Meer oor die Ebolavirussiekte

1239

October 2016

JAN DU PREEZ, besturende direkteur: Institute of Livestock Technology en veterinêre spesialis in Volksgesondheid

In kort

Die virus word na die mens deur direkte kontak met wilde diere en vrugtevlermuise oorgedra en versprei dan in die bevolking deur middel van mens-tot-mensoordrag. Die siekte is ‘n direkte soönose en besmetting vind plaas deur noue kontak.

Die eerste uitbreek van die Ebolavirussiekte het in afgeleë, klein dorpies in Sentraal-Afrika digby die tropiese reënwoude plaasgevind.

Persone wat lande besoek waar Ebolavirussiekte voorkom, moet hul bemagtig met kennis oor die siekte.

Ebolavirussiekte staan ook as Ebolahemoragiese koors of net Ebola bekend. Dit het die eerste keer gedurende 1976 in twee gelyktydige uitbreke op verskillende plekke voorgekom. Die een plek word tans genoem Nzara in Suid-Soedan en die ander plek is Yambuku in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Die laasgemelde afgeleë dorpie is by die Ebolarivier en dit is vanwaar die siekte se naam afkomstig is.

Siekte-uitbreke kom met tussenposes in gedeeltes van Afrika suid van die Sahara voor. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het tussen 1976 en 2013 ‘n totaal van 24 uitbreke van die Ebolavirussiekte, waarby 1 716 gevalle betrokke was, gerapporteer.

Die laaste uitbreek van die siekte in Wes-Afrika gedurende 2013 tot 2016 was die grootste, met 28 657 gevalle waarvan 11 325 sterftes voorgekom het. Dit was die mees komplekse Ebolavirussiekteuitbreek in die wêreld vandat die Ebolavirus in 1976 ontdek is. Met hierdie onlangse uitbreek is meer Ebolasiektegevalle en -sterftes aangeteken as met al die vorige uitbreke en sterftes saam. Met hierdie uitbreek in Wes-Afrika is baie stedelike en landelike gebiede geaffekteer.

Hoe word mens met die siekte besmet?

Vrugtevlermuise van die Pteropodidae-familie is vermoedelik die natuurlike draers van die virus in die natuur. Hulle versprei die Ebolavirus, maar word nie self daardeur aangetas of siek daarvan nie. Die mens raak besmet met die virus deur direkte kontak met besmette bloed, afskeidings, organe en liggaamsvloeistowwe van gorillas, sjimpansees, ape, vrugtevlermuise, wildsbokke van die woud en ystervarke wat siek of dood is of in die reënwoud bly.

Mense wat die besmetting van die diere af kry, dra dan die besmetting van mens na mens oor deur direkte kontak (deur slymvliese en beskadigde vel) met bloed, afskeidings, organe en liggaamsvloeistowwe of deur items (byvoorbeeld klere of beddegoed) wat kort tevore met liggaamsvloeistowwe besmet is. Gesondheidswerkers wat met moontlike of bevestigde gevalle van Ebolavirussiektepasiënte werk, word baie keer self besmet. Dit gebeur deur direkte kontak met pasiënte wanneer voorkomende besmettingsbeheer nie nougeset toegepas word nie.

Met begrafnisgeleenthede waar roubeklaers direkte kontak met die afgestorwene se liggaam het, kan besmetting plaasvind. Persone met Ebolavirussiekte bly infektief (wanneer besmetting voorkom) solank as hul bloed die virus bevat. Verspreiding van Ebolavirus deur die lug tussen primate, wat die mens insluit, is nog nie bevestig nie. Daar moet ook nog baie navorsing gedoen word oor die risiko van seksuele oordrag. Semen of borsmelk van ‘n persoon wat genees is van die Ebola virussiekte, kan die virus vir weke of selfs nog maande dra. Die Wêreld gesondheidsorganisasie beveel aan dat manlike oorlewendes van Ebolavirussiekte veilige higiëne en seks vir twaalf maande vandat hy siektetekens getoon het (of totdat sy semen twee nega tiewe toetse vir Ebolavirus geslaag het), moet beoefen.

Siektetekens van Ebolavirussiekte

Die inkubasieperiode, dit is die tyd van besmetting met die virus totdat die eerste siektetekens waargeneem word, is twee tot 21 dae. Besmette mense raak eers infektief wanneer hulle siektesimptome begin wys. Die eerste siektetekens is die skielike (vinnige) ontwikkeling van koors met uitputting en afgematheid, spierpyne, kopseer en seer keel. Dan volg opgooi (vomeer), diarree, veluitslag, siektetekens van aantasting en wanfunksie van die niere en lewer. In sekere gevalle kom inwendige en uitwendige bloeding voor (byvoorbeeld bloedsypeling van die tandvleis, slymvliese en bloed in die stoelgang).

Laboratoriumtoetse toon ‘n verlaagde witbloedseltelling en bloedplaatjietelling asook verhoogde lewerensieme. Die risiko dat besmette persone kan sterf, is baie hoog (tussen 25% en 90%), met ‘n gemiddeld van 50% wat sterf. Sterftes is baie keer te wyte aan lae bloeddruk weens vloeistofverlies – wat tipies is na ses tot 16 dae nadat siektesimptome begin wys het.

Diagnose

Ander siektes soos Slenkdalkoors, Krim-Kongo-hemoragiese koors, malaria, tifoïedkoors (maagkoors), meningitis (breinvliesontsteking) en cholera kan moontlik ooreenkom of lyk na Ebolavirussiekte. Bogemelde siektes is differensiële diagnoses van Ebolavirussiekte. Bloedmonsters word getoets vir die Ebolavirus se RNA (PCR-toets), virus teenliggaampies (ELISA-toets) of die virus word gekweek op selkulture. Bloedmonsters van pasiënte hou ‘n uiterste besmettingrisiko vir persone wat dit hanteer, in.

Behandeling en entstowwe

Ondersteunende behandeling van pasiënte vir rehidrasie met binneaarse of orale vloeistoftoediening vir spesifieke siektetekens verbeter die uitkoms van die siekte en oorlewing. Tans is daar geen bewese of beproefde behandeling vir Ebola virussiekte beskikbaar nie. Daar word ‘n reeks van potensiële behandelings en middels geëvalueer soos bloedprodukte, immunoterapie asook middelterapie. Daar is geen geregistreerde entstof beskikbaar nie. Tans word twee potensiële entstowwe vir gebruik getoets.

Voorkoming en beheer

Verskeie aksies en intervensies vir siektebeheer word toegepas, naamlik bestuur van gevalle met Ebolavirussiekte, waarneming van en soeke na kontakpersone van die siekte, goeie en volhoubare laboratoriumdienste, veilige en geen kontak met sterfgevalle by begrafnisse nie en inligting aangaande die siekte. Gemeenskappe moet aktief betrokke raak by uitbreke van die siekte. Die bewusmaking van gemeenskappe oor Ebolavirusbesmetting en beskermde maatreëls, wat persone kan toepas om oordrag te voorkom, moet gedoen word.

Kontak dr Jan du Preez by 083 656 3638 of drjanh.dupreez@gmail. com vir meer inligting.

Publication: October 2016

Section: Focus on