September 2017

Dr Maryke Craven, prof Bradley Flett en Dirk Bruwer, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

‘n Effektiewe beheerstrategie vir verskeie plantsiektes sluit die gebruik van ‘n verskeidenheid basters in, waarvan sommige – indien nie almal van hulle nie – die een of ander graad van weerstand teen die dominante siekte wat in die spesifieke omgewing voorkom, moet hê.

In die geval van blaarsiektes, kan sulke basters gekombineer word met chemiese beheer om sodoende die inokulumvlakke van die patogeen wat die siekte veroorsaak, sowel as opbrengsverliese van die gewas, so laag as moontlik te hou teen die minimum insetkoste vir die produsent.

Vele produsente is maar te goed vertroud met die vernietigende aard van noordelike mielieblaarskroei (Foto 1). Hoewel die siek­te meer geneig is om ‘n “standaard”-probleem onder besproeiing te wees, sal droëlandprodusente kan saamgesels oor daardie een of twee nat jare wat noordelike mielieblaarskroei onverwags chaos veroorsaak het.

Die siekte kom nie net in besproeiingsgebiede waar die omgewingstoestande optimaal vir noordelike mielieblaarskroei-infeksie is voor nie, maar sal sporadies ook onder droëlandtoestande tot groot opbrengsverliese lei sou daar nat en koel toestande gedurende die groeiseisoen heers.

Ht1, Ht2, Ht3 en HtN is die vier hoof­weerstandsgene wat geassosieer word met noordelike mielieblaarskroei. Hierdie gene word algemeen in mielieteelprogramme geïnkorporeer om weerstandbiedende mieliebasters op die mark beskikbaar te stel.

Soms kan dit gebeur dat ‘n spesifieke baster wat voorheen gelys was as weerstandbiedend teen noordelike mielieblaarskroei, nie meer weerstand toon nie. Verder kan dit ook gebeur dat weerstand teen die siekte wel vir ‘n paar jaar in plek is, maar dat die baster dan skielik weer vatbaar word.

Die rede vir hierdie skielike gebrek aan of afbreek van weerstand is waarskynlik die gevolg van die toetrede van ‘n nuwe ras (‘n spesifieke groep swamme binne ‘n patogeniese spesie wat net op sekere mielievariëteite infekteer) van die patogeen wat nie voorheen in die spesifieke omgewing voorgekom het nie.

Anders gestel beteken dit eenvoudig dat daar verskillende vorme van dieselfde patogeen bestaan, maar wat verskil in hul vermoë om die verskillende mieliebasters te kan infekteer. Weerstandbiedende bas­ters vir noordelike mielieblaarskroei word steeds beskou as die eerste stap wat geneem kan word vir ‘n geïntegreerde be­stuurspraktyk wat homself ten doel stel om die voorkoms van die siekte te beperk.

Letsels op weerstandbiedende basters is geneig om kleiner te wees en minder te sporuleer.

Foto 2 toon ‘n tipiese noordelike mielieblaar­skroeiweerstandsletsel wat op weerstandbiedende basters voorkom. Die
siek­te versprei nie so vinnig nie en skade aan die blare is ook minder. Dit is egter belangrik dat die produsent moet verstaan dat die weerstand wat ‘n spesifieke baster teen noordelike mielieblaarskroei het, kan verskil tussen verskillende omgewings – afhangende van watter noordelike mie­lieblaarskroeiras dominant in die spesifieke omgewing is.

Dit is raadsaam om uit te vind in watter omgewing die betrokke baster aanvanklik vir weerstand teen noordelike mielieblaar­skroei geëvalueer is. Produsente word aangeraai om verskillende weerstandbiedende basters aan te plant om sodoende die risiko verder te verminder.

Voortdurende monitering van die mielie­baster vanaf blom (veral by aanplantings onder besproeiing), is steeds krities al word daar van weerstandbiedende basters gebruik gemaak. Sodoende kan die pro­dusent nie onverhoeds betrap word nie.

Gedurende die 2016/2017-seisoen is 30 ultra kort mieliebasters in Potchefstroom ge­evalueer. Die doel van hierdie proef was om die mieliebasters te toets vir hul vatbaarheid vir noordelike mielieblaarskroei sodat daar bepaal kon word hoe die verskillende basters presteer onder die infeksiedruk van noordelike mielieblaarskroeirasse wat spesifiek in die Potchefstroom-omgewing voorgekom het.

Omdat lokaliteit en seisoen ‘n rol kan speel in die voorkoms van noordelike mielieblaarskroei, het ons die siektegraad wat gedurende die afgelope seisoen by Potchefstroom waargeneem is, vergelyk met die siektegraad wat waargeneem is gedurende 2014/2015 tydens die evaluering van LNR-kultivarevaluasieproewe by Potchefstroom en Grootpan, onderskeidelik (Grafiek 1).

n Aantal nuwe kultivars wat nie deel was van die groep wat tydens die 2014/2015-seisoen geëvalueer is nie, is ook gedurende 2016/2017 ingesluit. By Potchefstroom is daar oor die algemeen soortgelyke infeksievlakke oor die twee seisoene waargeneem, met enkele kultivars wat gedurende die 2016/2017-seisoen hoër infeksievlakke ervaar het as met die 2014/2015-seisoen.

Produsente kan hierdie inligting as riglyn gebruik wanneer hulle met die onderskeie saadverteenwoordigers gesels en besluite neem oor watter basters hulle die komende seisoen wil plant. Deur kennis te dra van die baster se vatbaarheid vir noordelike mielieblaarskroei, sal produsente meer ingeligte besluite kan neem rakende siektebeheerprogramme vir die komende seisoen.

Produsente is welkom om die outeurs van die artikel te kontak by 018 299 6100 met enige verdere vrae in hierdie verband.

Publication: September 2017

Section: Focus on