’n Fees van KLEURE, GEURE en LANDBOU-OPWINDING

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 11 November 2024

211
Dr Tobias Doyer, Derek Mathews en Hailey Ehrenreich verwelkom Graan SA-lede in die ledelokaal.

Met die tema “Landbou: Die ruggraat van ekonomiese groei” het NAMPO Kaap 2024 nie net sy vyfde bestaansjaar gevier nie, maar ook die 30-jaarherdenking van die eerste Meganisasiedag in 1994 waar daar slegs tien uitstallers was. Vanjaar is 38 nuwe uitstalruimtes op Bredasdorp Park bygevoeg en die 542 uitstallers en ’n rekordgetal van 45 894 besoekers is ’n bewys dat dié landbou-ekspo in die Overberg beslis sy merk maak en ’n groot bydrae lewer tot die bevordering van landbou se beeld.

Vierbeen-trekpleisters
Een van die hoogtepunte op vanjaar se program was die skaap­hondekspo. Besoekers kon Suid-Afrikaanse kampioen-skaaphonde en hul hanteerders in aksie sien in die BKB-veesentrum. Op die eerste twee dae is ’n uur lange demonstrasie gelewer van hoe ’n skaaphond se opleiding aangepak moet word. Daar was honde in verskillende stadiums van opleiding om die proses se vordering te toon.

Lede van die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging (SASDA) het ook gewys waarom hulle nie dié harde werkers vir tegnologie sal verruil nie. Elke dag tydens die daaglikse kraalkompetisie is die kraal verander en verskillende tipe honde het deelgeneem om te wys waartoe hulle in staat is.

Die daaglikse optredes van die grasieuse Lipizzaner-perde het verseker dat skares saamdrom by die Western Cape Lubricants-arena. Griffins Horse Archery het berede boogskiet gedemonstreer waar ruiters na teikens skiet terwyl hulle perdry. Daar was ook ’n perdedissipline-ekspo waar deelnemers hul vaardighede in skou, dressering en skouspring gedemonstreer het.

’n Lugfoto van Bredasdorp Park geneem op Vrydag 13 September.
Die Minister van Landbou, John Steenhuisen, het op Vrydag 13 September ’n blitsbesoek aan NAMPO Kaap gebring. Buiten vir ’n kort toer deur die terrein, het hy ook aangesit vir ’n skaapkopete.

Vrolik en vroulik
Die talentvolle blomkunstenaar Marjolijn Malan se blomme-uitstallings met die tema “Vonkel in die Overberg” het beslis nie teleurgestel nie. Haar fokus was vanjaar op plante wat ’n storie vertel en het ook voorbeelde van mimikrie in die natuur ingesluit, soos Ceratocaryum argenteum-saad wat lyk en ruik nes ’n bok se mis. Dié ongewone saadverspreidingstrategie mislei miskruiers en sodoende word die sade begrawe.

In die Neptun-saal het die Overberg-fynbosuitstalling ’n groot verskeidenheid van die streek se inheemse flora uitgestal onder die tema “Die viering van die Overbergse landskap”. Verskillende biome is uitgebeeld met onder meer proteas, speldekussings en verskeie ander fynbosspesies. Aalwynsoorte wat in die omgewing voorkom asook kanolaplante het verder gehelp om tipiese Overberg-prentjies dekoratief uit te beeld.

Vanjaar se Vroueprogram in die Distinctive Choice-tent het ’n verskeidenheid gebied vir elke smaak – van humor en towerkuns tot grimeerwenke. Carmen Niehaus, ’n bekende in koskringe, het elke dag wenke vir die spyskaart gedeel. Sy is ondersteun deur ’n wynkenner, David Nieuwoudt van Cederberg-kelders. Van die land se top- Afrikaanse kunstenaars het in die groot wit tent opgetree – Nádine, Appel en Matthys Roets. Die program­leier was Francois Boyce, die gesig van die gewilde “Hoezit samelewing”.

Tydens die skaaphond-demonstrasies was dit duidelik waarom ’n skaapboer se grootste hulp ’n skaaphond is.
Vir die vyfjaarviering het Marjolijn Malan, bekende blommekunstenaar, se hoofuitstalling in die Voermol-saal bestaan uit sewejaartjies en koningskandelare met ’n herhaling van vorige jare se items daarby.
Kosie van Zyl van Agri Dwala buite Napier se inskrywing in die Boereplanne-kompetisie is aangewys as die wenner in die afdeling vir aangepaste masjinerie, werktuie en landboutoerusting. Dié skeurploeg (ripper) word gebruik om pype te lê.

Vir jonk en oud
NAMPO Kaap skep verskeie geleenthede vir die jeug om nie net die toekoms van landbou raak te sien nie, maar om ook aktief betrokke te raak. Die NAMPO Kaap-landbouskoleprogram en Overbergstreekjeugskou is twee van hierdie geleenthede. Ongeveer 400 leerders van 30 skole is uitgenooi om die 2024 NAMPO Kaap-skole­program by te woon waar hulle dit wat hulle in die klaskamer leer eerstehands kon ervaar.

Dit was duidelik dat boereplanne nie nét deur “boere” uitgedink word nie. Skole-inskrywings vir die Boereplanne-kompetisie wat deur Graan SA, Omnia en Landbouweekblad aangebied is, het ge­wys dat die jeug vol vindingryke planne is. ’n Hele klompie inskrywings is ontvang van leerders van die Hoër Landbouskool Oakdale asook die Pionierskool vir Gesiggestremdes en HTS Drostdy op Worcester.

Die wit Lipizzaner-hingste het besoekers betower met hul danspassies op die maat van musiek.

NAMPO Kaap het sy posisie met vanjaar se ekspo verstewig as ’n noodsaaklike
platform vir bedryfsrolspelers, huidige en toekomstige produsente en die breër gemeenskap om die nuutste tegnologie te verken, huidige uitdagings te bespreek en die toekoms van landbou te vier.

Die ekonomiese hupstoot vir die Overberg-streek kan ook nie onderskat word nie. Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park NPC, het die ekspo ’n geskatte bydrae van R15 tot R25 miljoen tot die plaaslike ekonomie gemaak. Meer as 100 werksgeleenthede is tydens die ekspo in die Overberg-distrik geskep om die lewens van talle huisgesinne te vergemaklik.

Teken solank die datums aan vir 2025 se NAMPO Kaap: 10 tot 13 September.