August 2017

Dr Robbie Lindeque, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Ten einde die volle genetiese opbrengspotensiaal van moderne kultivars te verwesenlik, is ‘n goeie begin uiters belangrik. Omgewing, wat klimaat en produksiepraktyke insluit, rem toenemend teen hoër opbrengste wat noodsaaklik is om koringverbouing winsgewend te maak.

‘n Produsent het geen beheer oor die klimaat nie en die hoeveelheid reënval of hoe warm of koud dit tydens kritieke groeistadiums gaan wees, varieer drasties tussen seisoene. Bestuur van die produksieomgewing is egter wel moontlik en goeie vogbewaringspraktyke, oordeelkundige keuse van kultivars wat aangepas is vir die spesifieke produksie-area en aanwending van ‘n effektiewe bemestingsplan, sal wel ‘n hele aantal potensiële risiko’s betekenisvol verminder.

Hierdie is die hoofredes waarom presisieboerdery in gewildheid toeneem. Presisieboerdery beteken niks meer nie as dat die produsent, met behulp van moderne tegnologie, toenemend beheer neem oor faktore wat bestuurbaar is.

‘n Wenner-oes moet reeds vroeg in die seisoen met ‘n goeie saailingstand wegspring – wat die gesegde “goed begin is half gewin” ook van toepassing op die vroeë groeiseisoen maak. Oeste met hoër opbrengste en goeie kwaliteit is essensieel reg-oor die produksiestreke van Suid-Afrika ten einde die oplewing en volhoubaarheid van koringproduksie te ondersteun.

Duisendkorrelmassa
Die duisendkorrelmassa (DKM) van ‘n spesifieke kultivar verwys, soos die term aandui, na die uittel van ‘n duisend koringkorrels en die daaropvolgende afweeg daarvan. Korrelgrootte, wat duisendkorrelmassa bepaal, is grootliks ‘n genetiese eienskap wat derhalwe beteken dat verskillende saadgroottes tussen kultivars voorkom.

Met presisiesaai kan die saaidigtheid van enige kultivar akkuraat per hektaar uitgevoer word, terwyl produsente wat plant volgens “kilogram per hektaar” ‘n wesenlike berekeningsfout ten opsigte van die hoeveelheid saailinge per hektaar (plantdigtheid) kan maak.

Daar word internasionaal aanvaar dat groter saadkorrels positief korreleer met hoër graanopbrengs. Hierdie persepsie is deels waar en kan toegeskryf word aan sterker saailinge, hoër kiemkragtigheid en dikwels ook ‘n langer koleoptiel.

In Tabel 1 word die verskille in die duisendkorrelmassa van kommersiële kultivars uit die Nasionale Kultivarevaluasieprogram van 2016 vir droëlandproduksie in die somerreënvalgebied, aangedui. Duisendkorrelmassa van die reeks kultivars is in rangorde van inskrywing een vir klein korrels (23,5 g per 1 000 korrels) tot in-skrywing 22 vir die grootste korrels (45 g per 1 000 korrels).

Vir vroeë aanplantings in die Oos-Vrystaat (Junie) word 70 saailinge per m2 aanbeveel en 75 saailinge per m2 vir die later planttyd (Julie). Indien die tradisionele kilogram saad per hektaar gebruik word, sal die saaidigtheid op 500 ha van inskrywing een lei tot 248 sakkies te veel en inskrywing 22 tot 75 sakkies te min saad (Tabel 1).

Hierdie is belangrike saadverskille wat die produsent se saadkostes, in die geval van inskrywing een, aansienlik verhoog en op 500 ha tot ‘n oorspandering van R74 250 sal lei. Hierdie onnodige saadkostes is ‘n verkwisting wat nie maklik uit die oes verhaal kan word nie; tweedens neem kompetisie vir water, voedingstowwe en lig tussen koringplante sodanig toe dat optimale plantontwikkeling, wat opbrengs beïnvloed, belemmer word en laastens verkry die produsent ‘n skewe prentjie van watter kultivar werklik goed aangepas is vir sy produksie-eenheid.

Aan die ander kant sal die 75 sakkies te min saad op 500 ha met inskrywing 22, veroorsaak dat produksiehulpbronne soos bemesting vermors word en die produsent heel waarskynlik nie sy opbrengsdoelwit gaan bereik nie.

Groter binnery-saadspasiëring kan onkruidgroei boonop aanmoedig – wat meer straf met die koringplant gaan kompeteer vir lig, vog en voedingstowwe.

Koleoptiellengte
‘n Ander eienskap wat ‘n belangrike rol tydens saailingontwikkeling speel en uiteindelik die plantestand beïnvloed, is koleoptiellengte. Die koleoptiel is die skede waarin die eerste blaartjie wat na ontkieming deur die grond verleng totdat die saailing bogronds verskyn, beskerm word.

In koringproduksiestreke regoor die wêreld word koleoptiellengte van veral wintertipe koring baie belangrik geag. ‘n Lang koleoptiel maak dit moontlik om dieper te plant ten einde vogreserwes te bereik wat vir goeie ontkieming benodig word. ‘n Lang koleoptiel word ook dikwels met goeie kiemkragtigheid en saailingontwikkeling geassosieer en korreleer positief met planthoogte.

Dit beteken dat kultivars met ‘n lang koleoptiel waarskynlik ook lang plante het. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) vereis dat enige koringkultivar wat vir kommersiële produksie in Suid-Afrika aanbeveel word, oor ‘n koleoptiellengte
van 60 mm of meer moet beskik.

Windstorms in produksiegebiede soos die Noordwes-Vrystaat veroorsaak ernstige verliese in plantstand net na ontkieming en saailingverskyning. Die rede is dat saailinge bogronds meestal stadiger groei as die tempo waarmee wind fyn sand in die planter-voor inwaai en saailinge dus letterlik “begrawe” word. In gebiede waar hierdie probleem algemeen voorkom, sal dit raadsaam wees om eerder koringkultivars met ‘n langer koleoptiel te kies ten einde saailinge ‘n beter kans op oorlewing te gee.

Inskrywings 1, 2, 3, 6, 10, 12, 13, 15, 17 en 18 sal in hierdie verband goeie aanbevelings wees (Tabel 1).

‘n Nuwe navorsingsplanter vir LNR-Kleingraan
Omgewing speel ‘n groot rol in die uiteindelike opbrengs wat ‘n produsent op sy plaas behaal. In die ontwikkeling van nuwe kultivars word hierdie omgewingseffek uitgeskakel deur ‘n verteenwoordigende aantal veldproewe by verskillende medewerkers in ‘n produksiestreek te plant.

Dit is waar die navorsingsplanter ‘n baie noodsaaklike rol vervul. Spesifieke saaidigthede moet onder verskillende omgewings her­haalbaar wees en plantertegnologie in navorsing moet so na as moontlik aan die tegnologie wees wat die produsent gebruik. Indien daar tekortkominge, soos ‘n kort koleoptiel, by ‘n potensiële nuwe kultivar in veldproewe uitgewys word, wil die koringteler weet dit is ‘n probleem wat ook onder kommersiële produksie belangrikgaan wees.

Hierdie oorwegings en ‘n LNR-Kleingraan-beginsel waarvolgens ver­ouderde toerusting vervang word voordat navorsingseffektiwiteit ingeboet word, het aanleiding gegee tot die aankoop van die nuwe droëlandnavorsingsplanter.

Die LNR-Kleingraan planter is deur Effective Farming Solutions (EFS) op Middelburg, Mpumalanga gebou. Die planterraam is plaaslik vervaardig terwyl die saadverdeler en plantereenhede ingevoer is. Die planter is ‘n ses-ry-lugdrukplanter, ook bekend as ‘n presisieplanter en is in staat om persele van 15 m2 te plant. Daar word beoog om oor ‘n paar seisoene GPS-toerusting op die planter aan te bring, wat akkuraatheid en monitering van die plantaksie verder sal verhoog.

Erkenning word gegee aan mnr Willem Kilian en me Hesta Hatting vir duisendkorrelmassa en koleoptiellengtedata uit die nasionale kultivarproewe.

Vir enige navrae kan dr Robbie Lindeque by 058 307 3439, 082 563 1553 of lindequerc@arc.agric

​​​​​​​

Publication: August 2017

Section: On farm level