August 2017
Pietman Botha, SA Graan/Grain medewerker
Wisselbou lewer ‘n groot bydrae tot die winsgewendheid en volhoubaarheid van verbouingstelsels. In die westelike saaistreke is daar egter nie regtig gewasse waarmee mielies winsgewend afgewissel kan word nie, maar sojabone is ‘n gewas wat gewis sekere voordele vir mielieverbouing kan bied.
Sojaboonverbouing vereis dat ‘n produsent sy bestuur moet opskerp. Goeie boerderypraktyke moet toegepas word en die suksesfaktore moet deeglik bestudeer en bestuur word. Mnr Cobus van Coller van Viljoenskroon meen dat dit vir produsente belangrik is om aan die volgende aspekte aandag te skenk wanneer die verbouing van sojabone beoog word:
- Masjinerie en toerusting benodig om sojabone te verbou;
- voedingstatus van die grond;
- bestuur van die enting van die saad;
- saadbestuur;
- aanplanting om die blom van die sojabone met die langtermynreënvalverspreiding te sinkroniseer;
- plantdatum, plantestand en plantdiepte van die verskillende kultivars;
- bestuur van die onkruiddoders; en
- belangrikheid van swam- en plaagdoders.
Van Coller het op die harde manier geleer dat sojabone ná ‘n sekere datum begin oopspring. Die gevolg daarvan is dat die oes nie ingesamel kon word nie, omdat die stropers net te min was. Die stroop van die gewas is net so belangrik soos die verbouing daarvan.
Maak daarom seker dat daar genoeg stropers beskikbaar is om die stroop van sojabone betyds af te handel. Wat Van Coller doen om sy strooptyd te verleng, is om ‘n verskeidenheid van kultivars met verskillende groeilengtes te plant. “Praat met jou saadverteenwoordigers om seker te maak dat die kultivars en die hoeveelhede wat geplant word, by die beskikbare stroperkapasiteit pas,” raai hy produsente aan.
Die volgende aspek wat volgens hom tot ‘n groot mate aandag verg, is die voedingstatus van die grond. Let veral op die pH. Indien die pH te laag is, sal dit ‘n negatiewe effek op die stikstofbinding en proteïensintese hê.
Sojabone vereis heelwat meer fosfaat en kalium as byvoorbeeld mielies. Hierdie makro-elemente moet ten alle tye beskikbaar wees. Die mikro-elemente is net so belangrik. Kalsium, magnesium en swael word ook ontleed en Van Coller strooi, in konsultasie met sy bemestingsadviseurs, ‘n produk uit om hierdie tekorte aan te spreek.
Die ander mikro-elemente (sink en molibdeen) is ewe belangrik en ‘n tekort hieraan benadeel die opbrengste vinnig.
Die gebruik van blaarontledings is vir Van Coller krities om die produksie en winsgewendheid van sojabone te verhoog. Goeie, tydige en volledige ontledings word gedoen en die tekorte word dadelik aangespreek.
In die afgelope seisoen het hierdie praktyk hom ondersteun om die regte middels tydig te kon toedien. Die positiewe hieraan is dat die middels toegedien heelwat minder was as wat algemeen vir sojabone toegedien word. Sodoende is heelwat insette gespaar.
Omdat die sojabone sy eie stikstof moet vervaardig, is die enting van sojaboonsaad uiters belangrik. Produsente spandeer dikwels nie genoeg tyd en aandag aan die entproses nie – met die gevolg dat swak enting plaasvind en opbrengs ingeboet word.
Van Coller noem dat hy die enting van sy sojaboonsaad doen deur vars entstof, wat gereeld aangevul word en reg gemeng word, in die plantervoor te spuit. Verder word die saad ook met entstof behandel. Hierdie gemengde saad word só bestuur dat die saad min sonlig kry en daar word moeite gedoen om die saad korrek met die entstof te meng.
Hy noem dat saad met ‘n bakkie vanuit die stoor na die planter aangery word om sodoende te verseker dat die geënte saad so min as moontlik aan son blootgestel word. Dit is belangrik om te onthou dat die sojaboonsaad uiters versigtig hanteer moet word. Om die sakke met saad byvoorbeeld te laat val, kan veroorsaak dat die opkoms benadeel word.
As sojaboonsaad op plase teruggehou word, is die bestuur van sodanige saad ook uiters belangrik. Van Coller noem dat die saad so vinnig moontlik ná stroop skoongemaak moet word en dat hierdie saad korrek geberg moet word, waar dit so min as moontlik hanteer sal word. Die saad moet waar moontlik in ‘n koel plek gestoor word. Vir hom is dit krities om hierdie teruggehoue saad aan beide ‘n ontkiemings- en ‘n groeikragtigheidstoets te onderwerp. Indien die saad nie dieselfde standaarde as nuut gekoopte saad haal nie, moet dit nie gebruik word nie.
Interryplantspasiëring is vir Van Coller belangrik. Daarom sal dit geen bydrae lewer om die hoeveelheid saad per hektaar te verhoog nie.
Hy probeer om die kultivars volgens hul vereiste plantestand per hektaar te plant. Hierin speel die saadverteenwoordigers ‘n belangrike rol. Daar word ook gepoog om ‘n pakket van kultivars te plant.
Die jaar se reënvalverspreiding sal een jaar die langer groeiers en ‘n ander jaar die korter groeiers bevoordeel. Omdat sojabone heelwat vog tydens blom en saadvul benodig, is dit belangrik dat daar in hierdie tyd genoeg vog beskikbaar moet wees. Maak daar-om seker dat die groeipatroon van die sojabone met die reënval en vogbeskikbaarheid van die plaas strook.
Onkruidbestuur is krities om sojabone se sukses te waarborg. Sojabone word so laag moontlik gestroop en daarom is dit belangrik dat daar nie onnodige walle in die rye moet wees nie. Van Coller noem dat produsente daarom moet probeer om nie die sojabone meganies te skoffel nie en sodoende die vorm van walle in die rye te beperk.
Die gevolg hiervan is dat die stropers laer kan stroop en sodoende word meer sojabone per hektaar gestroop. Hy probeer ook om die effek van veral glifosaat op die sojabone te beperk.
Voor-opkomsonkruide word voor-plant bespuit en indien die Roundup Ready sojabone met glifosaat bespuit moet word, is dit praktyk om die Roundup met ander middels te meng om die effek van die Roundup op die sojabone te verminder.
Swamme is ‘n uitdaging by sojaboonverbouing. Van Coller bestuur swamdodertoediening daarom ook eerder voorkomend as om reaktief op te tree. Die bespuiting van die sojabone net voor blom en tydens blom word sover as moontlik beperk om te verseker dat die meeste blommetjies wel bestuif raak.
Van Coller wil sy grond so vinnig moontlik met gewasse bedek hê en plant daarom nouer rye. Hierdie rywydtes maak dit vir die sojabone moontlik om vinnig die rye toe te maak en sodoende word die grondtemperatuur verlaag en die vogverlies as gevolg van verdamping verminder.
Gepraat van grondtemperatuur: Dit is ook krities om te besluit wanneer met die sojaboonaanplantings begin kan word. As die grondtemperatuur nog te laag is, sal die ontkieming van die saad benadeel word. Die plantdiepte van die saad is meer krities as dié van mielies. Pasop om te diep te plant, maar wees ook versigtig om te vlak te plant. Praat gerus met die saadverteenwoordigers om die kultivars teen die regte plantdiepte te plant.
Sojabone vereis ook heelwat meer bestuur as mielies, noem hy. Binne ‘n week kan bolwurm geweldige skade aanrig en daarom is gereelde, volledige landinspeksies essensieel. Sodra die wisselbou van sojabone binne die boerderypraktyke ingesluit word, is dit belangrik dat die onkruiddoderprogram hiervoor voorsiening maak. Bespreek dit met jou chemiese verteenwoordiger en bestuur dit.
Vir Van Coller is die aanplant van sojabone in die Viljoenskroon-omgewing ‘n betreklik goeie toevoeging wat nie net sy winsgewendheid nie, maar ook sy kapitale aanwending verbreed. Hy sê hy sal verseker steeds hierdie gewas in die toekoms verbou.
Vir navrae oor die artikel, kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of Cobus van Coller by 082 561 6375.
Publication: August 2017
Section: Focus on