March 2018
KOBUS VAN HUYSSTEEN, tegniese beampte, SANSOR
Sedert die vorige oes is al die beste praktyke moontlik gevolg en voorbereidings getref om volgende jaar selfs ‘n groter, beter oes te behaal – daardie rekordoes waarna alle landbouers streef.
Produsente wat hierdie sentiment deel en voortdurend na vooruitgang streef, sal weet dat slegs die beste gehalte produkte as insette oorweeg moet word om sukses te behaal. Suid-Afrikaanse landbou is uniek en is seker een van die industrieë wat oor die meeste risiko’s en veranderlikes beskik. Sommige veranderlikes is redelik goed beheerbaar en ander ongelukkig tot ‘n mindere mate. Waarom dan nie dié risiko’s beperk wat wel bestuurbaar is nie?
Deur saad van die beste beskikbare kwaliteit en hoogste genetiese potensiaal te gebruik, word daar reeds een van die faktore wat ‘n beduidende invloed op jou oes kan hê, uit die weg geruim. Jy kan dus ‘n mate van gemoedsrus koop, nie waar nie?
Suid-Afrika is gelukkig om oor ‘n aantal privaat saadmaatskappye te beskik. In ander Afrikalande voer staatsbeheerde saadmaatskappye die botoon, waar besluite wat geneem word nie altyd in die beste belang van graanprodusente is nie.
Vir saadmaatskappye om volhoubaar en winsgewend te bly, moet saad van die hoogste genetiese potensiaal, sowel as fisiese suiwerheid, ten alle tye bemark en vrygestel word. Hierdie marksegment is uiters kompeterend en ‘n saadmaatskappy kan nie bekostig om produsente se vertroue in hul te skok nie.
Saadmaatskappye gaan dus ‘n stap verder om hulle saad te laat sertifiseer by die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) om sodoende die saadkwaliteit deur ‘n onafhanklike instansie te laat bevestig. Daar word meer en strenger standaarde vir gesertifiseerde saad gestel en saadmaatskappye moet hieraan voldoen alvorens hul produkte die kenmerklike blou SANSOR sertifiseringsetiket (Foto 1) en -seël (Foto 2) mag dra. So, wat behels sertifisering dan en waarom op gesertifiseerde saad aandring?
SANSOR is ‘n bedryfsorganisasie wat die belange van die saadbedryf plaaslik sowel as internasionaal verteenwoordig, beskerm en uitbrei. Die organisasie is ook sedert 1989 die aangewese gesag vir saadsertifisering in Suid-Afrika. Tot op daardie stadium is sertifisering deur die destydse Departement van Landbou behartig, waarna dit weens ekonomiese redes gerasionaliseer is.
Saadsertifisering geskied onder die riglyne en voorskrifte van die Suid-Afrikaanse saadsertifiseringskema, sowel as die Plantverbeteringswet 1976 (Wet 53 van 1976). Sertifisering is egter nie verpligtend nie; maatskappye neem self die besluit of hulle ‘n spesifieke saadproduksie wil laat sertifiseer of nie.
Gesertifiseerde saad
Die feit dat saad deur ‘n geregistreerde onderneming verkoop word en/of daar ‘n ontledingsverslag daarvoor beskikbaar is, beteken nie dat daardie saadlot gesertifiseer is nie. Sertifisering van saad behels ‘n volledige kontrolestelsel vanaf die vrystelling van die variëteit deur die teler daarvan, tot en met die uiteindelike beskikbaarstelling van die saad aan die produsent. Dit geskied oor verskeie generasies van vermeerdering heen – wat gewoonlik drie na vier seisoene duur.
Gedurende elk van die onderskeie vermeerderingsfases word daar volledige kontrole uitgevoer, deurdat elke eenheid vir produksie van saad by SANSOR geregistreer word. SANSOR kontroleer eers die oorsprong en sertifiseerbaarheid van die ouersaad van die betrokke variëteit voordat die eenheid aanvaar word vir die produksie van saad vir sertifisering.
Tydens die groeistadium word die plante op vasgestelde groeistadiums deur SANSOR opgeleide en gemagtigde inspekteurs ondersoek om onder andere te bepaal of die plante aan die voorgeskrewe minimum vereistes ten opsigte van die variëteitsegtheid en identiteit voldoen. Dit sluit in aspekte soos die kontrolering van isolasie-afstande, vorige gewasse, opslagplante en af-tipes wat moontlik die variëteitsegtheid van die saad kan kompromitteer.
Vir elke inspeksie wat uitgevoer word, word daar verslag aan SANSOR gelewer, wat dan die bevinding op rekord plaas. Die inspeksieproses word deurlopend deur die organisasie, sowel as beamptes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) gemoniteer.
Nadat die saad geoes is, word dit verwerk en verpak. Weer eens word daar kontrole uitgeoefen om te verseker dat daar geen vermenging plaasvind nie. Die houers waarin die saad verpak word, word dan met voorgeskrewe inligting op etikette, soos deur SANSOR verskaf, gemerk.
Vir gesertifiseerde saad word uniek-genommerde blou etikette met die landswapen en die woorde SA GESERTIFISEERDE SAAD: SANSOR daarop gedruk, gebruik. Elke houer word ook met ‘n uniek-genommerde SANSOR seël verseël.
Die saad word dan deur SANSOR opgeleide en gemagtigde monsternemers bemonster en deur ‘n geregistreerde saadtoetslaboratorium ontleed om die ontkieming en fisiese suiwerheid van die saad te bepaal. ‘n Verdere monster word ook deur die Afdeling Variëteitskontrole van DLBV uitgeplant om die variëteit se identiteit met die verwysingsmonster van die betrokke variëteit te vergelyk.
Indien die betrokke saadlot aan al die minimum vereistes van die saadsertifiseringskema voldoen, insluitend dié vir variëteitsegtheid, sal SANSOR dan ‘n sertifikaat uitreik om die sertifisering daarvan te bevestig. Die kenmerkende blou seël, blou etiket en gepaardgaande sertifikaat dien dus as bewys dat ‘n spesifieke saadlot wel in terme van die Suid-Afrikaanse saadsertifiseringskema gesertifiseer is.
Ten slotte
SANSOR speel al vir byna 29 jaar ‘n integrale rol in die versekering van kwaliteit saad aan produsente. Ons bou steeds elke dag hierop voort deur middel van noue samewerking met alle rolspelers, asook internasionale assosiasies. Ons vertrou dat SANSOR, deur voortgesette ondersteuning van produsente, steeds in die toekoms hierdie belangrike funksie suksesvol sal verrig.
Vir navrae oor saadsertifisering, kontak Kobus van Huyssteen by techoffice@sansor.co.za.
Publication: March 2018
Section: Focus on