July 2015
ANDRÉ LABUSCHAGNE en KOBUS VAN ZYL, landboukundiges: Omnia Kunsmis
Met die onlangse droogtes en swakker opbrengste asook die koste-knyptang wat al hoe harder knyp, is produsente gedwing om elke dag meer effektief te wees en te verseker dat alles wat op die plaas gedoen word, ‘n verskil maak.
Omdat insette soos diesel en bemesting van die groter inskrywings in die inkomstestaat (uitgawes) is, word daar gewoonlik eerste hierna gekyk, maar dit is juis hier waar ‘n groot risiko lê om penny wise, pound foolish te wees. Die belangrikheid van die regte bewerkings en bemesting vir elke plaas kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Om te verseker dat elke korrel of druppel kunsmis wat op die plaas gebruik word, omgesit word in graan, moet die basiese beginsels verstaan word om sodoende optimaal te produseer. Behalwe vir elke voedingselement se eie warboel van reaksies in verskillende gronde, metodes van opname en die verskillende voedingsbronne, moet daar ook verstaan word wat die gewas se behoeftes is, sodat dit aangespreek word.
Hetsy ‘n plant in ‘n hidroponiese sisteem is en of dit in vrugbare grond staan, die plant se behoefte is op die einde van die dag dít wat opbrengs en kwaliteit bepaal. Daarom is dit belangrik om die spesifieke gronde/area te ken, sodat die grond reg gevoed kan word, ten einde te verseker dat daar aan die gewas se behoeftes voldoen word.
Net om dinge nog meer ingewikkeld te maak, is daar ook relatiewe groot verskille tussen kultivars, wat tot gevolg het dat ‘n produsent se voetspore in die lande moet wees om te verseker dat die gewasse optimaal bestuur word.
‘n Mielieplant ontwikkel aanvanklik redelik stadig en dit neem ongeveer 27 dae tot 35 dae na-opkoms tot by die vyfblaar-stadium (V5). Hierna neem die groeitempo normaalweg drasties toe en blom is rondom 55 dae tot 85 dae na-opkoms. Hitte-eenhede (680 tot 730 benodig tot 50% blom) en konstante vogvoorsiening speel ‘n groot rol in die groeitempo van mielies.
Die belangrikste groeistadiums van ‘n mielieplant kan in vier fases opgedeel word:
- Opkoms tot V5
- V5 tot pluim
- Pluim tot hardedeeg
- Hardedeeg tot fisiologies ryp
In die eerste fase vind daar geweldig baie selverdeling en selverlenging plaas in die bogrondse groei asook in die wortels. Tydens die vyfblaar-stadium word die mielie se oespotensiaal bepaal en daarom is dit belangrik dat hier nie voedingstekorte moet voorkom nie.
Foto 1 dui die vyfblaar-stadium van ‘n mielieplant aan – dit is wanneer daar vyf blare ten volle ontwikkel is. Die blaarskede van die vyfde blaar vorm dan ‘n “kragie” om die stam.
Vanaf V5 tot by pluim, styg die groeitempo nog meer en bereik ‘n piek sewe tot tien weke na-opkoms. Die finale opbrengspotensiaal word bepaal by V12 en hier is ‘n mielie baie gevoelig vir voedings- en vogtekorte. Die twee weke voor- en na-blom is die mees kritieke tyd in die mielieplant se ontwikkeling ten opsigte van waterstremming.
Van pluim tot hardedeeg word die meeste van die fotosintaat na die kop (swelgpunt) vervoer en begin die tempo van voedingsopname afneem. Hierna word baie min voedingstowwe deur die plant opgeneem. Droogte en/of koue tydens hierdie groeistadium kan ‘n laer pitgewig tot gevolg hê. Die opname van voedingstowwe (N, P en K) kan grafies in Grafiek 1 gesien word.
Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat daar tydens die eerste vier weke (plant tot V5), relatief min voedingsopname plaasvind. Die tempo van opname styg dan drasties tot ongeveer tien tot twaalf weke na-plant, wanneer bestuiwing plaasvind.
Die gevaar van ‘n grafiek soos hierdie, is dat dit slegs die plant se opname illustreer. Voedingstofvaslegging, metode van opname, bron van voedingstowwe asook ander grondreaksies word nie in ag geneem nie. Die geheim is dus om alles wat moontlik ‘n invloed op die opname van voeding kan hê, te oorweeg en voorsiening hiervoor te maak in ‘n bemestingsprogram.
Omdat ‘n plant nie kan “sien” watter voedingstowwe later toegedien gaan word nie, sal dit slegs reageer op die stand van sake op ‘n gegewe stadium wanneer opbrengspotensiaal vasgelê word, soos byvoorbeeld by V5 en V12.
Dit is van kardinale belang om weg te spring met genoeg asook die regte vorm van bemesting. Tydens veral die saailingstadium is die opname van nitraat-N baie belangrik (tydens hierdie stadium word tot 75% van N (stikstof) as nitraat opgeneem). Die ander realiteit is dat bemesting wat toegedien word, nie onmiddellik beskikbaar is nie. Daarom moet reeds vroegtydig voorsiening gemaak word vir die styging in opnametempo.
Soos reeds genoem is, moet in gedagte gehou word dat die metode van opname asook die grondchemie en ander grondreaksies, soos fosfaatvasleggings, kan plaasvind. Fosfaat (P) word hoofsaaklik opgeneem deur diffusie, wat die belangrikheid van P in ‘n band naby die saad beklemtoon.
Indien alle P ver onder die pit geplaas word, kan daar dus ‘n tydelike tekort aan P ontstaan. Mielieplante se wortelgroei neem drasties af by grondtemperature laer as 15°C. Dit kan veroorsaak dat P-opname nie voldoende is nie, indien die kunsmis te diep of ver weg geplaas is.
As gevolg van die bogenoemde redes is dit dus belangrik om met ‘n gebalanseerde plantermengsel te plant wat voldoende voedingstowwe bevat om die fondament vir optimale opbrengs te lê. Foto 2 dui duidelik die effek en bydrae van ‘n gebalanseerde plantermengsel aan.
Die swakker ry in die foto het geen plantmengsel gekry nie (dieselfde topbemesting is toegedien).
Omdat die potensiaal reeds by V5 vasgelê word, moet ‘n gebalanseerde voeding van makro-elemente (N, P en K), sekondêre elemente (S, Ca en Mg) en mikro-elemente (Cu, Fe, Mn, Zn, B en Mo) beskikbaar wees vir opname. Hulpmiddels, soos grondmonsters, blaarmonsters, OmniSap®-monsters en Minolta SPAD 502™-lesings kan gebruik word om te verseker dat daar nie tekorte is op hierdie stadium nie.
As gevolg van hul lae inherente vrugbaarheid en lae katioon uit ruilkapasiteit (KUK), kan sandgronde (Foto 3) nie altyd voor sien aan die geweldige tempo van voedingstowwe wat deur die mielieplant benodig word nie. Hierdie is een van die redes waarom topbemesting (en voorplantbemesting) baie goeie resultate tot gevolg het.
In Tabel 1 word mielies se opname (kg/ha) van NPK per dag per groei stadium aangetoon.
Om aan hierdie vraag na voedingstowwe te voldoen, kan voorplantbemesting of topbemesting toegedien word met hoofsaaklik N, K en swael (S). Topbemesting vind gewoonlik in hierdie stadium plaas, maar dit is ook die stadium wanneer voorplantbemesting (pre-plant) deur die wortels bereik word. Omrede die voorplantbemesting reeds in dieper grond lê, is die risiko minder dat dit in droë grond sal wees en dus nie beskikbaar sal wees vir opname nie.
Ekstra P, veral as voorplantbemesting, kan ook die risiko verlaag deurdat dit in natter grond geplaas word. Hou egter in gedagte dat grondtemperature op 300 mm diep aansienlik laer kan wees as op 100 mm, wat dus die opname van P sal beïnvloed.
Die volgende moet ook in gedagte gehou word:
- Stikstof (N) wat vooraf toegedien word, is blootgestel aan logings gevare en die versuring van ondergronde raak ‘n wesenlike probleem waar N in groot hoeveelhede voorplant toegedien word.
- Daar moet voorsiening gemaak word vir N-reaksies wanneer ureum of ammoniumbronne gebruik word. Wanneer dit byvoorbeeld as topbemesting toegedien word, moet voorsiening gemaak word vir omskakelings wat moet plaasvind voordat alle N plantbeskikbaar is. Omgewingstoestande, soos nat gronde en lae grondtemperature, kan hier ‘n beperkende faktor vir omskakeling wees.
- Wanneer P vooraf toegedien word, moet daar gekyk word na die bron van P asook N, omdat sekere reaksies kan plaasvind wat antagonisties is (byvoorbeeld ureum en DAP).
- Wanneer P as topbemesting toegedien word, moet die P-bron gekies word om potensiële vaslegging deur die grond te beperk.
- Kalium (K) as voorafbemesting is ook onderhewig aan loging, maar tot ‘n mindere mate as dit met N vergelyk word.
- Swael (S) tekorte kom meer algemeen voor; tekorte, veral in die vegetatiewe sowel as die reproduktiewe stadiums van die mielieplant se groeisiklus, kan opbrengs negatief beïnvloed.
Die finale bepaling van opbrengspotensiaal vind plaas tydens V12 (ongeveer sewe weke na-opkoms). Hier kan dieselfde hulpbronne soos reeds genoem, gebruik word om tekorte betyds te identifiseer en reg te stel.
Onder droëlandtoestande is dit bykans onmoontlik om hier regstellings op groot skaal te maak, behalwe met hoogloopspuite waarmee mikro-elemente toegedien kan word, of met die uitstrooi van kunsmis met ‘n vliegtuig. Onder besproeiing is dit egter heelwat makliker om gebruik te maak van vloeibare kunsmis deur die besproeiingsisteem.
Hoewel die navorsers Aldrich en Leng voedingsopnamekurwes reeds tussen 1965 en 1966 gepubliseer het, is die basiese beginsels steeds geldig. Ten spyte daarvan dat opbrengste verhoog het sedertdien, het die oesindeks (verhouding tussen graan en biomassa) verbeter (Echarte en Andrade, 2003 en 2004). Dit impliseer dat daar minder vegetatiewe groei plaasvind om dieselfde opbrengs te behaal. Die feit dat opbrengste en plantestand verhoog het oor tyd, veroorsaak dat daar outomaties vir hoër voedingstofonttrekking voorsiening gemaak word.
Daar blyk egter groot verskille te wees met nuwe kultivars, soos berig deur Ciampitti en Vyn in 2012 en 2013. Hierdie navorsers het gekyk na die verskille in opname tussen nuwe kultivars en onder meer gevind dat nuwe kultivars meer N opneem ná baardverskyning as ouer kultivars. Ander elemente, soos P, S, Zn en Fe het dieselfde tendense getoon. Die ander interessante bevinding was dat hoër plantestand die opname van mikro- en makro-elemente vroeër geskuif het.
Daar is genoeg hulpbronne beskikbaar om te verseker dat risiko beperk word en dat elke korrel of druppel kunsmis optimaal benut word. Praat met ‘n Omnia-landboukundige oor grondontledings vir voedingstatus, grondpotensiaal, P-vasleggingsindeks, grondgesondheid (OmniBio™), produksiefunksies vir elke area, blaarmonsters, OmniSap-analise en die verwerking van opbrengsdata om te verseker dat elke plaas sy volle potensiaal bereik.
Bronne
Ciampitti, Camberato, Scott & Vyn. 2013. Maize nutrient accumulation and partitioning in response to plant density and nitrogen rate: 1 Macronutrients.
Agronomy Journal, 105: 783 – 795.
Echarte, L., & Andrade, F.H. 2003. Harvest index stability of Argentinean maize hybrids released between 1965 and 1993. Field crops research, 82: 1 – 12.
Echarte, L., Andrade, F.H., Vega, C.R.C., & Tollenaar, M. 2004. Kernel number determination in Argentinean maize hybrids released between 1965 and 1993.
Crop Science, 44: 1 654 – 1 661.
Mengel, D. 1995. Roots, growth and nutrient uptake. Department of Agronomy publication #AGRY-95-08.
MVSA Handleiding, 2007.
Pannar – Ken die mielieplant, 2009.
Publication: July 2015
Section: Focus on