October 2016
JAN DU PREEZ, besturende direkteur: Institute of Livestock Technology en veterinêre spesialis in Volksgesondheid
Saamgevat
Ensoötiese beesleukose is tans een van die grootste – indien nie dié grootste uitdaging nie – van Suid-Afrika se melkbedryf. Indien daar nie drasties iets daaraan gedoen word om ensoötiese beesleukose te probeer voorkom of te beheer nie, sal dit nie baie jare neem voordat daar geen of uiters min melkplase en melkbeeste is wat negatief toets vir hierdie siekte.
Gesonde melkbeeste word elke dag van die jaar deur besmette draer-beeste met die beesleukemievirus besmet. Besmette beeste bly lewenslank besmet. Die gevolge van ensoötiese beesleukose is net negatief. Dit is ‘n virussiekte van beeste wat veroorsaak word deur ‘n retrovirus naamlik beesleukemievirus wat so te sê wêreldwyd voorkom.
Ander retrovirusse veroorsaak jaagsiekte by skape, besmetlike bloedarmoede by perde asook verworwe im- muniteitsgebreksindroom (MIV/vigs) by mense. Ensoötiese beesleukose word gekenmerk deur ‘n lang broeitydperk (van besmetting totdat simptome gesien word) van ongeveer drie jaar, wat uiteindelik gewasse tot gevolg het.
Hierdie siekte moet onderskei word van sporadiese bees- leukose, wat hoofsaaklik in jong beeste tussen die ouder- dom van vier maande tot twee jaar voorkom. Beeste kan op enige ouderdom met ensoötiese beesleukose besmet raak.
Die meeste besmettings by beeste veroorsaak nie sigbare siektetekens nie, maar ongeveer 20% tot 30% van die besmette beeste ouer as drie jaar ontwikkel ‘n verhoogde limfosiet (spesifieke witbloedsel)-telling en ‘n kleiner persentasie (2% – 5% of meer) beeste ontwikkel gewasse en hulle vrek uiteindelik.
Die siekte onderdruk besmette beeste se immuniteit en dit benadeel hul prestasie, byvoorbeeld ‘n verminderde melkproduksie. Besmette beeste se besmetting duur lewenslank en hierdie beeste dien as ‘n bron van besmet- ting vir gesonde beeste.
Tans is daar geen behandeling vir besmette of siek diere beskikbaar nie. Daar is ook geen entstof vir voorkoming van ensoötiese beesleukose beskikbaar nie. Indien melk- produsente melkbeeste aankoop, moet hulle verseker toesien dat daardie beeste negatief getoets is vir ensoötiese beesleukose – net soos hulle ook negatief vir brusellose en tuberkulose moet wees.
Ensoötiese beesleukose is nie ‘n staatsbeheerde of aanmeldbare siekte in Suid-Afrika onder die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) nie. Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) het ensoötiese beesleukose gelys as ‘n aanmeldbare siekte – met spesifieke gevare en risiko’s verbonde aan die siekte.
Die siekte is belangrik in die internasionale handel van beeste. Geen beeste wat positief toets vir ensoötiese beesleukose – al lyk hulle gesond – kan uitgevoer word na ander lande nie. Die semen van bulle wat positief toets, kan ook nie uitgevoer word nie.
Die voorkoms van die siekte by melkbeeste in Suid-Afrika is baie hoër as by vleisbeeste. Omdat ensoötiese beesleukose nie ‘n aanmeldbare of staatsbeheerde siekte is nie, is daar baie min data beskikbaar oor die siekte. Die meeste beeste wat ensoötiese beesleukosebesmetting het, wys geen siektesimptome nie.
Daar word algemeen aanvaar dat hierdie beeste niks makeer nie, alhoewel hulle besmet is en lewenslank ‘n bron van besmetting vir gesonde beeste is. Gesonde beeste word so te sê elke dag van die jaar met die beesleukemievirus besmet.
Die waarde van die nasionale melkbeeskudde verminder weens ensoötiese beesleukose. Omdat koeie wat brusellose het nie siek lyk nie – behalwe dat aborsies waargeneem word – is dit ook een van die baie redes waarom brusellose nie goed onder beheer is nie.
Baie produsente koop hul probleem, want daar word nie negatiefgetoetste koeie (veral vir brusellose en ensoötiese beesleukose) gekoop nie. As gevolg van ensoötiese beesleukose beloop ekonomiese verliese in sekere lande wêreldwyd etlike miljoene rande weens verlaagde melkproduksie in besmette melkkuddes (± 3%), verminderde uitvoer van beeste en die uitslag van besmette beeste.
Die voorkoms van beesleukemievirusbesmetting in sommige beeskuddes wissel van 1% tot 100%. In erge besmette melkbees kuddes kan die vrektes by ouer melkkoeie tot 5% en meer per jaar wees. In enkele melkbeeskuddes het al tussen 25% en 50% van die diere aan ensoötiese beesleukose gevrek.
Alle besmette beeste ontwikkel teenliggame en toets positief, maar net 20% tot 30% ontwikkel ‘n blywende verhoogde limfosiettelling en van hierdie beeste ontwikkel net 10% tot 20% gewasse. Uit 100 beeste wat besmet is, ontwikkel dus ongeveer 2% tot 5% of meer uiteindelik gewasse.
Hoe vind besmetting plaas?
Die retrovirus is sterk geassosieer met die limfosiete van die witbloedselle. Die direkte uitruil van bloedselle tussen die besmette dier en die gesonde onbesmette diere veroorsaak besmetting.
Die besmetting word direk deur die besmette na die onbesmette bees oorgedra deur bloed-gekontamineerde naalde, plastiese handskoene, gedurende dragtigheidsondersoeke, met oortange, ont horingapparaat asook chirurgiese instrumente.
Met bloedoortapping en met tuberkulientoetse vir tuberkulose is besmetting ook moontlik. Minimale hoeveelhede bloed (een honderdste van ‘n bloeddruppel – wat nie met die oog waargeneem kan word nie) is nodig om die besmetting oor te dra.
Meganies kan beesleukemievirus deur die bloedsuiende steekvlieg Tabanus fuscicostatus oorgedra word. Daar is nog nie bewys dat bosluise (byvoorbeeld hartwaterbosluis, Amblyomma hebraeum) die virus meganies oordra nie.
Oordrag van die virus deur melk en biesmelk na kalwers is bewys. Tans lyk dit nie asof liggaamsvloeistof of uitskeidings soos speeksel en mis ‘n rol in besmetting speel nie. Die virus is ook nog nie tot onlangs geïsoleer in semen of embrio’s nie. Kongenitale besmetting (besmetting van kalf in baarmoeder) kom in 4% tot 8% van besmette koeie se kalwers voor. Hierdie kalwers word dus met die besmetting gebore.
Navorsing (Beuhring et al., 2015) het bewys dat beesleukemie virusbesmetting ‘n assosiasie of verbintenis met borskanker in die mens het. Daar moet nog net bewys word of die mens besmet is voor of na borskanker voorgekom het en hoe dit plaasgevind het. Die virus kan moontlik deur die inname van ongepasteuriseerde melk, halfgaar vleis of deur mense wat reeds besmet is, oorgedra word.
Siektesimptome
Nadat die dier met beesleukemievirus besmet is, ontwikkel daar binne twee tot drie weke teenliggame. Hierdie diere se bloed sal positief vir ensoötiese beesleukose toets. Sigbare simptome in besmette diere onstaan gewoonlik eers na drie jaar.
Drie tipes simptome of omstandighede word waargeneem:
- Besmette beeste ontwikkel teenliggame (toets positief vir ensoötiese beesleukose) en die simptome is onopvallend in ‘n sekere persentasie beeste. Hierdie beeste bly lewenslank besmet, maar ontwikkel geen sigbare letsels nie.
- 30% en meer van die besmette diere ontwikkel ‘n blywende limfositose (oormaat van limfosiete – wat ‘n sekere tipe witbloedsel is). Hierdie vorm van besmetting gee nie tipiese simptome van die siekte nie. Sommige koeie bly vir hul produksieleeftyd in die voorkliniese siektestadium (geen sigbare simptome nie) met blykbaar minimale effek op prestasie. ‘n Groot persentasie van die diere word uitgeslag omdat hulle swak presteer weens ‘n onderdrukte immuunstatus. Diere met ‘n onderdrukte immuniteit het ‘n verhoogde voorkoms van sekondêre besmettings, verhoogde somatiese seltellings, afname in produktiwiteit en reproduksie en hul lewensverwagting is korter.
- ‘n Klein persentasie (0,1% tot 10%) van die beesleukemievirusbesmette diere ontwikkel gewasse as hulle vier tot agt jaar oud is. Hierdie koeie is meestal in hul derde tot sesde laktasie. 5% tot 10% van die diere wat sigbaar siek is, vrek skielik. Diere met gewasse het gewoonlik die volgende simptome: Vreet nie of vreet sleg, vermaer, hulle onderpresteer en hul melkproduksie daal. Die vergroting van een of meer limfknope is van die eerste tekens wat gesien word. Wydverspreide aantasting van limfknope en limfoïede weefsel kan voorkom en gewasse kan in die beenmurg, milt, longe, lewer en baarmoeder ontwikkel. Meer as 50% van siek diere het bloedarmoede. Kankerselle penetreer die beenmurg en onderdruk rooibloedselvorming. In die terminale stadium van die siekte ontwikkel die meeste diere leukemie (oormatige abnormale witbloedselle). Ander sigbare (kliniese) simptome wat ontwikkel, is verlamming in die agterlyf, hartversaking (skielike vrekte), moeilike asemhaling, bloed in die mis en oë wat uitpeul. Sodanige aangetaste diere met bogemelde simptome vrek gewoonlik binne weke of maande as gevolg van uithongering, sekondêre bakteriese besmetting, bloedarmoede en vitale organe wat ingee.
Diagnose
Die siekte kan soms ooreenkomstig die simptome deur ‘n veearts gediagnoseer word. Met rektale ondersoek kan ensoötiese beesleukose ook gediagnoseer word – met die vergroting van limfknope as die urogenitale sisteem aangetas is. Indien ‘n kliniese diagnose gemaak word, moet dit met histologie en serologie (ELISA- of PCRtoetse) bevestig word. Kalwers onder ses maande kan ‘n valse positiewe toetsuitslag gee.
Voorkoming en beheer
Belangrike redes waarom ensoötiese beesleukose voorkom en beheer moet word, is omdat dit erge ekonomiese verliese tot gevolg het, die diere onderpresteer en hulle ‘n lewenslange bron van besmetting vir gesonde diere is.
Lande wat vry van ensoötiese beesleukose is, laat nie toe dat beeste vanaf lande waar die besmetting voorkom, ingevoer word nie. In verskeie lande in Europa, soos Denemarke en Swede, is ensoötiese beesleukose uitgeroei. Dit is gedoen deur alle beeste te toets en dan die positiewe diere uit te slag. Die staat vergoed die produsent wie se beeste geslag is.
Waar beeskuddes positief toets, moet daar met tussenposes van drie tot ses maande weer getoets word en positiewe diere moet geslag word totdat die kudde negatief toets. Indien ‘n kudde elke ses maande vir twee jaar lank getoets word en al die toetse is negatief, word die kudde vry van ensoötiese beesleukose verklaar.
Dit is belangrik dat die besmette kudde in afsondering en kwarantyn moet wees met die “toets en uitslag”-metode van beheer. Kalwers moet nie melk wat met bloed gekontamineer is, ontvang nie. Elke kalf moet apart aangehou en grootgemaak word. Met hantering van kalwers moet die jongste klawers altyd eerste hanteer word.
Daar is nog nie ‘n entstof beskikbaar wat ensoötiese beesleukose kan voorkom nie. Tans is daar ook geen doeltreffende behandeling vir diere wat ensoötiese beesleukose het nie. Met die aankoop van diere by vendusies of beesprodusente op plase moet daar verseker word dat die diere negatief getoets het vir ensoötiese beesleukose.
Verseker dat alle tersaaklike biosekuriteitmaatreëls met betrekking tot ensoötiese beesleukose nagekom word. Na besmetting met ensoötiese beesleukemievirus toets die beeste eers na twee weke of langer positief vir teenliggame.
Indien negatief-getoetste beeste van ‘n positiewe kudde gekoop word, moet die aangekoopte diere in kwarantyn gehou word en ‘n tweede keer – verkieslik na drie of ses weke – vir ensoötiese beesleukose getoets word. Indien alle beeste die tweede keer vir ensoötiese beesleukose negatief toets, is dit veilig om hulle na jou plaas te neem.
Raadpleeg jou veearts aangaande ensoötiese beesleukose se omvang, impak en die uitwerking daarvan op melkbeeskuddes se welvaart en prestasie en/of as diere ingekoop word. Die meeste melkbeeste in Suid-Afrika word op weidings aangehou en hul lewensduur is langer as beeste op die nulbeweidingstelsels. Die fisiese uitwerking van die siekte kom eers na drie jaar voor en dit is moontlik dat melkbeeste op weidings erger geraak sal word in hul produksie en voorkoms.
Vir meer inligting hieroor, kontak dr Jan du Preez by 083 656 3638 of drjanh.dupreez@gmail.com.
Publication: October 2016
Section: Focus on