Beheer van onkruide in mielies en koring – Deel 1: Kaapse dubbeltjie (Devil’s thorn)

2842

 

Wetenskaplike naam: Emex australis
Afrikaanse naam: Kaapse dubbeltjie, Emex dubbeltjie
Engelse naam: Spiny Emex, Devil’s thorn, Three cornered Jack

Kort beskrywing

Kaapse dubbeltjie groei gewoonlik platterig (spreidend), maar kan tot 60 cm hoog word waar dit dig voorkom. Die blare en stingels vertoon heldergroen vanaf saailingstadium. Blare is ovaalvormig tot langwerpig by ouer plante en is ongeveer 8 cm lank en 5 cm breed.

Blommetjies is groen en gerangskik in bondeltjies op die stingels, maar nie baie prominent nie. Die saad is relatief groot, driehoekig en duidelik sigbaar op die plant tussen die blare. Dit het drie kenmerkende skerp punte en kan erge ongemak vir mense en diere veroorsaak. Saad kan deur die hele jaar geproduseer word.

Verspreiding

Kaapse dubbeltjie kom wydverspreid in Suid-Afrika voor en kan in die winter- sowel as somerreënvalgebiede ‘n probleemonkruid wees. Dit is vinnig besig om te versprei in droëlandmielies en kan ‘n probleem wees waar koring besproei word.

Beheer

Chemies
Verskeie voor- en na-opkoms onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van Kaapse dubbeltjie in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2). Voor-opkoms onkruiddoders word in die grond toegedien tydens plant of binne vier dae ná plant. Genoegsame grondvog is nodig om die voor-opkoms onkruiddoders te aktiveer in die grond en effektiewe beheer te verskaf. Na-opkoms onkruiddoders word toegedien nadat die onkruid en/of gewas reeds op is.

Volg die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings slaafs na op elke produk se etiket. Vir effektiewe beheer moet na-opkoms onkruiddoders verkieslik met ‘n bymiddel wat die penetrasie van die onkruiddoder bevorder, gemeng word. Sien etiket vir aanwysings.

Kaapse dubbeltjie kan ‘n geharde onkruid wees en moet so vroeg as moontlik na-opkoms beheer word. Die optimale tyd is tussen die twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid. Hoe groter die plante word, hoe minder effektief sal die na-opkoms onkruiddoders wees.

Alhoewel hierdie onkruid nog nie ‘n belangrike onkruid in die Vrystaat se koringproduksie is nie, kom dit meer geredelik in die Wes-Kaapse produksiegebiede voor. Aangesien weerstand teen onkruiddoders nog nie in hierdie onkruid gerapporteer is nie, word breëblaar-onkruiddoders nog met sukses gebruik. Neem egter altyd weerstandbiedendheid in ag en moenie onkruiddoders gebruik waarteen weerstand reeds voorkom nie. Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

TABEL 1: Onkruiddoders geregistreer op mielies vir die beheer van kaapse dubbeltjie.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
atrasien/sulkotrioon 300/125 g/liter Voor-opkoms of vroeg na-opkoms van die onkruid
bromoxynil 225 g/liter

400 g/liter

450 g/liter

500 g/liter

Na-opkoms van onkruid tussen die vier- tot sesblaar-stadium
dicamba/topramezoon 160/50 g/liter Vroeg na-opkoms voor sesblaar-stadium, gebruik in tenkmengsel met atrasien of atrasien/terbuthylazine
flumetsulam 800 g/kg Voor-opkoms, gebruik in tenkmengsel met metolachlor of s-metolachoor
linuroon 500 g/liter Voor-opkoms of tussen-ry-gerigte bespuitings
metribusien 480 g/liter Na-opkoms tussen die vier- tot sesblaar-stadium van die onkruid
topramezoon 336 g/liter Vroeg na-opkoms voor sesblaar-stadium, gebruik in tenkmengsel met atrasien of atrasien/terbuthylazine

 

TABEL 2: Onkruiddoders geregistreer op koring vir die beheer van kaapse dubbeltjie.

Tyd van toediening
2,4-D/dicamba 240/80 g/liter Na-opkoms, tussen twee- tot sesblaar-stadium
bromoxynil 225 g/liter

400 g/liter

450 g/liter

500 g/liter

Na-opkoms, onkruide ten volle ontkiem, maar nie ouer as drieblaar-stadium nie
bromoxynil/pirasulfotool 210/37,5 g/liter Na-opkoms, onkruide ten volle ontkiem, maar tussen vier- tot sesblaar-stadium
carfentrazoon-etiel/metsulfuron-metiel 400/100 g/kg Na-opkoms, tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid
carfentrazoon-etiel 400 g/kg Na-opkoms, tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid
chloorsulfuroon 750 g/kg Na-opkoms, tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid
chlorsulfuron/metsulfuron-metiel/tribenuron-metiel 119/79/222 g/kg Na-opkoms van onkruid, tussen vier- tot sesblaar-stadium van die gewas
florasulam/flumetsulam 75/100 g/liter Na-opkoms van onkruid tussen twee- tot sesblaar-stadium
iodosulfuron-metielnatrium/mefenpir-dietiel 50/150 g/kg Na-opkoms, onkruid ten volle ontkiem en optimum grootte. Spuit tussen groeistadium sewe tot 13 van die gewas
iodosulfuron-metiel-natrium/metsulfuron-metiel/mefenpir-dietiel 30/30/90 g/kg Na-opkoms, onkruid ten volle ontkiem en optimum grootte en wanneer die gewas vierblaarstadium bereik het
metsulfuron-metiel/thifensulfuron-metiel 68/680 g/kg Na-opkoms, onkruid tussen vier- tot vyfblaar-stadium
metsulfuron-metiel/tribenuron- metiel 80/300 g/kg Na-opkoms, onkruid tussen twee- tot sesblaar-stadium
metsulfuron-metiel 200 g/kg

500 g/kg

600 g/kg

Na-opkoms, onkruid tussen twee- tot sesblaar-stadium en die gewas tussen drie- tot vyfblaarstadium
prosulfocarb 800 g/liter Voor-opkoms gebruik in tenkmengsel met trifluralin en triasulfuron
prosulfuron 750 g/kg Na-opkoms tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid
pyroxsulam 45 g/liter Na-opkoms tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid
sulfosulfuron 750 g/kg Na-opkoms, tussen een- tot vierblaar-stadium van die onkruid
thifensulfuron-metiel 750 g/kg Na-opkoms tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid
triasulfuron 750 g/kg Voor-opkoms toegedien met plant

Na-opkoms tussen twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid

 

Bewerking
Vlakbewerking kan die opkoms en getalle van Kaapse dubbeltjie verminder.

Kontak die skrywers by elbe.hugo@syngenta.com (Elbe Hugo) en deweth@arc.agric.za (Hestia Nienaber).