February 2017
LOUREINE MULLER, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom
Vir die grondboonprodusent is dit uiters belangrik om gereeld in sy grondboonlande te kom – veral gedurende die middel van die groei seisoen. Gereelde inspeksie van die lande vir die voorkoms van blaarsiektes is nou baie belangrik. Daar moet onthou word dat voorsorg beter is as nasorg. Vroegtydige opsporing en identifikasie van blaarsiektes beteken voorkoming van opbrengsverliese.
Die groot geheim waarvan elke grondboonprodusent moet weet, is hoe om na sy grondboonplante te “luister”. Hoe word dit gedoen?
Kennis van hoe ‘n grondboonplant groei, peule vorm en die hele proses deur middel waarvan grondbone voedingstowwe opneem en versprei, kan baie kopkrap vir produsente spaar. ‘n Grondboon is nie ‘n mielie nie en moet ook nie te veel vertroetel word met onnodige blaarvoedings nie.
Die belangrikste voeding wat ‘n grondboon benodig, is gips- en mikro elementtoedienings. Kalsium en boor is twee van die belangrikste elemente wat ‘n goeie kwaliteit oes verseker.
Kalsium is verantwoordelik vir die versterking van die peul self, asook die kwaliteit van die pitte. Dit is een element wat nie afwaarts in die plant verplaas word nie, aangesien die grondboonpeule kalsium direk deur die peulwand opneem. Dit is baie belangrik om te verseker dat daar voldoende beskikbare kalsium binne die
peulsone beskikbaar is.
Boor, aan die ander kant, word afwaarts verplaas en daarom is blaartoedienings voldoende vir die aanvulling van tekorte. Boor is veral belangrik waar saad geproduseer word. Boortekorte kan kiemingsprobleme veroorsaak en waar erge tekorte voorkom, veroorsaak dit hollow heart, waar die pit hol aan die binnekant voor- kom en maklik split. Dit is dan wanneer daar ‘n swart verkleuring aan die binnekant van die pit voorkom.
Vergeling van grondboonplante beteken nie dat daar ‘n stikstoftekort voorkom nie, maar eerder ‘n ystertekort. Korrekte diagnosering word vergemaklik deur blaaranalises. Grondbone produseer hul eie stikstof en daar moet dus nie ekstra stikstof toegedien word nie, aangesien die ekstra voeding die plant in ‘n groeifase gaan indwing. Dit moet vermy word, aangesien grondbone nie voer moet produseer nie, maar eerder peule.
Die grondboon se meganisme tot oorlewing is om saad te produseer en daarom moet toestande só gereguleer word dat daar eerder optimale saadproduksie verkry word as blaarproduksie.
Afhangende van die plantdatums van grondboonaanplantings moet produsente gehoor gee aan onthoudingstydperke vir enige chemiese middels wat op grondbone toegedien word. Verder moet tred gehou word met watter middels wel geregistreer is vir die gebruik op grondbone. Hierdie punt is van groot belang, aangesien daar vereistes is waaraan voldoen moet word rakende Good Agricultural Practices (GAP)- en Hazard analysis and critical control points (HACCP)-protokol.
Terwyl die grondbone nog aan die groei is, skep dit ‘n gulde geleentheid vir die grondboonprodusent om oesgereedskap en -implemente na te gaan en die nodige dienste uit te voer. Hierdie proses bevorder ‘n gladde en probleemlose oestyd. Korrekte beplanning vanaf planttyd verseker aanpasbaarheid van rywydtes by die soort uithaler wat gebruik gaan word (Foto 1).
Teen Maartmaand is dit reeds tyd om rypheidsbepalings te doen – veral op vroeë aanplantings wat teen die einde van die maand geoes moet word. Maak seker dat grondbone op die optimale tyd geoes word om sodoende die beste kwaliteit produk te verseker (Foto 2).
Goeie beplanning bring goeie opbrengste. Wees gedurende hierdie tyd paraat in die grondboonlande. ‘n Misstap nou beteken ‘n verlies in oestyd.
Publication:
Section: Focus on