September 2015

MARYKE CRAVEN, BRADLEY FLETT en DIRK BRUWER, LNR-Instituut vir Graangewasse

Soos meeste besproeiingsprodusente, sukkel Grootpan-produsente in die Noordwes Provinsie, jaarliks met die voorkoms van noordelike mielieblaarskroei. Dié siekte word gekenmerk deur ovaalvormige letsels wat hoofsaaklik
op die blare voorkom (Foto 1).

Noordelike mielieblaarskroei op twee plekke opgemerk in Noordwes Provinsie

Normaalweg word die eerste simptome waargeneem by die onderste blare vanwaar die letsels opwaarts beweeg na die boonste blare van die plant. Soos reeds genoem, is hierdie siekte veral prominent onder besproeiing, maar dit kom ook algemeen voor in die reënryke gebiede van KwaZulu-Natal en ander droëlandgebiede in hoë-reënvalseisoene weens die gunstige toestande wat in hierdie gebiede geskep word vir siekteontwikkeling.

Internasionale literatuur dui op oesverliese van tot 50% wat al toegeskryf is aan dié siekte, terwyl verdere literatuur verwys na ‘n verwagte 2% – 8%-oesverlies vir elke 10%-toename in siektegraad.

Die goue reël met alle blaarsiektes is dat die blare bokant die koppe altyd skoongehou moet word van infeksie en letselvorming. Opbrengsverliese te wyte aan noordelike mielieblaarskroei wat verwag kan word, is gekoppel aan twee aspekte, naamlik die groeistadium van die plant tydens die eerste infeksie en die siektegraad (hoe vinnig die siekte die plant se blare besmet en die gevolglike siektedruk wat ontstaan).

Hoe vroeër ‘n blaarsiekte dus op die plante begin ontwikkel (byvoorbeeld reeds voor stuifmeelstorting), hoe meer tyd het dit om teen die plant se boonste blare op te beweeg en blaarskade te veroorsaak. Langdurige nat toestande met temperature van tussen 17°C – 28°C is bevorderlik vir siekteontwikkeling.

Gedurende die 2014/2015-seisoen is 22 ultrakort-mieliebasters by Grootpan (Swartruggens) sowel as by Potchefstroom geëvalueer vir hul vatbaarheid vir noordelike mie lieblaarskroei met die doel om produsente in hierdie onderskeie omgewings beter te adviseer rakende hoe die verskillende basters presteer onder die natuurlike infeksiedruk van noordelike mielieblaarskroei rasse wat spesifiek in die Grootpanen Potchefstroom-omgewings voorkom.

In die verlede is daar reeds baie gepubliseer rakende die rasse van noordelike mielieblaarskroei. In ‘n neutedop moet produsente kennis neem dat daar verskillende variasies van dieselfde noordelike mielieblaarskroei swam (Exserohilum turcicum) landswyd voorkom, wat as rasse na verwys word.

Elke ras is in staat om verskillende weerstandsgene te oorkom. Dit kan dus gebeur dat ‘n baster wat by Cedara (KwaZulu-Natal) weerstand toon teen noordelike mielieblaarskroei, nie dieselfde weerstand kan handhaaf wanneer dit byvoorbeeld by Grootpan geplant word nie, omrede die prominente rasse by Cedara nie noodwendig dieselfde is as wat by Grootpan aangetref word nie.

Kennis rakende die weerstand wat ‘n spesifieke baster besit, help die produsent met belangrike bestuurspraktyke wat gevolg moet word. Normaalweg sal hoë-opbrengspotensiaalbasters nie die nodige weerstand besit om die patogeen af te weer nie en sal sulke basters baie swaar deurloop onder infeksie.

Deur daarom kennis te dra van die baster se gebrekkige weerstand, kan die produsent beter ingestel wees om seker te maak dat swamdoders op die korrekte tyd toegedien word, om te verseker dat die baster sy optimale opbrengs bereik. Swamdoders moet ook oordeelkundig toegedien word teen die regte dosis om te verseker dat weerstand teen spesifieke swamdoders nie opbou nie.

Die graad van siekteontwikkeling wat waargeneem is by Grootpan gedurende die 2014/2015-seisoen het gewissel tussen 2,8% (DKC64-78BRGEN) en 64% (IMP50-10BR; Grafiek 1). Duidelike verskille is dus waargeneem rakende die verskillende basters se vermoë om infeksie deur die patogeen teen te staan.

Noordelike mielieblaarskroei op twee plekke opgemerk in Noordwes Provinsie

Die basters wat die beste weerstand getoon het, sluit in: DKC64-78BRGEN, KKS8326B, DKC61-90, DKC62-84R, PAN3Q-740BR, PAN3Q-240, PAN3D-736BR, LG3607Y, PAN6216 en DKC61-94BR.

Opbrengste verkry deur die verskillende basters word ook op Grafiek 1 aangedui. Korrelasie-analises tussen die opbrengs wat verkry is deur elke baster en sy siektegraad wat waargeneem is, het ‘n positiewe, maar matige korrelasie aangedui. Dit beteken basies dat alhoewel die basters se opbrengs deur die siektegraad waaraan dit onderhewig was, bepaal is, is dit nie die enigste faktor wat opbrengs beïnvloed het nie. Alhoewel ‘n laer siektegraad waargeneem is by Potchefstroom, het die verskillende basters soortgelyk gepresteer as wat waargeneem is by Grootpan in terme van die siektegraad wat hulle elk ontwikkel het (Grafiek 2).

Noordelike mielieblaarskroei op twee plekke opgemerk in Noordwes Provinsie

Die persentasie geïnfekteerde materiaal het gewissel tussen 2,93% (DKC64-78BRGEN) en 42,08% (IMP50-10BR). Opbrengs wat verkry is, het nie baie verskil tussen die 22 basters wat geëvalueer is nie, wat moontlik toegeskryf kan word aan die relatiewe lae vlakke van infeksie wat waargeneem is.

Alhoewel mieliebasters soos IMP50-10BR baie vatbaar is vir noordelike mielieblaarskroei, beteken dit nie dat produsente hulle moet afskryf nie. Produsente wat basters met sulke hoë vlakke van vatbaarheid wil plant, moet sorg dat hul lande baie getrou gemonitor word vir enige vorm van infeksie. Matige blaarskade of wanneer die ontstaan van die siekte vertraag kan word tot ongeveer ses weke ná stuifmeelstorting, sal ‘n minder negatiewe effek op die opbrengs hê. Wanneer ‘n produsent dus bewus is van sy kultivar se vatbaarheidstatus, kan die lande op ‘n weeklikse basis gedurende die vegetatiewe stadia van die plante gemonitor word. Onder droëlandtoestande is chemiese beheer dikwels nie ekonomies nie en word dit in die praktyk beperk tot saadproduksies en besproeiingslande. Oorweging kan wel daaraan geskenk word om te spuit wanneer letsels reeds vroeg in die seisoen naby die onderste koppe begin ontwikkel en die weerstoestande baie gunstig is vir siekteontwikkeling.

Onder besproeiing word oor die algemeen voorkomende swamdoderbeheer toegepas waar die siekte jaarliks voorkom; ander sins kan op die laatste oorweeg word om te spuit wanneer een letsel per plant waar neembaar is (reeds voor stuifmeelstorting). Indien infeksies later voorkom, sal faktore soos die groeistadium van die plant asook die vermoë om met swamdoder by die letsels self uit te kom in ag geneem word in die besluitnemingsproses om te spuit al dan nie. Tydsberekening van die toedie nings is kritiek in ag genome dat noordelike mielieblaar skroei baie moeilik onder beheer gebring kan word indien dit eers in ‘n aanplanting posvat. ‘n Geïntegreerde benadering, gebaseer op die insluiting van weerstandbiedende basters in ‘n aanplanting saam met spuitprogramme, is egter die ideaal. Sou daar dan probleme wees met die tydsberekening, sal die weerstandbiedende basters help om die oesverliese wat gelei kan word weens die teenwoordigheid van die patogeen, beperk word. Só ‘n benade ring sal dus uiteindelik daartoe bydra dat groter suksesse behaal word in terme van die optimale opbrengs wat verkry kan word.

imageProdusente is welkom om die LNR-Instituut vir Graangewasse te kontak by 018 299 6100 vir enige hulp rakende die identifikasie van plantsiektes.

Publication: September 2015

Section: Focus on