September 2016
GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem
Die blaarmyner, Agromyza ocularis (Foto 1), wat in die blare van grasse myn, is aanvanklik in 1959 deur entomoloë bokant Gydopas, tussen Ceres en Citrusdal in die Wes-Kaap, versamel. ‘n Paar ander voorbeelde is in daaropvolgende jare in die omgewing van Maseru, Lesotho en in die Drakensberge versamel (Figuur 1). Hierdie versamelings is egter bymekaargemaak sonder om hul gasheerplante in ag te neem.
In 2000 het blaarmyners eers werklik bekend geword nadat hulle op koring in die omgewing van Douglas gevind is. Hulle het met die jare al teen die Oranje- en Vaalrivier be weeg en het as ‘n plaag by koring en gars onder besproeiing bekend geword.
Só het dit in 2015 gebeur dat die vliegies baie vinnig in die Grootpan-area naby Lichtenburg en ook intussen by Brits en Koedoeskop (Figuur 1) opgedaag het. Die skielike sprong in verspreiding na hierdie gebiede was ’n verrassing en redes vir die vinnige verspreiding is nie bekend nie.
Wes-Kaap
Gedurende Mei – Junie 2016 het die blaarmynervliegie egter ook in die Rûens sy verskyning gemaak (Figuur 1). Aanvanklike berigte van blaarmyner in die Heidelbergen Swellendam-area in 2015 kon nie bevestig word nie, maar in 2016 het dit met mening posgevat. Daar is verspreiding in die westelike gedeelte van die Rûens aangeteken – alhoewel nog baie min. Tog moet hierdie verspreiding in die toekoms dopgehou word.
Wat is so ongewoon daaraan dat hul in die Wes-Kaap voorkom? Blaarmyners is immers die eerste keer daar versamel. Die rede is dat hulle tot dusver nog net in besproeiingsgebiede voorgekom het, maar nou ook onder droëlandproduksie gevind word. Dit plaas onmiddellik die klem op die aanpasbaarheid van hierdie spesie. Hulle is as gevolg van hul aanpasbaarheid een van die moeiliker spesies om te beheer. Dit is veral die vroeg aangeplante gars in die Wes-Kaap waarop hierdie spesie vanjaar die meeste gevoed het (Foto 2). Interessant genoeg het die infestasie plaasgevind toe dit aan die begin van die seisoen droog was.
Wanneer plante vinnig en aktief groei, word blaarmynereiers, wat in gaatjies in die blaar gelê word, uit die blaar “gedruk” en die eier gaan dood. Wanneer blare egter baie stadig groei of klaar gegroei het, gebeur dit nie en die larwe kan uitbroei en begin myn.
Met die droogte in die Wes-Kaap aan die begin van die seisoen, het die plantjies nie gegroei nie en kon die blaar myners posvat. Gedurende die eerste paar weke van plantgroei word al die oesopbrengs komponente alreeds vasgelê en dit is belangrik dat die plant in hierdie tydperk so ongehinderd moontlik moet groei.
Die teenwoordigheid van die blaarmyner wat groot gedeeltes van die blaaroppervlakte kan wegvreet, is nie wenslik nie en ons kan die logiese gevolgtrekking maak dat die insek op hierdie stadium skade kan aanrig. Ons moet egter in gedagte hou dat die droogte dan groter skade kan aanrig en dat dit dus nie soseer die blaarmyner is wat die skade aanrig nie. Nadat reën in Junie geval het, het die plante goed begin groei en was die teenwoordigheid van die blaarmyner slegs op die onderste blare sigbaar (Foto 3).
As ons na die skadelikheid in die besproeiingsgebiede kyk, is min skade aangerig, omdat die plante onder optimale omstandighede groei. Sou daar ‘n tweede vliegsiklus in die Wes-Kaap in die koring uitbroei en hulle die vlagblare aanval, kan ons spekuleer dat die skade groter mag wees, omdat dit droëlandproduksie is. Ons sal egter die toestand moet monitor en vasstel wat vorentoe in die seisoen gebeur.
Uit buitelandse literatuur is dit duidelik dat daar ‘n verskeidenheid blaarmyners is wat koring en gars infesteer – veral in die Noordelike Halfrond. Daar word slegs na enkeles as skadelik verwys.
Soos reeds voorheen berig, is dit moeilik om werklike skade onder besproeiingstoestande te bepaal en stem ons data derhalwe met baie van die oorsese spesies ooreen. Wat egter onder droëlandproduksie gaan gebeur, is ons nie seker nie en daarom moet ons uitkyk vir ‘n tweede siklus. Ons moet egter versigtig wees om nie te oorreageer en net na die gifspuit te wil gryp nie. Sodoende kan ons die natuurlike vyande van die vliegies kans gee om in getalle op te bou en weer in balans te kom.
Stel die outeur in kennis indien enige myne in die vlagblare van koring in die Wes-Kaap gesien word. Hy is beskikbaar by Prinsloogj@arc.agric.za of 082 875 3401.
Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur finansiële bystand van
die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.
Publication: September 2016
Section: Focus on