September 2015
ELBÉ HUGO, LNR-Instituut vir Graangewasse
Tydens die 2008/2009-seisoen het die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) begin met ‘n langtermynbewaringsboerderyproef op leemsandgrond (16% klei in die bogrond) wat tussen Klerksdorp en Ventersdorp geleë is.
Daar is nou al agt suksesvolle seisoene agter die rug waartydens verskeie navorsers data insamel om die voordele en
sukses van bewaringboerdery te demonstreer. In die proef is die riglyne gevolg wat deur die Food and Agricultural Organisation of the United Nations (FAO) daargestel is, naamlik dat minimum grondversteuring of geenbewerking plaasvind (slegs tydens plant-aksie), daar gepoog moet word om soveel as moontlik grondbedekking te verkry en dat daar ten minste met drie gewasse gewissel moet word.
Hierdie bewaringstelsel word gesimuleer met die behandelings waar voersorghumakkerbone-mielies en voersorghum-sonneblom-mielies in wisselbou geplant word onder geenbewerking. Daar is ook wel behandelings waar net twee gewasse geroteer word, naamlik mielies met akkerbone of sonneblom onder geenbewerking.
Twee behandelings waar mielies in monokultuur geplant word, met gewone konvensionele ploegbewerking en mielies in monokultuur onder geenbewerking, vorm ook deel van die proef.
In Tabel 1 is ‘n kort opsomming van die totale reënval en ook die gemiddelde maksimum temperature vir die afgelope ses seisoene. Die laagste reënval is tydens die 2011/2012-seisoen aangeteken, terwyl die hoogste reënval vir die afgelope seisoen aangeteken is.
Dit is egter misleidend aangesien die verspreiding van die reënval baie swak was. Die afgelope seisoen is ook gekenmerk deur die hoogste maksimum temperature. Omgewingstoestande, veral reënval en die verspreiding daarvan, het ‘n groot invloed op onkruidgetalle en kan die kieming en infestasievlakke van sekere onkruide meer bevoordeel om oorheersend voor te kom tydens sekere seisoene (Tabel 2).
Internasionaal is daar al redelik baie navorsing gedoen oor die verskuiwing wat waargeneem word in sekere onkruidspesies wanneer daar na geenbewerking oor geskakel word. Met bewerking word meeste van die onkruidsade diep begrawe. By geenbewer king lê die meeste onkruidsade (tot 80%) slegs bo-op die grond.
Al word ‘n groot persentasie van onkruidsade deur predatore (voëls en knaagdiere) van lande waar geenbewerking toegepas word verwyder, bly onkruidbeheer egter steeds ‘n uitdaging.
Onkruidgetalle is in die betrokke proefperseel vanaf die 2008/2009-seisoen gemonitor, maar data van slegs die afgelope vier seisoene word bespreek. Onkruidspesies is tydens die laaste week in Januarie of eerste week in Februarie van elke seisoen getel, dit is dus die eerste opkoms (flush) van onkruide nadat daar geplant en onkruiddoders
met-plant toegedien is. Elke behandeling is vier keer herhaal en onkruidgetalle weerspieël dus die gemiddeld tussen die vier herhalings.
Die onkruidspektrum op die spesifieke proefperseel het nie drasties verander oor die seisoene nie, maar getalle van sekere onkruide het wel tussen seisoene verskil. Só byvoorbeeld is die hoogste getal gewone misbredies tydens die 2013/2014-seisoen aangeteken, terwyl jongosgras en porslein se getalle die hoogste tydens die 2012/2013-seisoen was. Onkruidspesies, soos groenhondebossie en kakiebos, het egter geen verskille in getalle oor seisoene getoon nie (sien Grafiek 1).
Sekere onkruidspesies kan egter drasties toeneem waar bewaringsboerderypraktyke begin word. Só het wandelende Jood erg toegeneem tydens die 2011/2012-seisoen. Wandelende Jood is ‘n moeilik beheerbare onkruid aangesien dit bo- en ondergrondse sade produseer. Dit kan ook met steggies voortplant.
In die betrokke proefperseel het ons ook gesukkel met infestasies wat laat in die seisoen skielik ontkiem het en dan is daar weinig wat gedoen kan word omdat die mielies en ander gewasse klaar in blom staan. Dit is verblydend om te sien dat die betrokke onkruid se getalle drasties afgeneem het oor die seisoene (Grafiek 1).
Volgehoue, effektiewe onkruiddodertoediening wanneer onkruide steeds klein is, is die beste resep vir volhoubare onkruid beheer in bewaringsboerderypraktyke. Ander onkruide wat ook probleme met toenemende getalle skep, is veral grasse en uintjies. Gras onkruide wat veral waargeneem is in die bewaringsboerderybehandelings, is jong osgras, beesgras en kruisvingergras.
Grasse het baie klein sade en word meestal in die boonste 5 cm van die grondoppervlakte aangetref. Waar geenbewerking toegepas word, kan grasonkruide se getalle vinnig toeneem. Kweekgras kan wel ook ernstige infestasievlakke bereik waar geenbewerking toegepas word, maar gelukkig is daar geen infestasies van kweekgras in die proefpersele tot dusver waargeneem nie.
‘n Ander aspek wat onkruidgetalle beduidend kan beïnvloed in bewaringsboerdery, is wisselbou. Dit is dus opmerksaam dat onkruidgetalle hoër is in geenbewerkte behandelings waar gewasrotasie toegepas word. Wisselbou, en dan veral waar twee of meer gewasse afgewissel word, plaas ‘n beperking op die onkruiddoderspektrum wat gebruik kan word in vergelyking met ‘n monokultuur-gewasstelsel. Dít moet produsente egter nie afskrik om bewarings boerdery toe te pas nie. Uit die literatuur is dit duidelik dat onkruidgetalle afneem waar bewaringsboerderypraktyke in die lang termyn toegepas word, soos dan ook waargeneem kan word met meeste van die on kruide in die behandelingspersele. Alhoewel rooiuintjies veral in sekere persele waargeneem is gedurende die afgelope seisoen, is die infestasies kol-kol en is getalle nie deur behandelings beïnvloed nie.
Ná agt jaar se monitering is daar nie ‘n beduidende verskil in onkruidgetalle tussen bewerkte en geenbewerkte monokultuurmieliebehandelings nie. Produsente word aangeraai om wel wisselbou toe te pas om sodoende ‘n bewaringsboerderystelsel in die lang termyn te vestig (Grafiek 1). Dit wil ook voorkom asof die onkruidspesie diversiteit
(aantal verskillende onkruide) besig is om af te neem oor seisoene, terwyl die diversiteit steeds die laagste is in die monokultuur-mieliebehandelings waar konvensionele bewerking toegepas word.
Die grootste onkruidspesiespektrum kom voor waar geenbewerking toegepas word in ‘n gewasrotasiestelsel met drie verskillende gewasse. Ná agt jaar is die onkruiddruk in die bewaringsproefpersele steeds hanteerbaar en word wandelende Jood- en rooi-uintjiebesmettings fyn dopgehou en vroeg tydig beheer. Onkruide moet tydig beheer word met na-opkoms onkruiddoders wat meestal meer as een keer toegedien moet word. Gerigte of kolbespuitings kan ook gedoen word waar sekere onkruide, soos byvoorbeeld grasse of uintjies, kolkol voorkom. Vir enige navrae, kontak dr Elbé Hugo by HugoE@arc.agric.za.
Publication: September 2015
Section: Focus on