Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 15: Radys (Raphanus sativus)

1943

Hierdie artikel is die 15de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige Brassica of kool-aangeplante weidinggewas wat algemeen in die winterseisoen gebruik word as ’n gewas om grondtoestande te verbeter en in die wintermaande van ’n somerreënvalstreek dekking te verskaf.

Hierdie eenjarige gewas kan moontlik ná ’n meerjarige grasweiveld geplant word voordat ’n graangewas in die volgende seisoen geplant word.

Raphanus sativus radys (radish)

Radys (ook algemeen as Japannese, voer- of Tillage-radys bekend) is ’n eenjarige Brassica of koolplant wat uit Oos-Asië en Europa kom. Hierdie voergewas is bekend in die koeler somerreënvalstreke van Suid-Afrika.

Die wortelkomponent (knol) van die gewas behels ongeveer 50% van die totale produksie, met ’n voginhoud so hoog as 90%. Die blaar- en wortelmateriaal van hierdie gewas kan in die winter as vars jong materiaal gebruik word, of as voer na die laat winter of vroeë lente oorgedra word.

Die algemeenste kultivar is Nooitgedacht, met alternatiewe kultivars soos Samurai, Sakurajuma, Star 1650 en 1651, en ’n sagteblaarkultivar genaamd Sterling.

Volgroeide voerradys.

Agro-ekologiese verspreiding

Hierdie gewas is aangepas by die koeler oostelike dele van die land, waar reënval in Januarie tot April redelik betroubaar is. Alternatiewe kultivars word meer onlangs in die westelike dele van die land ook gekweek.

Hierdie spesie is koue- en droogtebestand, maar nie teen versuipte toestande nie. Radyse groei die beste wanneer dit vroeg genoeg geplant word om ses weke se groei toe te laat voordat gereelde ryp begin. Radyse is winterplante en verdra ligte ryp, maar toon gewoonlik skade wanneer temperature laer as 0°C daal.

’n Geskikte reënval vir radysproduksie is ten minste 650 mm per jaar en dit vermenigvuldig met ’n goeie herfsreën.

Rex Fey, ’n produsent van Kokstad, wat groot sukses met voerradys behaal.

Bestuur en benutting

Hierdie gewas word die beste in sand- tot sanderige leemgrond met ’n goeie waterhouvermoë gevestig. Goed gedreineerde kleigrond met ’n goeie waterhouvermoë is ook geskik. Die normale plantdatum is Januarie/Februarie, maar in die koeler oostelike Hoëveld-streke kan die gewas so vroeg as die middel van Desember geplant word.

Indien hierdie gewas te vroeg geplant word, is die spesie geneig om voortydig te blom, en dit laat nie genoeg tyd oor vir wortelvorming om plaas te vind nie. Laat plantings kan potensieel tot onvoldoende grondvogreserwes lei.

Wanneer hierdie gewas in rye geplant word, word daar aanbeveel dat rye 90 cm uit mekaar geplant word, met plantspasiëring van 35 cm tot 50 cm uit mekaar. Wanneer dit as dekgewas geplant word, word hoër saaidigthede egter gebruik (gewoonlik word dit gestrooi) en smaller rye van hoogstens 50 cm uitmekaar word verkies. Die saaikoers van 2 kg/ha in rye word aanbeveel, en 4 kg/ha wanneer die saad gestrooi word.

’n Vooropkoms-onkruiddoder soos Treflan kan gebruik word om gras en sommige breëblaaronkruide te beheer. ’n Produk soos Dual kan gebruik word om onkruid na opkoms te beheer. Karate-plaagdoder kan gebruik word om snywurms te beheer.

Radys reageer goed op goeie bemesting met fosfaat (P) en kalium (K) voor vestiging. Bemesting moet aanvanklik ten minste 20 mg/kg P en 140 mg/kg K uitmaak.

Onder droëlandtoestande word 50 kg tot 70 kg N/ha aanbeveel, terwyl besproeiingstoestande twee aanwendings van 75 kg N/ha elk vereis. Talle produsente en navorsers eksperimenteer met dekgewasmengsels wat radys met peulplante wat N bind (byvoorbeeld weiwieke) en gematigde grasse (byvoorbeeld swarthawer) kombineer, en sodoende meer en beter oesreste verskaf.

Weidingstelsel vir voerradys.
Beesproduksie op besproeide voerradys.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Dit is bekend dat wanneer voerradys as ’n dekgewas gekweek word, dit grootliks kan bydra tot:

  • Hoeveelhede grondvoedingstowwe en organiese materiaal.
  • Verbeterde grondvoedingstofsirkulasie en -beskikbaarheid.
  • Die onderdrukking van onkruid.
  • Die ophef van grondverdigtingslae.

In ’n paar navorsingsproewe is daar gevind dat voerradyslanderye minder onkruid en feitlik geen oorblywende dekgewasreste het nie, wat tot warmer, droër grond lei.

Volgens Gruver et al. (2014) is hierdie gewas omvattend nagevors om die voordele te beklemtoon van radysdekgewasse op:

Grondstruktuur

  • Wanneer radyse uiteindelik doodgaan, verdroog hulle wortels en die kanale wat deur die wortels geskep is, bly oop, wat waterinfiltrasie en oppervlakdreinering verbeter.
  • Navorsing het ook getoon dat hierdie spesie se wortels verdigte grond uiters goed deurdring.

Onkruid

  • ’n Hoë plantestand radyse kan onkruidgroei onderdruk deur dit te oorskadu.

Nitraatloging

  • As gevolg van die diep wortelstelsel, vinnige worteluitbreiding en groot behoefte aan stikstof (N), is radyse uitstekende gebruikers van residuele N na somergewasse, veral as hulle besproei word.

Vroeëlente-stikstof

  • In teenstelling met sommige van die roggewasse waarvan die reste stadig ontbind en voortgaan om N vir ’n lang tydperk te immobiliseer, ontbind radysreste vinnig en stel N ook vinnig vry. Indien die opvolggewas se vestiging goed beplan word, kan die radys se groei verbeter word asof dit na ’n peulgewas of met aanvanklike N-bemesting geplant is.

Grondfosfaat en kalium

  • Radyse is uitstekende akkumuleerders van P en K (wortel droë materiaal bevat gewoonlik meer as 0,5% P en 4% K), en navorsing het getoon dat grond-P-vlakke hoër is na ’n radysgewas.

Gronderosie en afloop

  • Die blaardak onderskep reëndruppels, sodat die oppervlakimpak en die losmaak van gronddeeltjies beperk word. Selfs wanneer radyse deur ’n swaar ryp doodgemaak word, bly ’n laag ontbindende reste tot vroeg in die lente op die grondoppervlak, wat erosie help beheer. Verder word afloop en erosie verminder as gevolg van die vinnige infiltrasie wat deur die oop wortelkanale vergemaklik word.

Grondorganiese materiaal

  • Die literatuur dui aan dat radysbiomassa uiters afbreekbaar is, en toenames in die vlakke van totale grondorganiese materiaal (GOM) na radysdekgewasse is onwaarskynlik.

Aalwurms

  • Volgens die instelling EXTENSION (Amerika se navorsingsgebaseerde leernetwerk) het laboratorium-bioëssais getoon dat die reste van radyse en talle ander dekgewasse die oorlewing van plant-parasitiese aalwurms soos knopwortelaalwurm (Meloidogyne incognita) en sojaboon-sist-aalwurm (Heterodera glycines) verminder, vergeleke met onaangepaste beheermaatreëls.

Gewasopbrengste

  • Vergelykings op plase en proefpersele het beduidende toenames in mielie- en sojaboonopbrengste na radyse aangemeld, vergeleke met braaklande of ander dekgewasse. Hierdie opbrengsverhogings is waarskynlik die gekombineerde resultaat van die veelvuldige uitwerkings wat hierbo beskryf word.
Tillage-radys wat as ’n koelseisoen-dekgewas by Ottosdal in die Noordwes gebruik word.
 ’n Mengsel van Tillage-radys, swart hawer en weiwieke by Ottosdal.

Bestuursuitdagings

Radyse verdra nat grond baie sleg, en versuipte toestande moet dus vermy word. Radyse reageer baie goed op N toedienings, en ’n tekort aan N beperk hulle vermoë om met onkruid mee te ding, deur verdigte grond te groei en ander potensiële funksies uit te voer.

Stikstoftekorte is waargeneem wanneer radyse na kuilvoer of mielies in sandgrond geplant word, of in grond wat nie voorheen misbruik is nie. N-tekorte is ook waarskynlik wanneer oormatig hoë plantestande gevestig word. Radyse is net matig teen koue bestand en het ongeveer ses weke se goeie groeitoestande nodig om voldoende biomassa te produseer om die meeste potensiële voordele te bereik (Gruver et al., 2014).

Japannese radys as deel van ’n multispesie-dekgewas by Bergville, KwaZulu-Natal.

Diereproduksie-aspekte

Radyse is ’n goeie gewas vir wisselboustelsels, veral na ’n paar jaar van aangeplante weiding net voordat ’n graangewas geplant word. Hierdie gewas het baie waardevolle voordele vir die suiwelproduksiebedryf.

Radyse word dikwels met behulp van ’n elektriese heining bewei, maar om die meeste van die plantmateriaal optimaal te benut, kan dit uit die grond verwyder en aan die beeste gevoer word. Produksiewaardes van tot 6 ton/ha kan verwag word, met ’n proteïenwaarde van 18% tot 21% vir wortels en 20% tot 30% vir blare (Dannhauser, C en Van Zyl, E – persoonlike kommunikasie).

Tillage-radys het ’n positiewe impak op die verdigting van grondoppervlak en dekking.
Tillage-radys word voor die begin van die volgende groeiseisoen deur ryp of onkruiddoder doodgemaak.

Gevolgtrekking

Die keuse van radyse as ’n dekgewas het ’n nou verband met probleme wat ervaar word deur produsente wat bewaringslandbou bedryf. Een so ’n probleem, veral in ons semi-droë gewasverbouingsgebiede, is verdigtingslae in die grondprofiel, veral in die top 40 cm.

Die unieke penwortel van radyse en die vermoë om hierdie verdigting te verlig, kan ’n impak hê op die produsent se besluit om radys as ’n dekgewas te gebruik. Nie net word diep verdigtingslae opgehef nie, maar knolle stoot die grond na die oppervlak op, wat dit sag maak en ’n positiewe uitwerking op infiltrasie het.

As gevolg van die feit dat radysreste ’n klein C:N-verhouding het, is dit die beste om dit in mengsels met gewasse soos weiwieke en swart hawer te gebruik. Dit sal behoorlike grondbedekking verseker voordat ’n kontantgewas geplant word. Die gebruik van radyse en radysmengsels in die koel wintermaande put gewoonlik grondwater uit, wat aanvanklike plantdatums van ’n daaropvolgende somerkontantgewas as gevolg van ’n droë grondprofiel kan beïnvloed of vertraag.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Gruver, J, Weil, R, White, C and Lawley, Y. 2014. Radishes – a new cover crop for organic farming systems.