Dié landbou-akademie is goud werd

Valerie Cilliers, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 4 Junie 2025

171

Reitz, ’n dorpie geleë in die hartjie van die Vrystaat, is lank reeds bekend vir sy ryk landbougrond en produktiewe boerderygemeenskap. Dit is dus baie gepas dat Hoërskool Reitz ’n landbou-akademie met ’n innoverende opleidingsprogram huisves waar leerders van graad 8 tot 12 voorberei word op ’n loopbaan in landbou.

Die doelwit is om ’n wêreldklas- beroepsgerigte opleidings­instansie te wees waar teorie, praktyk en tegnologie hand aan hand loop.

SA Graan/Grain het met Jors Kriek van die Reitz Landbou Akademie gesels oor die unieke programme en geleenthede wat aan jong boere-in-wording gebied word.

Wêreldklas- praktiese ondervinding
By Hoërskool Reitz kan leerders landbou reeds van graad 8 as vak neem. Van graad 10 af bied die skool drie landbouvakke aan – en hier kry studente nie net teoretiese kennis nie, maar ook waardevolle praktiese ondervinding.

“Ons akademie help met die praktiese gedeeltes van die landboukurrikulum, maar bied ook ekstra blootstelling buite die kurr­ikulum,” vertel Kriek. Instansies soos John Deere, VKB, Sernick en Graan SA is aktief betrokke en ondersteun projekte, toerusting
en opleidingsgeleenthede.

Stoetery en gewasproduksie
’n Besonderse trots van die akademie is hul Bonsmara-stoet, afkoms­tig van Sernick. Van tyd tot tyd word van die bulle op veilings verkoop wat nie net finansiële ondersteuning bied nie, maar ook waardevolle blootstelling aan die leerders gee oor die praktiese aspekte van veeboerdery en stoetbestuur.

Verder is daar tonnels waar ’n verskeidenheid gewasse geplant en versorg word.
Studente leer sodoende verskillende bewer­kingspraktyke en produksiemetodes aan.

Innovasie met e-leer
Een van die akademie se nuutste projekte is hul e-leerprogram wat beskikbaar is vir leerders van graad 6 tot graad 12. “Alhoewel ons ’n kurrikulum volg, kan studente ook self interessante onderwerpe in landbou kies en voltooi,” verduidelik Kriek. Die program is ’n voorloper van hul nuwe presisie- en bewaringslandbou­kurrikulum wat tans ontwikkel word.

Studente wat tans besig is met hul Agrifokus-jaar, wys hul nuwe kleredrag.

Agrifokus: ’n praktiese brugjaar
Vir matrikulante wat nog onseker is oor hul loopbaankeuses, bied die akademie ’n unieke Agrifokus-jaar aan. Hierdie program, tans in sy derde jaar, gee studente praktiese blootstelling aan die hele landbouwaardeketting – van produksie tot bemarking en verwerking. Deelnemers besoek verskeie instansies soos silo’s, graandepots en boer­derye, en kry ook blootstelling aan werksge­leenthede in die plaaslike en internasionale landbousektor.

“Dit is ideaal vir jongmense wat dalk ’n jaar in Amerika op ’n plaas wil gaan werk of wat eers hul voete in die bedryf wil vind voordat hulle verder studeer,” sê Kriek.

’n Volronde skoolervaring
Hoërskool Reitz spog met uitstekende kos­huisgeriewe vir leerders, waar studente in ’n veilige en ondersteunende omgewing kan woon en leer. Die skool beskik oor sport­fasiliteite met standaardtoerusting, en ’n besondere belangstelling in boogskiet het die afgelope jare posgevat.

Sterk vennootskappe en steun uit die bedryf
Die akademie geniet aktiewe ondersteuning van groot rolspelers in die bedryf. Graan SA, een van die stigterslede van die akademie, dien steeds op die direksie. Ander groot name soos VKB, John Deere, Sernick en Standard Bank is betrokke by opleiding, projekte en borgskappe.

’n Groeiende noodsaak
Met al hoe meer skole wat landbouvakke aanbied, en ’n groeiende belangstelling onder jongmense, het die Reitz Landbou Akademie homself gevestig as ’n pionierinstelling waar passie en praktyk mekaar ontmoet. Hierdie oase van landboukennis is besig om die leiers en produsente van môre te kweek.

Belangstellendes kan vir Jors Kriek kontak by 082 946 9263 of ’n e-pos stuur na info@reitzlandbouakademie.co.za.