Lupiene: Heffing bied geleentheid vir nuwe kultivars

Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2021

1131

10 Desember 2021 – Graan SA het in 2020 ’n werkgroep gevorm om alternatiewe gewasse vir produsente in die Wes-Kaap te ontwikkel. Dit behels gewasse wat daar aard en waarvoor daar ’n mark is of behoort te wees.

Hier speel die Wes-Kaapse Departement van Landbou ’n groot rol om alternatiewe gewasse te toets vir hul agronomiese aanpasbaarheid en prestasie in verskillende areas van die Wes-Kaap.

’n Gewas wat goed in die provinsie aard, is lupiene. Daar is ook ’n groot potensiële mark daarvoor omdat Suid-Afrika én veral die Wes-Kaap ’n tekort aan plantaardige proteïen het. Vir lupiene om volhoubaar geproduseer te word en te kompeteer met ander gewasse in die provinsie, is die nuutste kultivars van oor die wêreld egter nodig.

Om dit te bewerkstellig, het produsenteleiers en wintergraanprodusente besluit om ’n teling-en-tegnologieheffing op lupiene in te stel.

Na konsultasie met produsente, saadmaatskappye en die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), het Graan SA vroeër in 2021 aansoek gedoen vir ’n teling-en-tegnologieheffing op die gewas. Die aansoek is deur die Nasionale Landboubemarkings­raad en die minister goedgekeur en ’n bedrag van R35/ton is vanaf 1 Oktober 2021 betaalbaar om saadmaatskappye te vergoed vir hul markaandeel in die lupiensaadmark. Die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) sal soos met die teling-en-tegnologieheffings op ander gewasse ook hierdie heffing administreer.

Graan SA is vol vertroue dat hierdie stap wat produsente geneem het, die beskikbaarheid van verbeterde kultivars sal uitbrei.