October 2017
Johannes van As, hulpbronbeplanning en besproeiingskonsultant
Bewaringsboerderypraktyke wen al hoe meer veld in Suid-Afrika en is stadig maar seker besig om ouer konvensionele praktyke te vervang. Die beplanning en bestuur van waterafloop en -dreinering is van die belangrike bestuursaspekte wat aangepas moet word om volhoubare gewasproduksie te verseker.
Die afgelope nat seisoen is voorafgegaan deur ‘n droë seisoen en daarom is dit van kardinale belang dat produsente hul praktyke sal aanpas vir seisoene wat volg – om afloopwater optimaal te bestuur, maar ook om versuiping en verbrakking van grond te voorkom.
Vogbewaring
Die hoofdoel is om soveel vog as moontlik in die “grondreservoir” te probeer stoor. Om dit te bewerkstellig, moet van praktyke gebruik gemaak word wat maksimum infiltrasie in die grond sal verseker. Deur plantrigtings en daarom hellings aan te pas, kan die snelheid van afloopwater tydens reënbuie met hoë intensiteit verlaag word om meer tyd vir maksimum infiltrasie te verseker.
Biologiese praktyke soos dekgewasse verhoog onder andere die waterhouvermoë van die grondprofiel vir optimale vogopname. Bewerkingspraktyke soos stoppel- en strookbewerking voorkom verdamping en versprei die energie van reëndruppels, om sodoende korsvorming te voorkom en verbeterde infiltrasie te verseker. Dié praktyke verseker ook dat onsigbare oppervlak-erosie, ook genoem bogrondse erosie (sheet erosion), aan bande gelê word.
Oppervlak- en ondergrondse dreinering
Daar moet egter nog steeds voorsiening gemaak word vir wanneer grond versadigingspunt bereik en ook tydens reënbuie van hoë intensiteit, om afloopwater veilig sonder erosie te kanaliseer en moontlik te kan stoor vir aanvullende vog tydens kritiese groeistadiums.
Deeglik-beplande plantrigtings en hellings, plantrylengtes, kontoerwalle, waterbane en damme speel hierin ‘n belangrike rol.
Plantrye dien as mini-kontoere en indien die kapasiteit, rigting en helling reg saam met ander bewaringspraktyke ingespan word, is dit moontlik om kontoerwalspasiërings aan te pas en selfs moontlik te verminder.
Heelwat ondergrondse dreineringsprobleme word veroorsaak deur ongekontroleerde oppervlakte-afloop na ‘n laagtepunt of duik, waar die water opdam en versuiptoestande teweeg bring.
Indien landerye betreklik golwend is en afloopwater nie prakties met plantrye of kontoere in waterbane gekanaliseer kan word nie, kan opdamming (ponding) versuiptoestande teweeg bring. Dan sal dit raadsaam wees om grondverskuiwing (land shaping) te oorweeg.
Dit behels die bepaling van grondvolumes vir uitgrawing en opvulling (cut and fill) sonder om die bogrond totaal te versteur, of te verwyder van een area na ‘n ander. Met hierdie praktyk word daar derhalwe gepoog om eenvormige infiltrasie van water oor die hele land te bewerkstellig en om oortollige afloopwater veilig uit die land te dreineer. ‘n Netwerk van ondergrondse dreine kan ook oorweeg word as ‘n moontlike oplossing.
Nog ‘n algemene uitdaging is die sydelingse afloop van ondergrondse water op ‘n keerlaag na ‘n laagtepunt, waar die vry water dan opdam, of bo-op die grond uitslaan. Hierdie uitdaging kom algemeen op vlakker gronde voor en vogbewaringspraktyke wat infiltrasie verhoog, vererger die toestand. Dit kan aangespreek word deur plantrye en kontoere teen ‘n steiler helling te beplan, sodat oortollige water vinniger, maar nog steeds sonder erosie, uit landerye gekanaliseer word indien die vlakker grond versadiging bereik. ‘n Alternatiewe moontlikheid om die uitdaging aan te spreek, is die opvang en kanalisering van sydelingse afloop deur middel van afsnydreine.
Aangesien daar ‘n groot variasie in die eienskappe van gronde in Suid-Afrika is en sommige produsente nie oor die luukse van diep gronde beskik nie, verskil die bestuursbeplanning by vlakker gronde dikwels van dié areas met dieper gronde.
Beplanningsproses
‘n Fisiese grondopname, tesame met ‘n akkurate topografiese opmeting en kontoerkaart, is van kardinale belang vir deeglike beplanning.
Presisietegnologie en -toerusting op trekkers maak dit vir produsente moontlik om sekere grondfisiese en akkurate topografiese data in te win, af te laai en moontlik aan ‘n konsultant vir moontlike verdere interpretasie en beplanningsdoeleindes te verskaf.
Eerstens word die oppervlakte-afloop aangespreek. Indien versuipkolle steeds voorkom, kan dit aangespreek word met grondverskuiwing of ondergrondse dreinering.
Die hidrologiese beplanning sluit in die bepaling van die opvanggebied en afloopvolume-berekeninge om die kapasiteit van waterbane, kontoere en damme te bereken. Vir die beplanning van plantrigtings, kontoere en waterbane is dit nodig om dieposisies, rigting, helling, lengtes en afmetings te bepaal, om afloopkapasiteit veilig te kan hanteer.
Die beplanning van ondergrondse dreinering behels die bepaling van die kapasiteit, helling, diepte en spasiëring van oop sugslote of moldreine. In die geval van dreinpype, asook die ontwerp van dreineringsfilter rondom die pyp, is die bepaling van die diepte, helling, spasiëring en pypgroottes ook noodsaaklik, om water vinnig genoeg te dreineer voordat versuiping van gewasse plaasvind. Hierin speel die dreineringsfaktor en hidrouliese konduktiwiteit van die grond ‘n belangrike rol.
Vir meer inligting, kontak Johannes van As by 078 893 8962 of wsmpotch@vodamail.co.za.
Publication: October 2017
Section: Focus on