit is vir die meeste produsente ‘n uitdaging omdat bewaringsboerdery, waar gepoog word om oesreste te bewaar, deur die meeste produsente toegepas word. Die gebruik van voor-opkomsonkruid doders, soos genoem, waar baie organiese materiaal op die oppervlakte teenwoordig is, blyk nie net ‘n risiko vir swak onkruidbeheer te wees nie, maar ook ‘n geweldige risiko vir weerstandsontwikkeling in te hou.

Ons almal weet dat onkruiddoderweerstand groot potensiaal het om te ontwikkel in ‘n intensiewe chemiese program waar beheer nie goed is nie en ‘n paar onkruide deurglip, oorleef en saad stort. In die geval van raaigras, wat ‘n kruisbestuiwer is, sal weerstandbiedende plante se stuifmeel met wind kan versprei – wat die verspreiding van weerstand nog vinniger sal aanblaas.

Alles in ag genome, moet ons besef dat ons op ‘n tydbom sit wat enige dag kan ontplof. Dit is uiters belangrik dat ons verantwoordelik moet omgaan met hoe ons die voor-opkomsmiddels aanwend, maar ook hoe ons onkruidbeheer in die wisselboufase waarin grane nie verbou word nie, toepas.

Dit is van kardinale belang dat geen raaigrassaadstorting moet plaasvind in die wisselboufase nie. Dit kan bereik word deur onkruid óf chemies te beheer met onkruiddodergroepe wat goed werk, óf om onkruid meganies te beheer deur dit af te sny. Crop-topping, waar onkruidsade in die sagtedeegstadium gesteriliseer word met glifosaat of paraquat, is ook ‘n baie handige hulpmiddel.

Indien dit vir jou voel asof jou wisselboustelsel, waar die niegraanfase net een jaar is, nie die gewenste resultate lewer nie, moet ‘n stelsel waar lande vir twee jaar van graanverbouing onttrek word, oorweeg word. Met só ‘n stelsel kan jy seker wees dat ten minste 95% van jou raaigrassade vir die graanfase uitgeskakel kan word.

Die onverantwoordelike optrede van enkele produsente kan die huidige situasie, waar raaigras redelik onder beheer gehou word deur byvoorbeeld pyroxasulfone, verander na ‘n situasie waar raaigras weer totaal buite beheer raak.

Ek vrees dat só ‘n situasie die kwynende koringbedryf die finale doodskoot kan gee.

Publication: March 2017

Section: Focus on