October 2015
JAN DU PREEZ, spesialis in Veterinêre Volksgesondheid
In dié artikel word al die nadele van hittestres in besonderhede bespreek.
Hittestres wat die liggaamstemperatuur van die koei met 1°C tot 1,5°C verhoog, verleng die oestrussiklus (dit is 25 – 28 dae in plaas van 21 dae) en verkort die oestrusperiode, konsepsie daal, embriomortaliteit styg met ‘n ooreenkomstige verlaagde vrugbaarheid en plasentale wanfunksie. Die tyd wat die koei op hitte is, verkort.
Soms is die duur van die tydperk wat die koei op hitte is net vier tot agt ure in plaas van 16 ure. 12 ure voor kunsmatige inseminasie (KI) en vier tot ses dae ná konsepsie is die mees kritieke tyd vir embriooorlewing met betrekking tot hittestres.
Fetale (ongebore kalfie) groei word vertraag en die dragtigheidstydperk is korter met ‘n ooreenkomstige laer geboortemassa en laer oorlewingsvermoë van die kalf. Die maksimum aanvoelbare temperatuur (hittestres) op die dag ná inseminasie het egter die grootste uitwerking op die konsepsie (bevrugting).
Die meeste resorpsies by dragtige melkbeeste in Suid-Afrika is as gevolg van hittestres.
Hittestres verlaag die bul se libido, sperms se beweeglikheid, die konsentrasie neem af en daar is ‘n verhoogte persentasie abnormale sperms.
Indien die temperatuurhumiditeitsindeks (THI) beskikbaar is (kontak die outeur in verband hiermee), kan die konsepsietempo (KT) in melkbeeste in ‘n spesifieke omgewing vir ‘n spesifieke tydperk van die jaar, met die formule (KT% = – 890,2 + 31,15THI – 0,253THI²) bereken word.
Hoe hoër die temperatuurhumiditeitsindeks (gewoonlik gedurende warm maande) in ‘n area volgens bogenoemde formule, hoe laer is die konsepsietempo en omgekeerd (sien Grafiek 1, Figuur 1 en Figuur 2).
Die kritieke temperatuurhumiditeitsindeks (hittestres) waarde vir reproduksie vir melkbeeste is 65. Indien die konsepsietempo minder as 65 word, verlaag die konsepsietempo drasties (sien Grafiek 1). Bogenoemde formule kan ook as basis vir konsepsietempo in beeste in die algemeen gebruik word.
Groot verliese weens verlaagde konsepsietempo word in Suid-Afrika as gevolg van hittestres gedurende die maande met ‘n hoë temperatuurhumiditeitsindeks ondervind. Indien kunsmatige inseminasie (KI) gedoen word gedurende die warm tye van die jaar, kan die koeie tydens die dag van inseminasie tot ses dae ná inseminasie verkoel word deur hulle gereeld nat te spuit, skadu te voorsien en voorsorg te tref.
Bogenoemde verkoelingsmaatreëls sal bydra tot ‘n verhoogde konsepsietempo. Gedurende Februarie, in die meeste melkproduserende dele van Suid-Afrika (Figuur 1), is die gemiddelde konsepsietempo in melkbeeste 30% – 59% en dit kan aansienlik (met 10% – 30%) verhoog word deur middel van doeltreffende voorkomende verkoelingsmaatreëls wat hittestres in die koei verlig.
Die meeste melkbeeste in Suid-Afrika se konsepsietempo is gedurende Februarie minder as 42% (Figuur 1) as daar nie doeltreffende voorkomende verkoelingsmaatreëls getref word nie. Gedurende Julie maand (Figuur 2) is die gemiddelde konsepsietempo by melkbeeste in Suid-Afrika, meer as 67% indien daar nie geslagsiektes of ander nadelige invloede op reproduksie aanwesig is nie.
Melkproduksie en uiergesondheid
Die voorkoms van mastitisgevalle gedurende die warm somermaande wat gepaard gaan met ‘n hoë temperatuurhumiditeitsindeks (>70), verhoog die tempo van nuwe uierinfeksies. Daar is ‘n afname in die doeltreffendheid van die uier se verdedigingsmeganisme met ‘n gevolglike moontlike toename in mastitisgevalle.
Melkproduksie daal met 10% tot 40% ooreenkomstig die verhoogde temperatuurhumiditeitsindekswaarde.
Die samestelling van die melk verander; daar is ‘n daling van 20% tot 40% in die bottervet, 10% tot 20% in die vetvrye vaste stowwe, 10% tot 20% in totale melkproteïene en ‘n styging (5% tot 15%) in die somatiese seltelling.
Met hittestres is daar ‘n afname in ruvoerinname weens die ruvoer se hoë hitte-inkrement en gevolglik daal die bottervetpersentasie. Die normale afsterwe van selle (nekrobiose) van die uierweefsel neem toe, wat ook ‘n nadelige invloed het op die kwaliteit van die melk. Hoe hoër die temperatuurhumiditeitsindeks in ‘n area, hoe hoër is die melkproduksieverlies en omgekeerd.
Voeding
Met hittestres is daar ‘n afname in die duurte van voerinname, veral ruvoer asook die aantal kere wat die dier vreet. Die afname in ruvoerinname speel ‘n rol in die verlaging van die bottervetpersentasie van die melk.
Dit wil voorkom asof die diere wat gebuk gaan onder hittestres ‘n groter behoefte aan minerale soos kalium, sout, magnesium en vitamines, soos vitamine A, D en E asook ander elemente in die rantsoen het.
Met hittestres het diere ‘n afname in herkouing, ‘n toename in waterinname asook hitte-inkremente. Meer kragvoer (50% tot 70% of meer) en minder ruvoer (40% tot soms 20%) moet in die rantsoene van melkkoeie wat hittestres ondervind, vermeng word. Hoogsproduserende melkkoeie het ‘n hoër voerinname per liggaamsgewig en gevolglik meer metaboliese hitte wat meer hittestres veroorsaak. In Suid-Afrika sal daar gekyk moet word na die formulering van rantsoene vir melkbeeste wat hittestres ondervind (gewoonlik gedurende die warm maande van die jaar) en vir melkbeeste wat geen of minimale hittestres ondervind nie (gewoonlik gedurende die koeler maande van die jaar).
Dit is raadsaam dat elke melkprodusent sy voedingskundige en veearts raadpleeg aangaande hittestres. Die kritieke temperatuurhumiditeitsindeks (hittestres) waarde vir melkproduksie is 70. Hoe hoër die temperatuurhumiditeitsindekswaarde word, hoe meer daal die melkproduksie.
Groei
Hittestres beperk die groei en massatoename van beeste, afhangende van die genotipe en aanpasbaarheid. Hittestres benadeel fetale groei en ontwikkeling omdat bloedvoorsiening aan die baarmoeder verminder en gevolglik is die uitruil van voedingstowwe met die moeder minder. Dit verlaag die geboortegewig van die kalf en verkort die dragtigheidsperiode van die koei. As gevolg van bogenoemde, word die kalf se oorlewingsvermoë verlaag. Melkbeeskalwers moet teen erge hittestres beskerm word vir bevredigende gesondheid en massatoename.
Beeste wat in voerkrale aangehou word, moet ook beskerm word teen hittestres vir bevredigende massatoename. Skaduvoorsiening is die minimum voorsorgmaatreël wat geneem behoort te word vir bevredigende prestasie by veral melkbeeste asook voerkraalbeeste wat gebuk gaan onder hittestres.
Daar moet verseker word dat kalwers wat hans groot gemaak word, doeltreffend beskerm word teen hittestres vir bevredigende massatoename en algemene gesondheid.
Gedrag en gesondheidstoestand
Diere se eerste reaksie op hittestres, wanneer die liggaamstemperatuur met 1°C tot 1,5°C verhoog, is om die verlies van hitte te verhoog en gelyktydig daarmee hitteveroorsakende funksies te verminder (loop minder en is traag). Daar is ook ‘n gedragsverandering by diere wat aan erge hittestres blootgestel is, in ‘n poging om homeostase (‘n neiging tot stabiliteit in die normale liggaam) te behou deur posturale aanpassings, benatting van die veloppervlakte waar moontlik, in nat plekke lê, skadukolle te soek, meer te sweet, suboptimale vertoning, vinniger asem te haal, te hyg en kortasem te wees asook verminderde voedingstye gedurende die spitstemperatuur van die dag.
Daar kan ‘n aktivering van latente (sluimerende) virusse plaasvind, wat ‘n gunstige omgewing skep vir sekondêre bakteriese infeksies. Algemeen gesproke benadeel hittestres die gesondheid en prestasie van melkbeeste.
Vrektes (mortaliteit)
Vrektes by beeste in baie warm klimaatstreke kan gewoonlik geassosieer word met hantering, diere wat té saamgedronge is en by die vervoer van die diere. Mortaliteit styg waar die noodkategorie van die temperatuurhumiditeitsindekswaarde (hittestres >82) van toepassing is.
Vrektes in Suid-Afrika by beeste is onbekend en onwaarskynlik omdat lewensgevaarlike hittestresperiodes nie hier voorkom nie. Erge hittestresperiodes in Suid-Afrika benadeel wel die diere se vertoning baie. Dit word aanbeveel om indien moontlik nie ‘n melkery of ‘n voerkraal te begin in ‘n area waar die temperatuurhumiditeitsindekswaardes 82 oorskry nie. Waar erge hittestres (temperatuurhumiditeitsindekswaarde >82) voorkom en melkerye moet daar gevestig word, moet doeltreffende voorkomingsbeheer teen hittestres ingestel word.
Hittestres kan beperk of voorkom word
Die nadelige uitwerking van hittestres by melkbeeste kan met soötegnologiese
tegnieke en optimale diereversorging beperk of voorkom word. Dit is koste-effektief om voorkomende maatreëls en aksies in te stel om hittestres te help voorkom en te beperk.
Publication: October 2015
Section: Focus on