June 2016
PIET SNYMAN en THERESA SIEBERT, LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese
Definisies
Prosessering
Die “proses” is die “intelligente” aksie wat plaasvind om rou produkte/materiaal te verander na bruikbare eindprodukte. Prosessering word omskryf as logiese opeenvolgende aktiwiteite wat vervat word in prosesvloeidiagramme. ‘n Prosesvloeidiagram gee dus aanleiding tot die ontwerp van die prosestoerusting benodig, die ontwerp van die fabriekuitleg, asook die ont werp van die infrastruktuur (onder andere elektrisiteitsvoorsiening, watertoevoer en afvalverwydering. Rou produkte/-materiaal word beskou as die belangrikste deel van alle prosesinsette. Water, elektrisiteit, arbeid en kapitaal is ondersteunende prosesinsette. Die eindproduk moet in so ‘n mate verwerk en geberg word dat dit aanvaarbaar is vir die eindverbruiker. Byprodukte en afvalmateriaal kan uit prosesse herwin word en as bruikbare produkte aan kliënte beskikbaar gestel word.
Voedselprosessering
Dit konsentreer slegs op die prosessering van landbouprodukte (byvoorbeeld koring) na voedsel (in hierdie geval brood vir menslike gebruik). Voedsel word geproduseer vanaf vier hoofbronne naamlik diere, pluimvee, vis en plante (insluitend swamme soos sampioene en truffels as voorbeelde). Deur gebruik te maak van prosessering word meer komplekse voedsel vanaf hierdie vier bronne geproduseer. Die meeste voedselprodukte beskikbaar aan kliënte word vooraf geprosesseer, byvoorbeeld deur produkte te was voor verpakking. Alle vorms van prosessering het ‘n effek op die rou materiaal en kan die kleur, smaak, tekstuur, voorkoms, aroma, asook die voedingswaarde van die finale produk verander. Primere voedselprosessering is die eenvoudigste vorm van prosessering en sluit onder andere in die was, skil, opkap, veroudering, slag, pers, afdop, skoonmaak van vis en die fynmaal van koring. Sekondere voedselprosessering behels die verandering van primere geprosesseerde produkte na meer komplekse voedselprodukte deur middel van vermenging, vorming/gieting, verhulling/verdeling, pers, belugting en verhitting/verkoeling.
Agro-prosessering
Agro-prosessering is die versamelwoord van rou landbouprodukte wat na eindprodukte geprosesseer word. Hierdie produkte is nie noodwendig voedsel vir menslike gebruik nie. Voedselprosessering is dus ‘n onderafdeling van agro-prosessering.
Agro-prosessering (wat insluit voedselverwerking) is ‘n kombinasie van tegno-ekonomiese aktiwiteite wat plaasvind ten einde landbouprodukte te verwerk na voedsel, veevoer, vesel, brandstof en industriële produkte.
Voedselprosessering/-verwerking het betrekking op voedsel as ‘n eindproduk wat slegs geskik is vir menslike gebruik. Beeshuid/-vel (landboukundige rou produk) kan byvoorbeeld verwerk word na leerbekleedsel as ‘n industriële produk in die motorbedryf. Agro-prosessering in Suid-Afrika is nie ‘n modewoord nie; die aanwending en implementering daarvan word aanvaar as ‘n belangrike middel tot volhoubare groei in die landbousektor.
Die volgende stappe moet gevolg word in die ontwerp en implementering van ‘n agro-prosesseringseenheid:
Omvang van werk
Bepaal die tegno-ekonomiese haalbaarheid in terme van die gekose landboukundige rou produk, die verwerkingsproses en die verwagte eindproduk(te).
Ekonomie van skaal
Bepaal die kapasiteit van die prosesseringseenheid teenoor die ekonomiese haalbaarheid daarvan. So byvoorbeeld sal ‘n kleinskaalse of mediumskaalse agro-prosesseringseenheid moontlik dieselfde oorhoofse koste hê vergeleke met ‘n grootskaalse prosesse ringseenheid, maar sal nie staat wees om dieselfde winste te genereer nie.
Massabalans
Voer ‘n massabalansoefening uit wat die kapasiteit van die agro-prosesseringseenheid sal bepaal. Die kapasiteit/grootte van die eenheid word bepaal deur die verlangde produkdeurvoer en die bedryfsfilosofie (stop/aanskakel of kontinue bedryfsproses), by voorbeeld as daar ‘n 10 800 ton produk deurvoer per jaar (342 dae) is, sal die verlangde kapasiteit 31,4 ton per dag wees. Met ‘n 24 uur werksdag word ‘n 1,3 ton per uur proseseenheid benodig, terwyl daar vir ‘n agt uur werksdag ‘n 3,93 ton per uur proseseenheid benodig word.
Die netto effek daarvan is dat daar ‘n drie keer groter proseseenheid benodig word vir die agt uur-werksdag, gemeet teen die 24 uurwerksdag.
Prosesvloeidiagram
Met inligting verkry vanuit die omvang van werk en die massabalans, word ‘n prosesvloeidiagram (Figuur 1) opgestel.
Detailontwerp
Met behulp van die prosesvloeidiagram word detail spesifikasies en ontwerpe van prosestoerusting (insluitend interkonneksies en pype), asook benodigde utiliteite opgestel. Insgelyks word afvalstrome en geassosieerde hanterings gedefinieer vir omgewingsdoeleindes.
Energiebalans
Dit moet uitgevoer word ten einde die waterverbruik en elektrisiteitsverbruik van alle toerusting, fasiliteite en infrastruktuur te bepaal.
Hierdie stap sluit in die ontwerp van die geboue wat die prosestoerusting sal huisves, asook die ontwerp vir stoorfasiliteite.
Kosteberamings in terme van kapitaaluitleg
Dit moet bereken word vanuit ontwerps- en spesifikasie-inligting.
Bedryfskapitaal
Bedryfskapitaal word bereken na aanleiding van arbeidkostes, energie kostes (water en elektrisiteit), aankoopkostes vir die rou produk, vervoerkostes, stoorkostes en administratiewe kostes.
Slotsom
Die gevolgtrekking wat ‘n persoon hieruit kan maak, is dat die meeste van ons onwetend reeds besig is met agro-prosessering, byvoorbeeld die bak van brood in ons eie kombuise.
Meer inligting in die vorm van handleidings is beskikbaar by die LNR-Instituut vir Land bou- Ingenieurswese. Die kontak persoon is Elmarie Stoltz by 012 842 4017 of stoltze@arc.agric.za.
Publication: June 2016
Section: Focus on