September 2016
GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem en HANNALENE DU PLESSIS, Noordwes-Universiteit
Valskommandowurm (Foto 1a en Foto 1b) – wat altyd op die agtergrond was – het in 2010 ‘n prominente plek ingeneem nadat ‘n uitbreek op gars groot skade in ‘n relatiewe kort tyd veroorsaak het. Nou, vyf jaar later, wil dit voorkom asof hulle altyd met ons gaan wees en dat ons bewus sal moet wees van wanneer hulle ’n uitdaging gaan wees.
Die motte vlieg reg deur die jaar en kan redelike lae temperature goed hanteer. Dit kan ook wees dat hulle dalk net goed genoeg wegkruip. Hierdie inligting het bekend geword nadat die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) in samewerking met Noord wes- Universiteit en GWK motvlugte met behulp van emmertjieferomoonvalle begin monitor het.
Die valle word op ‘n gereelde basis leeggemaak en die aantal motte per dag word aangeteken. Beide die larwes en die motte is daarvoor bekend dat hulle in die nag aktief is en gedurende die dag onder plantmateriaal of in die grond wegkruip. Hulle kan dus goed skuil – ook om die winter te oorleef. Aangesien hulle nie bedags sigbaar is nie, kan skade aan plante maklik mis-gekyk word.
Drie jaar se data
Met drie jaar se motvlugdata, kan ons baie duidelik uitwys dat daar drie tot vyf vlugpieke per jaar in die verskillende streke voorkom (Grafiek 1). Hoewel die motvlugte in ongeveer dieselfde tyd voorkom, kan hierdie tyd tussen jare met ongeveer 30 dae verskil (Grafiek 1). Dit hang af van die hoeveelheid voedsel teenwoordig en hoe gunstig die weersomstandighede vir die ontwikkeling van die larwes is. Die piek in byvoorbeeld September tot Oktober (Grafiek 1), het gedurende 2014 en 2015 dieselfde grootte gehad, maar die 2015- piek was ongeveer 25 dae later as in 2014. As ons mooi kyk, het hierdie piek in 2015 juis net aan die begin van Oktober voorgekom. Dit beteken dat eiers ongeveer in die middel van Oktober kan begin uitbroei en dat larwes dan graan in die aar-stadium kan beskadig – afhangend van die groeistadium waarin die graan is.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat hulle juis op ‘n laat stadium inkom en nie afgeskrik word deur plante wat besig is om ryp te word nie. Hulle kan veral gars beskadig. Verder kan ook gesien word dat ‘n kleiner, vinniger piek na die einde van Oktober en ook die begin van November voorkom (Grafiek 1). Hierdie piek is net so belangrik en kan groot skade veroorsaak – veral vir gars wat eers in November ryp word.
Het uitbreke plaasgevind?
Afgesien van groot motvlugpieke wat in die September tot Oktobertydperk voorkom, het werklike groot uitbreke nog nie weer plaasgevind nie. Die LNR-KGI doen in begin Oktober opnames in die Vaalharts-area om vas te stel of daar larwes en voedingsimptome op plante voorkom en indien hoë motgetalle voorkom, word produsente gewaarsku.
Dit het gewoonlik tot gevolg dat bespuitings plaasvind wat grootskaalse uitbreke verhoed. Gedurende November 2015 het daar egter ‘n klein uitbreek op ‘n plaas in die Sand-Vet-skema op koring voorgekom, wat wel skade veroorsaak het (Foto 2).
Natuurlike vyande
Parasietwespe en predatoriese vlieë is al uit van die larwes wat versamel is, geteel. Verlede jaar het ons spesifiek ‘n klein parasietwesp op van die larwes in die Sand-Vet skema, wat die totale wurm geparasiteer het (Foto 3), gekry.
Sinkronisasie tussen die tyd wanneer die natuurlike vyande en die larwes voorkom, is baie belangrik in die onderdrukking van die larwes se populasiegroei – wat baie keer deur ‘n verskeidenheid van faktore soos klimaat en bespuitings versteur word. Juis wanneer hierdie balans versteur is, kry hierdie wurms dan kans om onbeheersd in getalle toe te neem.
Wat kan die produsent doen?
Aangesien veranderende klimaatsomstandighede voorkom, moet ons waak daarteen dat dit ons nie onverhoeds betrap nie. Ons gaan nog steeds voort met die monitering van die motte en hoewel daar in Maart en Mei vanjaar alreeds weer pieke voorgekom het, blyk hulle laer te wees as in die vorige jaar.
Die LNR-KGI sal die produsente nog steeds rondom begin Oktober inlig oor die stand van motgetalle en die moontlike voorkoms van larwes. Die produsente kan self ook bedag wees op vreetmerke aan plante – veral gedurende Oktober (Foto 4) en indien hul laat geplant het, aan die begin van November. Hou in gedagte dat die groot skade in 2010 binne die laaste drie weke voor stroop plaasgevind het.
Enige navrae in dié verband kan gerig word aan Goddy Prinsloo by 058 307 3435 of Prinsloogj@arc.agric.za.
Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur samewerking en finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust, Landbounavorsingsraad, Noordwes-Universiteit en GWK.
Publication: September 2016
Section: Focus on