Graderingsproses sloer steeds

Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinerin
Gepubliseer: 20 April 2023

578

Graan SA het oor die afgelope vyf jaar sy lede deurlopend op hoogte gehou rakende die grade­ringsveranderingsproses vir mielies. Na baie gesprekke en navorsing het die bedryf in 2021 konsensus bereik en ’n gesamentlike aansoek vir ’n verandering in die gradering by die owerhede ingedien.

Vir Graan SA was dit belangrik dat die graderingsisteem so eenvoudig as moontlik is en ook dat grys areas verwyder word. Daar was verskeie gesprekke, navorsing is gedoen en die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) het bevind dat gekleurde en waterbe­skadigde (watergevlekte) pit­te nie ’n impak op kwaliteit het nie. Daar is ook opnuut gekyk na die definisie van rypbeskadigde pitte en die definisie is hersien.

Die beleidsproses was nie betyds vir die nuwe bemar­kingseisoen in 2022 nie. Daar is dus, soos gebruiklik, aansoek gedoen vir ’n bedryfs­wye dispensasie om sodoende ver­anderinge betyds te implementeer.

Met die publisering van die dispensasie voor Mei 2022, het verskeie rolspelers aan die verbruikerskant van die waardeketting teen die konsensus besluit en die owerhede gevra om die dispensasie te onttrek. Dit was ’n groot teleurstelling vir produsente aangesien baie tyd en werk ingegaan het om konsensus te bereik en daar toe op die laaste minuut daarteen besluit is.

Konsensus bly ontbreek
Intussen het die bedryf weer eens konsensus probeer kry deur die nuwe bekommernisse wat sommige rolspelers geopper het, te hanteer. Hierdie proses het doodgeloop: Produsente was van mening dat daar geen wetenskaplike bewyse vir die bekommernisse bestaan het nie, dat dit slegs spekulasie was en dat die graderings­proses sy normale roete moes volg met elke rolspeler wat aan die owerhede kommentaar vir oorweging kan lewer.

Na afloop van die indiening en evaluering van kommentaar, het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) op 17 Januarie 2023 ’n vergadering belê en weer gepoog om konsensus te bereik. Dit het weer eens nie geslaag nie en die regering kon dus nie die graderingsverandering verder oorweeg nie.

Die Nasionale Meulenaarskamer (NCM), die Vereni­ging van Dierevoedingvervaardigers (AFMA) asook sekere onafhanklike meulenaars het dit sterk teengestaan. Die owerhede kon nie die aansoek goedkeur nie omdat die bedryf (Mielie­forum) nie meer hul eie aansoek ondersteun nie, weens die feit dat daar nie meer konsensus is nie. Die ower­hede se terugvoer het behels dat die bedryf weer konsensus kan probeer bereik of dat enige rolspeler in sy persoonlike hoeda­nigheid ’n aansoek vir oorweging kan indien.

Die pad vorentoe
Graan SA is van mening dat produsente deur die huidige sisteem benadeel word en dat daar genoegsame onafhanklike inligting is om die proses te laat voortgaan. Die afgelope jaar se besprekings en voorleggings deur wetenskaplikes het ook getoon dat daar geen wetenskaplike bewyse is dat die graderingsveranderinge voedselveiligheid negatief sal beïnvloed nie.

Dus het Graan SA besluit om voort te gaan en ’n aansoek vir die verandering in gradering soos ooreengekom by DALRRD in te dien. As enige onafhanklike wetenskaplike bewyse in ’n Suid-Afrikaanse konteks toon dat voedselveiligheid beïnvloed word, sal Graan SA dit soos gebruiklik verantwoordelik hanteer.